Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Wiese sê reuse-eis teen Steinhoff is nie in gedrang

Die jongste jaarverslag van Steinhoff toon ’n nuwe party wat daarop aanspraak maak dat hy die regte het op die eis wat Christo Wiese, voormalige grootste aandeelhouer van die beleërde maatskappy, teen die groep gebring het.

Christo Wiese, billionaire and chairman of Steinho
Die miljardêr Christo Wiese. Foto: Getty Images

Wiese, wat voorheen die voorsitter van Steinhoff was, het April 2018 ’n reuse-eis van altesame sowat R60 miljard teen twee maatskappye in die groep aanhangig gemaak.

Dit was die grootste eis teen die Steinhoff-groep en is deel van verskeie regsgedinge sedert sy aandeelprys in Desember 2017 in duie gestort het toe ’n boekhouskandaal aan die lig gekom het.

Volgens Theodore de Klerk, finansiële direkteur van Steinhoff, beloop al die eise teen die groep €10 miljard (R192,5 miljard in vandag se wisselkoers).

Steinhoff se jaarverslag vir die boekjaar tot einde September 2019 wat vandeesweek uitgereik is, toon die reeds lang lys van eise teen die groep het gegroei. Dit sluit nou ook ’n groepsgeding van R14 miljard in wat in Junie in die hooggeregshof in Kaapstad gebring is.

Die jaarverslag toon ook ’n nuwe geding deur ’n onderneming Conservatorium Holdings LLC wat op 15 Mei teen die Suid-Afrikaanse Steinhoff International Holdings Property Limited (SIHPL), die Nederlandse Steinhoff NV en ander partye gebring is.

Die ander partye is Thibault Square Financial Services, Titan Premier Investments, Titan Group Investments, Wiese en sy seun, Jacob.

Dié ondernemings is al voorheen beskryf as Wiese se beleggingsvoertuie.

Conservatorium is opgerig om die saak te bring en voer aan Wiese se eise teen Steinhoff behoort nie aan hom nie. Conservatorium voer aan hy het reg tot die eise oorgeneem toe lenings wat aan banke verskuldig is, gekoop is.

Dit gaan jare neem om deur die hof te gaan en is verskriklik ingewikkeld. Hopelik kan ons tot ’n vergelyk kom met die litigante.
Theodore de Klerk van Steinhoff

Luidens die jaarverslag dagvaar Conservatorium die partye in sy hoedanigheid as “gevolmagtigde en regsopvolger van die regte en eise kragtens sekere finansieringsooreenkomste wat in 2016 en 2017 gesluit is tussen ’n konsortium van banke en Upington Investment Holdings BV, Thibault en Titan”.

Dit hou verband met 609,1 miljoen aandele wat Thibault op 25 November 2014 in SIPHL vir R34,7 miljard bekom het.

SIPHL is die maatskappy wat voorheen in Suid-Afrika genoteer was voordat Steinhoff oorsee genoteer het.

Die meeste eise word teen die maatskappy en Steinhoff NV gebring, wat ’n Nederlands geregistreerde maatskappy is. Die aandele in SIPHL is verruil vir aandele in Steinhoff NV op grond van die reëlingskema wat die groep in 2015 aangekondig het.

Conservatorium beweer ingevolge die finansieringsooreenkomste is sekere leningsgeriewe aan Upington verskaf. Vir die lenings is 750 miljoen Steinhoff NV-aandele via Upington en Titan as kollateraal aangebied.

Volgens Conservatorium het hy die volgende verkry toe die skuld oorgeneem is:

  • 94% van die eise, regte en voordele van die leners teen enige party kragtens of in verband met die finansieringsooreenkomste;
  • Enige en alle toekomstige eise (insluitende eise teen derde partye) wat die kredietverskaffers toeval ingevolge kontrak, delik, wetgewing, statuut of andersins in verband met die finansieringsooreenkomste; en
  • Sekere aanvullende regte en eise.

“Gevolglik beweer Conservatorium as dit nie was vir die beweerde wanvoorstellings wat deur SIHPL gemaak is nie, sou die uitleners nie die leningsgeriewe verskaf het nie en nie daardeur verliese gely het van €993,5 miljoen nie,” lui die jaarverslag. In vandag se wisselkoers beloop dit amper R19 miljard.

Conservatorium beweer hy het die reg tot 94% van die eis, naamlik 933,9 miljoen, gekry.

“Voorts beweer Conservatorium ook hy is geregtig op die subskripsieprys wat Thibault aan SIHPL betaal het van R34,7 miljard.”

In ’n afsonderlike proses het Conservatorium in Januarie in Nederland ’n geding begin teen SIPHL en Steinhoff NV in sy hoedanigheid as die houer van die regte tot die sekuriteit oor eise wat met Steinhoff se aandele verband hou wat Upington in 2016 verkry het.

Dis dieselfde eis wat Titan, namens Upington, teen Steinhoff NV gebring het en wat 1,6 miljard (in vandag se wisselkoers R30,5 miljard) beloop.

In die jaarverslag word gesê Thibault en Upington het op 26 April 2018 ’n eis teen Steinhoff NV en SIHPL gebring om ’n ooreenkoms te kanselleer waardeur aandele bekom is, gegrond op beweerde wanvoorstellings. Die eise behels:

  • ’n Kontraktuele eis deur Thibault-hulle teen SIHPL vir R34,7 miljard (2,1 miljard) gegrond op die ooreenkoms wat November 2014 gesluit is;
  • ’n Eis vir restitusie deur Thibault teen Steinhoff NV van die bates wat deur SIHPL na dié Nederlandse maatskappy versprei is ingevolge die reëlingskema van 2015; en
  • ’n Skadevergoedingseis van 1,59 miljard gegrond op ’n ooreenkoms waardeur Upington vir 314 miljoen Steinhoff aandele ingeteken het vir die bedrag. Upington is later in die hofsaak vervang deur Titan as eiser nadat hy sy eise aan Titan verkoop en gesedeer het.

Volgens Steinhoff het Conservatorium in Julie 2019 deur Nederlandse regsprosesse verlof gekry om ’n beslaglegging vooruit te kry op Upington se eise teen Steinhoff NV en SIHPL. Daarom het Conservatorium in Maart vanjaar ’n regsproses in die hooggeregshof in Kaapstad begin om in te gryp in bogenoemde saak sodat Conservatorium en Upington as eisers genoem word.

Theodore de Klerk, finansiële hoof van Steinhoff. Foto: Steinhoff

Wiese het Woensdag by navraag of dit beteken sy eis teen Steinhoff is in gedrang, gesê: “Glad nie.”

Hy het gesê hy lewer nie kommentaar op litigasie nie.

“Elke ou kan ’n eis instel wat hy wil. Al wat ek kan sê, ons is baie gemaklik oor ons posisie.”

Aanmaning

Dit blyk ook uit die jaarverslag dat Steinhoff in Oktober verlede jaar ’n aanmaningsbrief aan Titan geskryf het vir 200 miljoen wat nie terugbetaal is nie.

Dit handel oor ’n transaksie met Shoprite wat Steinhoff in 2017 oorweeg het.

Wiese sou sy belang in Shoprite vir nog aandele in Steinhoff verruil. Steinhoff sou dan die grootste aandeelhouer in Shoprite word.

Met die ineenstorting van Steinhoff se aandeelprys einde 2017 is die transaksie gekanselleer.

Voordat die transaksie gekanselleer is, is vooruitbetalings van onderskeidelik 125 miljoen en 200 miljoen in Oktober en November 2017 aan entiteite verwant aan Wiese gemaak as deel van die beoogde Shoprite-transaksie, lui die jaarverslag.

Ná die kansellasie van die beoogde transaksie is ooreenkomste in Februarie 2018 gesluit ingevolge waarvan die 125 miljoen vereffen is.

Die balans van die 200 miljoen plus rente (van 1,5% per jaar tot begin September 2018 en 10% daarna) moes terugbetaal word kragtens ’n skikkingsooreenkoms wat op 20 Augustus 2018 gesluit is.

Volgens Steinhoff het Titan aangevoer ’n gebrek aan goedkeuring van die Suid-Afrikaanse Reserwebank verhoed die terugbetaling van die bedrag.

’n Nuwe onderneming wat voortgespruit het uit Steinhoff se finansiële herstrukturering verlede jaar, Newco 2A, het op 22 Oktober 2019 ’n aanmaningsbrief vir die bedrag gestuur toe Titan in gebreke gebly het om dit terug te betaal.

“Daarna het Titan op 28 Oktober 2019 ’n teeneis teen Steinhoff Finance Holdings GmbH (SFHG) en Newco 2A vir €200 miljoen ingestel in reaksie op die eisbrief,” lui die jaarverslag.

SFHG en Newco 2A staan die teeneis teë, volgens die groep.

De Klerk sê die groep hoop om met al die eisers te skik en daar word ook met Wiese gepraat oor sy groot eise.

Volgens hom is daar nie voorsiening gemaak vir die bedrag in die jaarstate nie omdat Steinhoff glo dis invorderbaar.

“Maar hy eis miljarde van ons ook. Dit sal alles deel wees van die wêreldwye skikking.”

De Klerk het verwys na die inligting oor die hofsake wat etlike bladsye in die jaarverslag beslaan. “Dit gaan jare neem om deur die hof te gaan en is verskriklik ingewikkeld. Hopelik kan ons tot ’n vergelyk kom met die litigante.”

Wiese het Woensdag by navraag of hy hoopvol is dat daar buite ’n hof ’n oplossing gekry sal word, gesê hy is, want dit is die enigste sinvolle oplossing.

Meer oor:  Steinhoff  |  Christo Wiese  |  Forensiese Ondersoek  |  Meubelhandel  |  Bedrog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.