Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Warren Buffett: ‘Firma sal my dood oorleef’

Warren Buffett het aandeelhouers vanjaar verseker die maatskappy wat hy oor vyf dekades opgebou het, sal sy vertrek – en selfs sy dood – oorleef.

Die 89-jarige magnaat skryf in sy jaarlikse brief aan aandeelhouers sy enorme belang in Berkshire gaan nie ná sy dood eensklaps verkoop word (en dus die aandeelprys afdruk) nie. Hy raam dat dit 12 tot 15 jaar gaan wees voordat dit verkoop word.

Warren Buffet Foto: Scott Eells, Bloomberg

Hy stel beleggers gerus oor die toekoms van die maatskappy wanneer dit eendag nie meer deur hom en sy sakevennoot Charlie Munger bestuur word nie. Munger word vanjaar 96 jaar oud.

Buffett sê sy vertroue spruit uit Berkshire se topbestuurders, die direkteure wat as “bewakers” van die kultuur en struktuur van sy uitgebreide konglomeraat sal dien.

“Berkshire-aandeelhouers hoef nie bekommerd te wees nie: Jou maatskappy is 100% voorbereid op ons vertrek.”

Hy wag egter tot die laaste bladsy van sy jaarlikse brief aan aandeelhouers om ’n groot verandering aan te kondig: Voortaan sal aandeelhouers meer hoor van Ajit Jain en Greg Abel.

Die twee, wat beskou word as die voorste aanspraakmakers om die 89-jarige uitvoerende hoof en voorsitter van Berkshire Hathaway te vervang, het tot dusver op die agtergrond gebly.

Maar op verlede jaar se jaarvergadering het Jain en Abel van aandeelhouers se vrae beantwoord en op die 2020-jaarvergadering op 2 Mei in Omaha, Nebraska, sal dié blootstelling selfs meer amptelik geskied.

“Ek het voorstelle van aandeelhouers, die media en direkteure gehad dat Ajit Jain en Greg Abel – ons twee belangrikste bedryfsbestuurders – meer blootstelling op die vergadering kry; dit maak baie sin. Hulle is uitstaande individue, sowel as bestuurders as mense, en julle behoort meer van hulle te hoor.”

Berkshire Hathaway besit ’n enorme verskeidenheid ondernemings, van energiemaatskappye tot die kitskosgroep Dairy Queen, en aandele in reuse soos Coca-Cola en Apple. Die afgelope jare was Buffett se grootste probleem waarin om Berkshire se groeiende pot geld te belê.

In 2019 het Buffett nie ’n enkele groot transaksie beklink nie en die maatskappy se kontant was teen die einde van die jaar $128 miljard.

“Die geleenthede vir groot verkrygings wat die eienskappe het wat ons vereis, is skaars. Dit gebeur baie meer gereeld dat ’n wispelturige aandelebeurs ons die geleentheid gee om groot maar niebeherende belange te koop in genoteerde maatskappye wat aan ons standaarde voldoen,” sê Buffett.

Hy prys Jain in sy brief vir die 2012-transaksie toe Guard Insurance bekom is. Die maatskappy se premies het sedertdien met 279% gestyg.

Jain is 68 jaar oud. Buffett skryf: “Ek weet nie wat sy beste transaksie was nie. Ek weet wat my beste transaksie was: Dat ek hom aangestel het.”

Abel (57) het die energieryk opgebou wat nou bedrywighede in verskeie Amerikaanse state en in Brittanje het. Abel word as ’n “uitstaande” en “buitengewone” bestuurder beskryf.

Buffett sukkel om Berkshire se aandeelprys te laat aanhou styg op die manier wat hom beroemd gemaak het. Berkshire se aandeelprys het verlede jaar die swakste in meer as ’n dekade presteer teenoor die Standard & Poor’s 500-indeks.

Berkshire het $2,2 miljard bestee om aandele terug te koop en Buffett het beleggers selfs gevra om Berkshire te kontak indien hulle hul aandele wil verkoop. – Bloomberg, verwerk

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.