Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Wie is African Bank se nuwe baas?

African Bank het ’n nuwe uitvoerende hoof aangestel nadat sy vorige een in Januarie skielik bedank het.

Kennedy Bungane se foto op sy LinkedIn-profiel.

African Bank het Donderdag aangekondig Kennedy Bungane (46) is as uitvoerende hoof en ’n uitvoerende direkteur van die bank en sy beherende maatskappy, African Bank Holdings Bpk. (ABH), met ingang 14 April aangestel.

Basani Maluleke (43) was die eerste swart vrou wat ’n bank gelei het.

Haar skielike bedanking het vrae laat ontstaan omdat African Bank ’n dag daarna aangekondig het dat ’n verlies vir die boekjaar tot einde September gely is.

LEES OOK: Skielike bedanking by African Bank jaag spoke op

African Bank het ontstaan uit die stof van die gelyknamige bank wat in 2014 ineengestort het.

Dis nou die derde uitvoerende hoof sedertdien, hoewel die eerste een, Brian Riley, afgetree het ná twee jaar in die pos.

African Bank sê Bungane se aanstellings is kragtens sy beleid oor die keuse en benoeming van uitvoerende direkteure gedoen.

Die bank sê hy bring meer as 20 jaar ervaring in die bankwese saam met hom.

Loopbaan
  • Hy het in 1991 by Standard Bank begin werk. Hy het later ’n aantal senior poste in die bank beklee, insluitende hoof van wêreldmarkverkope en hoof van institusionele en korporatiewe bankwese. Hy het ook as uitvoerende hoof van Standard Bank se korporatiewe en beleggingsbank (CIB) gedien en was ’n lid van Standard Bank-groep se uitvoerende komitee tot in 2012.
  • In 2012 het hy by Barclays Africa aangesluit as uitvoerende hoof van Barclays Africa Bpk. en hoof van Absa-groep se strategie. Hy het die transaksie gelei waarin Barclays Africa aan Absa verkoop is. Hy was tot in 2014 by die groep.
  • Van 2014 tot 2019 was hy die uitvoerende hoof van die Phembani-groep.
  • African Bank sê hy bring ook beleggings- en strategiese ondervinding na die tafel as stigter en voorsitter van Nokeng Telecoms en voorsitter van Idwala Capital. Idwala is in 2017 gestig en hy is in Maart 2019 aangestel.

Kwalifikasies

Hy het ’n handelsgraad van die Universiteit van KwaZulu-Natal en ’n MBA van die Universiteit van Pretoria, volgens sy LinkedIn-profiel. Hy het die gevorderde bestuursprogram by Harvard Business School voltooi, volgens die bank.

LEES OOK: Grootkop bedank by Barclays Africa

In die nuus

Bloomberg het in April 2019 berig volgens bronne wou die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) vir Bungane as uitvoerende hoof aanstel, maar Reuters het later berig die OBK ontken dit.

OBK bestuur die staatsamptenare se pensioenfonds (GEPF), wat ’n belang van 25% in African Bank-groep besit.

Hy was meer onlangs in die nuus oor ’n reusehuis aan die oewer van die Vaalrivier wat in die mark was en wat deur sy familietrust besit word.

Business Insider het berig die huis, bekend as Vaal Castle, is in die mark gesit deur Absa, maar later weer afgehaal. Dit het verband gehou met sakelenings wat aan Absa geskuld is.

Vaalweekblad het berig Vaal Castle is moontlik die grootste huis in Suid-Afrika.

Die reusehuis van meer as 6 200 vierkante meter wat 'Business Insider' in September 2020 berig het aan ’n familietrust van hom behoort en wat deur Absa sou verkoop word, maar later weer van die mark gehaal is. Foto: Business Insider

Kommentaar

Thabo Dloti, voorsitter van African Bank, sê Bungane het “’n goeie begrip vir die bestuur van komplekse vraagstukke oor belangegroepe.

“Hy het ’n bewese rekord om leierskap te identifiseer en te koester, wat sterk spanne bevorder om suksesvol te wees.

“Sy passie vir die rol wat bankwese kan speel om die samelewing te transformeer, het sterk aanklank gevind by die direksie.

“As ’n ervare bankier het hy ook die noodsaaklike goeie begrip van die strategiese probleme wat die bank in die gesig staar binne ’n swak ekonomie en mededingende omgewing, asook die wetsvereistes.”

Volgens Dloti sal hy die werk voorsit om ’n sterk leierspan te bou en die reis voort te sit om die bank te omskep in ’n “suksesvolle, gediversifiseerde kleinhandelbank waarin beleggers wil belê”.

Meer oor:  African Bank  |  Basani Maluleke  |  Banke  |  Bankbedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.