Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Wie eet groentee-roomys?

“Ons het ’n fout gemaak en ’n mens moet dapper genoeg wees dit te erken,” sê Hassen Adams, uitvoerende voorsitter van Grand Parade Investments (GPI), oor die bemagtigingsgroep se belegging in Dunkin’ Donuts en die roomyswinkel Baskin-Robbins.

Ja. Jy kry wel groentee-gegeurde roomys. Foto: Baskin-Robbins

Toe hy in November 2017 aktief by bestuur ingegryp het as waarnemende uitvoerende hoof het hy dadelik die bloeding by die twee trooskos-winkels gestop, het Adams Vrydag op ’n aanbieding oor GPI se resultate tot einde Junie gesê.

Geen nuwe tak van Baskin-Robbins is sedert begin vanjaar oopgemaak nie. Die probleem met dié roomyswinkel is dat roomys-eet veral in ’n plek soos Kaapstad seisoenaal is. Boonop is daar iets soos 34 verskillende roomysgeure wat aangebied moes word ingevolge die lisensieooreenkoms.

“Daar is so baie bewegende dele, terwyl ons nie die kritieke massa het nie.”

GPI het met die lisensie-eienaar onderhandel om die getal geure wat in ’n winkel aangebied word tot nege te verminder. “Daar is ’n groentee-gegeurde roomys. Wie eet dit?”

Adams sê hy het sy dogter, Roxanne, ingebring om te help om die koste by Baskin-Robbins te probeer besnoei. Waar die groep ’n vraghouer vol roomys elke maand moes invoer, is dit nou verminder tot ’n kleiner hoeveelheid wat slegs elke twee maande ingevoer word.

Te min koffie

Ook by Dunkin’ Donuts is uitdagings, het Adams erken. Waar Dunkin Donuts oorsee byvoorbeeld meer koffie as oliebolle verkoop, is dit in Suid-Afrika nog anders om. GPI se plaaslike Dunkin’ Donuts se verkope is 70% oliebolle en 30% koffie.

Dunkin' Donuts verkoop te min koffie om winsgewend te wees.

“As dit anders om was kon Dunkin’ Donuts winsgewend wees. In moeilike tye is ’n oliebol nie so belangrik nie. Miskien is koffie nog belangrik om jou te troos.”

Die groep kon koste besnoei deur sy eie plaaslike bakkery te bou, wat die koste van oliebolle gehalveer het. GPI onderhandel nou met die lisensie-eienaars om nuwe eienaars of gesamentlike vennote vir die lisensies van Baskin-Robbins en Dunkin’ Donuts ontslae te kry.

Hy het verduidelik dit is nie so eenvoudig om sulke ondernemings vinnig te sluit nie. Daar is huurkontrakte en personeel wat geskuif moet word. Die bakkery kan nog teen ’n wins verkoop word, en daar word gekyk om personeel na Burger King oor te skuif.

“Dunkin’ Donuts is te koop, al sal ons dit teen ’n verlies verkoop. Ons verkoop basies suiker en kafeïen.”

Adams meen ’n handelsnaam soos Dunkin’ Donuts kan wel suksesvol wees in Suid-Afrika, maar dan moet dit deur ’n alleeneienaar besit word en nie deur ’n maatskappy nie.

Adams was nie Vrydag ingenome met beleggers se voorstelle dat hy na Famous Brands en Spur kyk vir beste praktyk nie. Een belegger het genoem Famous Brands het ’n entrepreneur soos Kevin Hedderwick gehad en Spur het Pierre van Tonder. Maar Adams meen Famous Brands en Spur maak ook foute.

Daar is net ses takke van Baskin-Robbins en 11 takke van Dunkin’ Donuts in die land.

Adams spog Burger King het wel groot potensiaal, veral in die res van Afrika.

Meer oor:  Dunkin' Donuts  |  Burger King  |  Grand Parade Investments  |  Gpi  |  Baskin-Robbins  |  Hassen Adams  |  Restaurante  |  Roomys  |  Kitskos
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.