Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Wiese oor Steinhoff: ‘Jy kan nie bloed uit klip tap’

Dit is ’n stap in die regte rigting, het die sakeman Christo Wiese Maandag gesê oor Steinhoff se voorgestelde skikking van al die regseise teen hom.

Christo Wiese Foto: Jaco Marais

Op die vraag of hy tevrede is met die aanbod, swyg Wiese egter.

Die totale skikkingsbedrag wat aan die meer as 90 eisers aangebied word, beloop sowat 960 miljoen (nagenoeg (R18,5 miljard). Die helfte daarvan gaan in kontant en die ander helfte in Pepkor-aandele betaal word. Dit is aandele wat Steinhoff tans in Pepkor hou.

Daarteenoor beloop al die eise teen die groep wat gekwantifiseer is 7 miljard (R136 miljard). Die skikkingsbedrag wat Steinhoff aanbied, is dus skaars 14% van die totale eise.

Wiese, voorheen grootste aandeelhouer en voorsitter van Steinhoff, is die grootste eiser teen die groep met ’n eis van sowat R60 miljard.

Talle van sy maatskappye eis teen die Nederlandse Steinhoff International Holdings N.V. en die Suid-Afrikaanse Steinhoff International Holdings (SIPHL).

Die voorgestelde skikkingsbedrag aan die maatskappye wat verwant is aan Wiese, beloop minder as 15% van wat hy eis. Daarby sal ’n lening van hom ook oorgeneem word.

Wiese het Maandag gesê hy het al in April 2018 toe sy dagvaarding uitgereik het, gesê daar is net een van twee uitkomste – die maatskappy gaan gelikwideer word, of daar moet geskik word.

“Dit is nou al twee en ’n half jaar later en daar is geweldig baie koste aangegaan en nou is ons uiteindelik by daardie punt.”

Op die vraag of hy die aanbod ondersteun soos dit nou daar is, sê hy dit is ’n stap in die regte rigting.

Op die vraag dat dit op die oog af na baie min lyk wat eisers gaan kry en of daar verder daaroor onderhandel sal word, het hy gesê ’n mens moet verstaan daar is ook net soveel bates.

“Jy kan mos nie bloed uit ’n klip tap nie. Wat daar is, is daar om te verdeel. Daar is mos geen mens wat tevrede is met minder as 100c uit die rand nie, maar die punt is as dit nie daar is nie, is dit nie daar nie. Waar moet dit vandaan kom?

“Jy kan mos dink die meeste van die bates wat in Steinhoff is, is die bates wat Pepkor se aandeelhouers deur bedrog bekom het. As die Pepkor-transaksie nie daar was nie, het mense nog minder gekry.”

Op die vraag of daar tussen die partye onderhandel gaan word vir meer, het hy gesê dit weet geen mens nie.

“Ons sal sien waar die steun vandaan kom en wie die mense is wat meer bloed uit die klip probeer druk as wat daar is. Dit is ’n gejaag na wind.”

Wiese sal na afloop van die skikkingsooreenkoms 7% van Pepkor hou, volgens Louis du Preez, uitvoerende hoof van Steinhoff. 

Steinhoff gaan van sy aandele in die skikking aanbied en daarna net meer as 50% hou. Steinhoff hou nou 68% in Pepkor.

Netwerk24 het onlangs berig oor ’n nuwe party, die maatskappy Conservatorium Holdings LLC, wat aanspraak maak op die regte op die eis wat Wiese teen die groep gebring het.

LEES OOK: Wiese sê reuse-eis teen Steinhoff is nie in gedrang

In die terme van die skikkingsvoorstel word gesê die voorgestelde aanbod aan die maatskappy Upington (of sy regsopvolger wat in dié geval die Wiese-maatskappy Titan is) is sowat 82 miljoen. Dit is 5% van die eis wat 1,59 miljard beloop het.

Die geld sal aan die eienaars van die eis betaal word sodra die dispuut tussen Upington, Titan en Conservatorium opgelos is of daar ’n bindende skikkingsooreenkomste tussen die relevante partye en Steinhoff N.V. bereik is.

Die betaling vind ook plaas deur die helfte in kontant en die helfte in Pepkor-aandele aan te bied.

Vir die eis teen die Suid-Afrikaanse Steinhoff (SIHPL) word R7,9 miljard aangebied terwyl Wiese R38,1 miljard in geheel deur sy maatskappye Thibault, Wiesfam en Titan geëis het.

’n Lening van R3,4 miljard wat Titan verskuldig is aan die groep, sal egter deur SIHPL oorgeneem word.

‘Skrale kans op sukses’

Bernard Mostert, wat namens die voormalige eienaars van Tekkie Town kommentaar lewer en self een van die eisers is, meen daar is ’n skrale kans op sukses met die skikking.

Die skikkingsbedrag aan hulle behels sowat 6% van wat hulle eis.

Die voormalige eienaars van Tekkie Town eis R1,8 miljard en nou word net sowat R116 miljoen aan hulle aangebied.

“Ons is nie te vinde daarvoor nie. Ons is gemaklik om ons saak in die hof te beveg en is dankbaar vir die interdik wat ons teen sowel Steinhoff as Pepkor het om ons beheer in ons gesteelde onderneming terug te kry.”

Mostert sê hulle stel nie belang in ’n skikking “wat Pepkor-aandele waardeer teen 46% meer as die huidige markwaarde daarvan nie. In die laaste drie jaar het net een van Pepkor se uitvoerende direkteure aandele in die ope mark gekoop. Dit op sigself sê genoeg van die vooruitsigte vir die aandeel.”

Pepkor se aandeelprys het Maandag met 1% tot R10,42 gedaal.

Dié filiaal van Steinhoff se aandeelprys het al met 52% gedaal van R21,75 af sedert sy notering onder die naam Steinhoff Africa Retail in September 2017.

Sy naam is in 2018 terug na Pepkor verander omdat sy bates hoofsaaklik bestaan het uit die ou Pepkor-groep s’n, wat Wiese ’n paar jaar gelede aan Steinhoff verkoop het.

’n Bron wat nie aangehaal wil word nie, sê Steinhoff se aanbod is belaglik en dat mense wat werklik bedrieg is, dit nie “in hul wildste drome” sal aanvaar nie.

“Die howe moet maar besluit. As jy jou hofsaak wen, kan jy 100% van jou eis kry.”

Na wat verneem word is vertroulikheidsooreenkomste geteken met almal.

Pensioenfonds kry honderde miljoene minder

Jayendra Naidoo van die Lancaster-groep wat ook die voorsitter van Pepkor is, wou nie kommentaar lewer nie.

Die maatskappy Lancaster 101 eis R3,9 miljard en Steinhoff N.V. is bereid om 13 miljoen (sowat R251 miljoen teen die huidige wisselkoers) aan hom te betaal.

As deel van dieselfde kontraktuele eis, eis die Openbare Beleggingskorporasie (OBK), namens die pensioenfonds van die staatsamptenare (GEPF) R643,8 miljoen en 2 miljoen (sowat R40 miljoen) word aangebied.

Meer oor:  Steinhoff  |  Tekkie Town  |  Gepf  |  Obk  |  Eise  |  Aandele  |  Regsgeding  |  Skikking  |  Hofsaak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.