Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Wie is René van Wyk, wat by Ramos oorneem?

René van Wyk is Dinsdag as waarnemende uitvoerende hoof van Absa aangewys ná die onverwagse aankondiging dat Maria Ramos einde Februarie aftree.

René van Wyk, is van 1 Maart die waarnemende nuwe hoof van Absa. Foto: Absa

Ramos was ’n dekade lank aan die stuur van die bankgroep en wou reeds twee jaar gelede die tuig neerlê, maar die direksie het ’n stokkie daarvoor gesteek.

Van Wyk neem op 1 Maart by Ramos oor.

Hy is sedert Februarie 2018 ’n onafhanklike nie-uitvoerende direkteur op Absa se direksie.

Van Wyk het in Oktober 2011 vir Errol Kruger as die registrateur van banke by die Suid-Afrikaanse Reserwebank opgevolg. (Dié postitel is intussen omgeskep in die uitvoerende hoof van die Omsigtigheidsowerheid, en word nou deur Kuben Naidoo, ’n adjunkpresident van die Reserwebank, beklee.)

In sy tyd as registrateur was hy verantwoordelik vir risikobestuur van al Suid-Afrika se handelsbanke, insluitend die instellings se finansiële gesondheid. Hy het in Mei 2016 uit die pos getree.

Die Reserwebank was in dié tydperk deur diep waters. Sy aanstelling het gekom in die nadraai van die wêreldwye finansiële krisis wat in 2008 begin het en tot chaos op wêreldmarkte gelei het.

Hy was ook daar met die ineenstorting van African Bank. Die Reserwebank moes uiteindelik ingryp om die bank van totale ondergang te red en in kuratele te plaas.

“Ons kan nie belowe dat banke nie gaan vou as hulle roekeloos, onverstandig en swak bestuur word nie,” het Van Wyk kort ná sy uittrede as registrateur aan die Mail & Guardian gesê.

“Dit is die registrateur se werk om seker te maak daar is geen sistemiese risiko’s nie en om deposante te beskerm.”

Naidoo, Van Wyk se opvolger, moes soortgelyke stormwaters trotseer en ingryp by VBS Mutual  Bank, ’n berugte onderlinge bank wat weens ernstige wanbestuur byna R2 miljard laat “verdwyn” het.

Benewens sy ondervinding by die Reserwebank is Van Wyk ’n ou hand in die bankbedryf met 20 jaar by die Nedbank-groep op sy kerfstok.

Hy was onder meer die uitvoerende direkteur van risiko vir Nedcor Investment Bank sowel as die uitvoerende hoof van Imperial Bank, albei filiale van Nedbank.

Van Wyk het sy loopbaan as geoktrooieerde rekenmeester by die ouditeursfirma KPMG begin.

Hy is ’n gekwalifiseerde rekenmeester met ’n honneursgraad in rekenkundige wetenskap.

Meer oor:  Absa  |  Maria Ramos  |  Reserwebank  |  Banke  |  Bankbedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.