Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Wiese se Invicta hou steeds dividend terug
Die onsekerheid in die landboubedryf het die vraag na oesmasjiene soos dié van Case wat Invicta se filiaal Northmec bemark, het in die afgelope halfjaar afgeneem. Foto: Northmec

Invicta Holdings gaan nie ’n tussentydse dividend verklaar nie weens sy huidige hoë skuldhefboomverhouding.

Invicta, wat ingenieurs-, konstruksie- en landboumasjinerie versprei, ly nog onder die las van die R750 miljoen waarvoor hy moes voorsiening maak as deel van ’n skikking met die Suid-Afrikaanse Inkomstediens.

Invicta, waarvan Christo Wiese die grootste enkele aandeelhouer en voorsitter is, het Maandag sy resultate vir die halfjaar tot einde September bekend gemaak. Weens moeilike handelstoestande was sy omset bykans onveranderd as ’n jaar gelede op R5,3 miljard, en is bedryfswins 6% laer op R383 miljoen.

Omdat die vorige jaar se syfers egter afgedruk is deur die eenmalige belastingvoorsiening, het wins vir die halfjaar wel met 228% tot R208 miljoen gegroei, en was wesensverdienste per aandeel ’n hele 2 029% hoër op 149c teenoor ’n jaar gelede se 7c.

Invicta wys wel daarop dat die vorige vergelykende tydperk se syfers heruitgereik is.

Beleggers was Maandagoggend positief oor die syfers en Invicta se aandeelprys op die JSE het met 4% tot R21,99 gestyg.

Arnold Goldstone, uitvoerende hoof van Invicta, sê hy is verheug oor die groot verbetering in kontant uit bedrywighede, wat met 426% tot R518 miljoen gegroei het. Hy sê Invicta se doelwit is nou om sy kontantvloei uit bestaande bedrywighede op te skerp sodat hy sy skuldposisie kan verbeter nadat dit weens die belastingskikking van 2018 verswak is.

Dit is ook die rede waarom die direksie besluit het hy gaan nie nou ’n tussentydse dividend verklaar nie. Sodra kontantvloei en skuldvlakke weer beter is, sal sy gewone dividendbeleid hervat word.

Arnold Goldstone, uitvoerende hoof van Invicta, sê daar is ’n swakker vraag na hoë-kilowatt trekkers soos hierdie weens onseker landboutoestande en die droogte in Suid-Afrika. Invicta se filiaal Northmec versprei Case-trekkers soos dié op die bemarkingsfoto.Foto: Northmec

Ingenieursafdeling

Ondanks onsekerheid in die nywerheids- en mynbousektore en die invloed van beurtkrag het Invicta se ingenieursafdeling sy omset met 7% tot R2,7 miljard verhoog. Hiervan spruit R216 miljoen wel uit twee verkrygings – Forge Industrial Group wat in September 2018 gekoop is, en Propshaft Rebuilders Group wat in Desember gekoop is.

Kapitaaltoerusting

Die kapitaaltoerusting-afdeling is geraak deur die gebrek aan belegging in infrastruktuur in Suid-Afrika, die agteruitgang van die groot plaaslike konstruksiemaatskappye, ’n afname in die Asiatiese markte en die droogte in die plaaslike landbousektor.

Omset het hier met 8% tot R2,3 miljard gedaal.

Die gebrek aan likiditeit en onsekerheid in die landbou het tot ’n swakker vraag na oesmasjiene en groot trekkers gelei. Goldstone sê daar is wel nog ’n vraag na hoëwaarde-, groot toerusting vir die mynbou.

Invicta se tasbare netto batewaarde per aandeel was wel teen einde September 3,9% beter op R35,50, vergeleke met einde Maart. Goldstone glo die maatskappy se fundamentele faktore is sterk en hy geniet mededingende voordele wat in sy guns sal tel sodra handelstoestande verbeter.

Wiese en sy seun Jacob besit saam meer as 26% van Invicta se voorkeuraandele, en Wiese alleen besit 37,57% van Invicta se gewone aandele.

Meer oor:  Invicta  |  Christo Wiese  |  Resultate  |  Mynbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.