Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Wat van buitelanders wat nou in SA is?
Die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika sê buitelanders wat nog in die land is, sal nie te midde van die staat van inperking na hul land van herkoms kan terugkeer nie. Lufthansa het egter nog ’n internasionale vlug wat vir Vrydagmiddag geskeduleer is van die O.R. Tambo-lughawe na Frankfurt in Duitsland. Foto: Getty Images

Suid-Afrikaanse lughawens sluit Donderdag om middernag tesame met talle ander ondernemings – maar wat van buitelanders wat in die land gestrand is?

Sam Monareng, woordvoerder van die departement van vervoer, kon nie Donderdag ondubbelsinnig aan Netwerk24 bevestig dat dit beteken buitelanders wat tans in die land is, sal hier moet bly te midde van die staat van inperking nie.

Volgens die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (Acsa) sal geen passasiers uit die land kan vlieg nie.

Refentse Shinners, uitvoerende hoof van korporatiewe sake van Acsa, het Donderdag aan Netwerk24 bevestig dat geen vlug, plaaslik of internasionaal, van enige lughawe wat deur Acsa bestuur word, sal kan opstyg of land nie.

“Net vragvliegtuie met noodsaaklike vrag sal mag vlieg,” sê Shinners.

By navraag het Lunga Ngqengelele, woordvoerder van die departement van internasionale betrekkinge en samewerking, egter Donderdag aan Netwerk24 gesê dié departement “hoop nog” dat buitelanders wat hier gestrand is, spesiale toestemming sal kan kry om die land te verlaat indien daar vlugte beskikbaar is.

Dis nie net die departement van internasionale betrekkinge en samewerking wat verward is nie.

Die lugdiens Lufthansa sê in sy jongste kennisgewing oor die invloed van die Covid-19-uitbreking op sy bedrywighede dat hy nog gaan probeer om passasiers wat dringend uit Suid-Afrika wil of moet kom, te help.

Volgens sy webwerf is ’n spesiale vlug (LH 573) van die O.R. Tambo-lughawe aan die Oos-Rand na Frankfurt, Duitsland, vir Vrydagaand om 19:40 geskeduleer – dus nadat die staat van inperking Donderdag om middernag afskop.

Shinners sê hulle sal met Lufthansa in kontak kom, want die vliegtuig sal nie mag opstyg nie.

British Airways is ook verward.

Die lugdiens in Brittanje het Donderdag by navraag aan Netwerk24 gesê hy probeer nog onderhandel om vlugte te skeduleer vir passasiers wat uit Suid-Afrika wil kom.

Betty Maloka, woordvoerder van Acsa, sê egter ook soos Acsa dit verstaan, sal absoluut geen uitsonderings gemaak word nie – net vragvliegtuie sal mag vlieg.

Fikile Mbalula, minister van vervoer, het Woensdagaand op ’n mediakonferensie oor die staat van inperking gesê mense sal daartydens net toegelaat word om te beweeg “as dit absoluut noodsaaklik is”.

Fox News berig dat talle Amerikaners met die hulp van hul ambassade en die Suid-Afrikaanse regering die afgelope paar dae gerepatrieer is nadat spesiale huurvlugte vir hulle gereël is.

Nuwe regulasies ten opsigte van die ramptoestand en die staat van inperking stel ook streng perke op enige buitelanders wat nie betyds uit die land kon kom nie.

Volgens ’n proklamasie in die Staatskoerant moet buitelanders wat te midde van die staat van inperking in Suid-Afrika is, bly in die hotel of gastehuis waar hulle tuisgaan.

Spesiale vrystellings is gemaak vir hotelle of gastehuise wat tans buitelanders huisves om op ’n beperkte vlak oop te bly tydens die staat van inperking.

Meer oor:  Lufthansa  |  British Airways  |  Vervoer  |  Staat Van Inperking  |  Lugdiens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.