Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
WGO besorg oor jonges wat e-sigarette rook

Terwyl een van die wêreld se grootste sigaretvervaardigers Woensdag baie opgewonde was oor die 2,6 miljoen nuwe verbruikers van sy rookvrye nikotienprodukte, het die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) in ’n verslag sy kommer oor die gevare van e-sigarette uitgespreek.

Mense wat ‘vape’, het baie geure om van te kies, soos koffie, aarbei, mango en selfs een geur met die naam Gummi Bear. Foto: Unsplash

British American Tobacco (BAT) wat ook rookvrye produkte soos e-sigarette verkoop, het Woensdag sy halfjaarresultate tot einde Junie uitgereik.

Dit kom kort ná die WGO se 2021-verslag oor tabakverbruik wat tabakvervaardigers aanspreek oor hul bemarkingsmetodes om rookvrye nikotienprodukte aan kinders en jong volwassenes bekend te stel.

Die WGO-verslag sê baie vervaardigers gebruik duisende aanloklike geure om mense te lok en maak staat op misleidende boodskappe wat beweer dit is veiliger as sigarette.

Die WGO is veral bekommerd dat elektroniese nikotienprodukte wat kinders gebruik, net hul kans om in die toekoms na tabakprodukte oor te skakel, drie keer groter maak.

Die WGO stel daarom voor regerings begin regulasies instel wat nierokers sal keer om rookvrye produkte te begin gebruik in pogings om generasies te beskerm en te keer dat dit weer “normaal” word om te rook.

Volgens Michael R. Bloomberg, die WGO se ambassadeur vir nie-oordraagbare siektes, is daar minstens ’n miljard mense in die wêreld wat rook.

“Soos sigaretverkope begin afneem, begin tabakvervaardigers om nuwe produkte, soos e-sigarette, aggressief te bemark en boonop sleep hulle vlerk by regerings om die regulering hiervan te beperk,” sê hy.

“Hul doelwit is om net nóg ’n generasie van nikotien afhanklik te maak en ons kan nie toelaat dat dit gebeur nie.”

Jack Bowles, uitvoerende hoof van BAT, is egter baie opgewonde oor die groei in die sigaretmaker se kategorie vir nuwe produkte, wat e-sigarette insluit.

Volgens Bowles het BAT se rookvrye produkte nog 2,6 miljoen kliënte in die eerste helfte van die jaar bygekry. Dit dra by tot die 16,1 miljoen mense wat wêreldwyd BAT se rookvrye produkte gebruik.

“Dit is ons hoogste getal nuwe verbruikers in hierdie kategorie wat ons nog kon aanteken,” sê Bowles. “BAT wil rokers help om na ons produkte oor te skakel wat alternatiewe is vir rokers en wat minder gesondheidsrisiko’s vir hulle inhou. Ons wil voortgaan om ons impak op mense se gesondheid te verminder.”

Dié afdeling wat rookvrye tabakprodukte bevat se volgehoue inkomste oor alle wisselkoerse gemeet, het in die eerste helfte van die jaar met 50% gegroei.

BAT het drie afdelings in die kategorie vir nuwe produkte, naamlik Vuse (damprookprodukte/e-sigarette), Velo (moderne orale produkte) en Glo (tabakverhittingsprodukte).

Meer oor:  British American Tobacco  |  Wgo  |  Bat  |  Rook  |  Sigarette  |  E-Sigarette
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.