Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Weet SAL-direkteure iets dat hulle nie bedank?
'n Vliegtuig van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) maak reg om te land.

Dit is vreemd dat die huidige direkteure van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) nog nie bedank het weens die risiko dat hulle van roekelose handel aangekla kan word nie, het die DA-LP Alf Lees Woensdag gesê.

Dit kan wees dat beloftes aan hulle gemaak word dat hulp van regeringskant wel op pad is, het Lees gegis.

Die huidige direksie sluit gerekende sakelui soos Martin Kingston, eertydse hoof van NM Rothschilds in Suid-Afrika, in.

Volgens Lees het Kingston twee weke gelede heftig ontken dat die direksie roekeloos handel dryf, want hulle het toe ’n regsmening van die prokureursfirma Bowmans gehad wat aandui hulle kan wel voortgaan, al kan die SAL nie die ouditeur-generaal (OG) tevrede stel van sy status as lopende saak nie.

Navrae by die nasionale tesourie en die departement van openbare ondernemings oor die uitslag van die intensiewe gesprekke verlede week met banke oor ekstra lenings aan die SAL is nie beantwoord nie.

Die SAL het dringend R2 miljard nodig om sy bedryfsuitgawes vir die volgende paar maande te dek, maar Tito Mboweni, minister van finansies, het al herhaaldelik gesê die SAL kan nie meer reddingsboeie kry nie.

Lees meen die kabinet kan nog moontlik ingryp en teen Mboweni se wense optree om die SAL te red.

Hy waarsku ook dat die vakbond Solidariteit se aansoek om die SAL in sakeredding te plaas waarskynlik nie sal slaag nie, want Solidariteit sal die hof moet oortuig dat die SAL hom wel uit bankrotskap kan woel.

Connie Mulder, hoof van Solidariteit se navorsingsinstituut, sê hul aansoek om sakeredding vir die SAL word nou in die hofproses verwerk sodat dit dringend aangehoor kan word. Solidariteit se regspan vergader reeds met die betrokke regter om te kyk hoe die proses versnel kan word.

Volgens Mulder het die OG al in sy 2017-verslag oor die SAL uitgewys dat roekeloos handel gedryf word by die SAL en dat die lugdiens sakeredding behoort te oorweeg. Solidariteit fokus eers op die sakereddingsaansoek, maar sal daarna besluit of die vakbond ’n aansoek ingevolge art. 165 van die Maatskappywet teen die SAL gaan indien, soos wat hy vroeër vanjaar ook al teen Denel en Eskom gedoen het.

Dié proses behels dat direkteure siviel of strafregtelik vervolg kan word weens wanbestuur of korrupsie. Die proses kan aangepak word deur enigiemand met ’n regstreekse belang by die SAL, soos krediteure, aandeelhouers of werknemers.

Volgens Lees het die SAL-direksie in ’n reeks briewe vandeesweek aan die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) in effek toegegee dat hulle wel roekeloos handel dryf, want hulle kan nie meer staatmaak op die regsmening van Bowmans nie weens onsekerheid oor die staat se verdere hulp aan die SAL.

Skoor besoek die SAL Donderdag by sy hoofkantoor in Jetpark in Kempton Park aan die Oos-Rand om eerstehands te verneem oor die lugdiens se vordering om hom reg te ruk.

Volgens Lees het Skoor die SAL versoek om Bowmans se regsmening aan die komitee te stuur, maar die komitee wag nou nog daarvoor.

As sakeredding nie werk nie, is die enigste oorblywende opsies dat die SAL gelikwideer word, of nog ’n reddingsboei deur belastingbetalers. Volgens Lees het die DA al lank sakeredding vir die SAL aanbeveel, maar die situasie het nou so versleg dat dit volgens hom nie meer ’n opsie is nie.

In 2012 het ’n hele paar SAL-direkteure op een slag bedank weens die staatsinmenging by die lugdiens en ander probleme. Dit was toe Russell Loubser, vorige uitvoerende hoof van die JSE, ’n SAL-direkteur was en uit protes bedank het. Hy is gevolg deur Cheryl Carolus, destydse voorsitter van die SAL, en ’n paar ander direkteure. Loubser het destyds in ’n onderhoud gewaarsku direkteure kan selfs tronkstraf opgelê word as bevind is dat hulle roekeloos handel gedryf het.

Meer oor:  Sal  |  Suid-Afrikaanse Lugdiens  |  Alf Lees  |  Maatskappye  |  Lugdiens  |  Staatsondernemings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.