Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Wiese verloor beheer in Shoprite, hou 17,8%
Christo Wiese, voorsitter van Shoprite. Foto: Getty Images

Christo Wiese, voorsitter en tans die grootste aandeelhouer van die Shoprite-groep met ’n wesenlike invloed, gaan ná ’n transaksie met die groep om weg te doen met spesiale stemregaandele 17,8% van die maatskappy hou.

Aandeelhouers van Shoprite-groep moet eers die transaksie goedkeur. 

Die Shoprite-groep het einde Februarie aangekondig onderhandelinge is begin met hom om die aandele wat net stemreg hou dalk terug te koop.

Shoprite hou twee soorte aandele: gewone aandele en uitgestelde aandele. Uitgestelde aandele verskil van gewone aandele deurdat dit geen dividend kry nie en net stemreg hou. 

Al die uitgestelde aandele van die groep word deur Thibault gehou, wat ’n volfiliaal van Titan is. Titan word op sy beurt deur die Christo Wiese-familietrust besit, waarvan Wiese en sy onmiddellike familie begunstigdes is. Die 264,9 miljoen uitgestelde aandele hou 32,3% van die stemreg.

Wiese het ook gewone aandele gehou wat hom altesaam 42,8% se stemreg gegee het.

Shoprite het Donderdag die bepalings van ’n voorgestelde transaksie oor die aandele bekend gemaak.

Luidens die aankondiging gaan die stemregte van die minderheidsaandeelhouers ná die transaksie van die huidige 57,7% tot 82,2% toeneem. Waar Wiese voorheen 42,8% se stemreg gehou het, gaan hy nou net 17,8% oorhou.

Die 20 miljoen gewone aandele wat aan hom uitgereik gaan word, was teen Donderdag se aandeelprys R3,5 miljard werd. 

Wiese het onlangs aan Netwerk24 gesê sy maatskappy Titan, wat al vir meer as 40 jaar die grootste aandeelhouer in Shoprite-groep is, sal die grootste aandeelhouer bly.

Lees ook: Gaan Wiese beheer oor Shoprite-groep verloor?

Luidens die aankondiging is  'n ooreenkoms met Thibault Square Financial Services en Titan Premier Investments gesluit oor die bepalings van die transaksie.

Die transaksie is onderhewig aan sekere opskortende voorwaardes insluitende dat ’n spesiale resolusie deur die vereiste getal aandeelhouers goedgekeur moet word, wat die Titan-groep uitsluit. Dit moet dus deur die minderheidsaandeelhouers goedgekeur word.

Die redes vir die voorgestelde transaksie is volgens die direksie dat dit die volgende voordele vir Shoprite en sy aandeelhouers gaan hê:

1. Dit sal die stemstruktuur vereenvoudig en verseker dat Shoprite tred hou met die internasionale beste korporatiewe bestuurspraktyke.

2. Alle Shoprite-aandele sal gelyke ekonomiese en stemregte hê. Minderheidsaandeelhouers se stemreg verhoog van 57,7% tot 82,2%.

3. Behalwe dat dit eenvoudiger en billiker is, gaan die aandele aanlokliker wees vir institusionele beleggers en dit sal ’n positiewe invloed op die vraag na sy aandele hê.

4. Die kansellasie van die uitgestelde aandele verwyder onsekerheid oor ’n toekomstige verkoop deur Thibault van sy Shoprite-aandele – “en dus die oordrag van wesenlike invloed oor Shoprite na ’n ander party”.

Die belangrikste bepalings van die transaksie is dat 20 miljoen nuwe Shoprite-aandele aan Titan uitgereik gaan word. Die waarde van die aandele teen die huidige aandeelprys is R3,5 miljard.

Die uitreiking van die aandele gaan gewone aandeelhouers se aandeelhouding met 3,5% verwater.

Luidens die verklaring besef die Shoprite-direksie uitgesluit die voorsitter, Wiese en sy seun Jacob Wiese wat sy plaasvervanger-direkteur is, daar is werklike en potensiële belangebotsing tussen Thibault, Titan en hul verwante partye en die Shoprite-groep wat die voorgestelde transaksie betref.

“Die nodige sorg is geneem om seker te maak die direksie is en bly onafhanklik tydens die voorgestelde transaksie.”

Meer oor:  Shoprite  |  Christo Wiese  |  Aandele  |  Maatskappye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.