Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Christo Wiese wil 'wesenlike belegger in Brait bly’

Die beleggingsmaatskappy Brait het Maandag bevestig dat daar planne is wat moontlik tot die disinvestering van sekere van sy beleggings kan lei.

Christo Wiese het in 2011 die grootste aandeelhouer van Brait geword en die maatskappy se sakemodel verander. Foto: Getty Images

Brait besit groot belange in die gimnasiumgroep Virgin Active, die Suid-Afrikaanse voedselvervaardiger Premier Foods en die Britse kruidenierswaregroep Iceland en die winkelgroep New Look.

Die maatskappy, waarin die grootste belegger Christo Wiese se beleggingsvoertuig Titan is, het gesê hy is met ’n proses besig om sy skuld wesenlik te verminder. Die proses kan insluit die herfinansiering van die bestaande skuld, moontlike inisiatiewe om aandeelkapitaal in te samel, herkapitalisering of die verkoop van sekere van sy beleggings of ’n kombinasie van alles.

Volgens Brait is Titan deur ’n aantal ander beleggers genader wat hierdie pogings wil steun.

Netwerk24 het verlede week berig oor nuus wat aan die media uitgelek het oor Wiese wat deel is van ’n groep wat wil hê Brait moet R3 miljard insamel deur aandele uit te reik en bates te verkoop.

Business Day het berig dat volgens Wiese is die voorstel, wat as Projek Arbiter bekendstaan, een van talle op die tafel.

Titan is saam met die batebestuurder Mergence Investment Managers deel van die plan wat die verwydering van die huidige bestuur van Brait sou insluit. LEES OOK: Só wil Christo Wiese met Brait maak

Wil groot bly

Brait het Maandagoggend in ’n verklaring aan beleggers gesê: “Titan het aan Brait se direksie bevestig dat die maatskappy as ’n strategiese langtermynbelegging beskou word.

“Titan is van voorneme om ’n wesenlike en strategiese belegger in Brait te bly.”

Brait het beloof dat verdere inligting aan beleggers verskaf sal word sodra daar nuus is.

Wiese het in 2011 die grootste aandeelhouer van Brait geword toe hy 34,6% van die maatskappy bekom het.

Terselfdertyd is Brait se sakemodel van dié van ’n private-ekwiteitsfondsbestuurder na ’n beleggingsmaatskappy verander.

In die begin van April 2011 voordat Wiese sy belang bekom het, was Brait se netto batewaarde per aandeel R16,50.

Die netto batewaarde het in April 2016 ná talle verkrygings tot R136,27 gestyg.

Beleggings en verkope van 2011 af

  • In 2011 het Brait ook 49,9% van Premier bekom en 37% van Pepkor.
  • In 2012 is die belang in Premier tot 96,1% verhoog. Brait het ook in Maart 18,7% van Iceland bekom.
  • In 2015 verkoop Brait 37% van Pepkor (aan Steinhoff). In Junie word ’n belang van 89% in New Look bekom en in Julie 78% van Virgin Active. In November word die belang in Iceland tot 57,1% verhoog.
  • In Junie 2018 word die belang in Iceland tot 63,1% verhoog.

Sedert April 2016 het Brait se netto batewaarde van R136,27 tot R41,80 per aandeel einde Maart vanjaar gedaal.

New Look-kopsere

Dit grootste rede daarvoor hou met die probleme die afgelope jare by New Look verband.

Die afgelope boekjaar is New Look se balansstaat herstruktureer. Die proses wat op 3 Mei afgehandel is, het New Look se langtermynskuld wesenlik verminder. Brait is steeds die grootste aandeelhouer maar sy belang is nou wesenlik kleiner op 18,5%.

Brait se jaarverslag toon Virgin Active maak 53% van sy bates uit; Premier 27%; Iceland Foods 10% en New Look 3%.

Van sy kleiner belange sluit in 91,3% wat in die Suid-Afrikaanse wynmaatskappy DGB besit word en ’n belang in Consol.

Meer oor:  Brait  |  New Look  |  Virgin Active  |  Titan  |  Christo Wiese  |  Herstrukturering  |  Disinvestering  |  Skuld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.