Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Wêreld se grootste notering ná Uber op pad

Anheuser-Busch InBev (AB InBev), moedermaatskappy van SAB in Suid-Afrika, wil glo sowat $5 miljard invorder met die notering van sy Asiatiese eenheid in Hongkong, ’n stap wat dalk al voor einde September kan kom.

AB InBev se Asiatiese filiaal gaan dalk in Hongkong noteer.

Teen $5 miljard sal dit die tweede grootste aanvanklike openbare notering wêreldwyd vanjaar wees, nadat Uber Technologies in Mei teen $8,1 miljard op die New Yorkse Aandelebeurs genoteer het.

Dié keer gaan sy Australiese biere, Foster’s en Victoria Bitter, egter nie deel wees van die notering nie.

Met die Australiese biere sou die notering die grootste kon wees, met ’n geraamde markwaarde van $9,8 miljard.

Die waarde en tydsberekening is vertroulik aan Bloomberg gesê.

AB InBev self het Donderdagoggend in ’n Sens-verklaring gesê hy het sy aansoek hervat vir die notering van ’n minderheidsbelang in sy Asiaties-Pasifiese filiaal, Budweiser Brewing Company APAC, op die Hongkongse aandelebeurs.

AB InBev het ook in Mei aangekondig hy wil ’n belang in Budweiser Brewing Company APAC noteer, maar het toe in Julie aangekondig marktoestande is nie gereed daarvoor nie.

Kort daarna het AB InBev aangekondig hy verkoop sy Australiese belange vir $11,3 miljard aan die Japanse bier-en-koeldrankreus Asahi. Dit kan dus nie meer deel vorm van die notering nie.

AB InBev sê in Sens hy kan geen versekering gee dat die transaksie wel sal voortgaan nie. Dit sal van “ ’n aantal faktore en heersende marktoestande” afhang.

Die notering kan help om AB InBev se skuld van meer as $100 miljard te verminder wat spruit uit sy verkryging van SABMiller in 2016.

Bierverkope in Australië is traer as in onder meer China. Die verwydering van dié afdeling kan die notering dalk aanlokliker maak, reken Bloomberg.

Die Asiatiese eenheid se inkomste was in 2018 $8,5 miljard, maar sonder die Australiese biere was dit $6,7 miljard, met organiese groei van onderskeidelik 6,1% (met Australië) en 7,4% (daarsonder)

AB InBev hoop sy posisie as markleier vir premium-bier in China sal steeds vir beleggers aanloklik wees, hoewel daar nou baie meer druk is van mededingers soos Heineken, asook veranderinge in Chinese smaak. AB InBev is steeds die markleier, met 43% van die mark vir premium-bier, maar dis laer as die 47% in 2014, volgens Euromonitor International. – Bloomberg, verwerk

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.