Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Wil jy aandele in SAL koop?

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) oorweeg dit glo om aandele aan lede van die publiek te verkoop om geld in te samel, volgens mense wat kennis dra van die saak.

Notering is dalk die nuutste plan om die Suid-Afrikaanse Lugdiens te red.

Die regering kan sy belang in die lugdiens dan verklein op dieselfde manier as waarop Telkom byna 20 jaar gelede gedeeltelik geprivatiseer is, het die bronne gesê.

Die SAL sal egter eers vordering moet maak met sy omdraaiplan wat bedoel is om die lugdiens binne die volgende drie jaar weer winsgewend te kry.

Die verkoop van ’n belang in die SAL aan ’n strategiese aandelevennoot word al die afgelope paar jaar geopper, maar dit is die eerste keer dat regeringsbronne voorstel dat die SAL op ’n aandelebeurs genoteer word.

Telkom het in 2003 op die JSE genoteer en byna $500 miljoen ingesamel. Dit het die staat se belang in Telkom tot onder 40% verklein.

Die SAL wou nie op navrae oor dié idee kommentaar lewer nie.

Vuyani Jarana, uitvoerende hoof, is onder nuwe druk van die regering, wat in Oktober R5 miljard opsy gesit het om die SAL se skuld te help terugbetaal.

Dit blyk die SAL het egter al R3 miljard van dié bedrag uitgegee om dringende skuld af te betaal, het Alf Lees, DA-woordvoerder oor finansies, Vrydagmiddag in ’n verklaring gesê.

Die idee is dat die R5 miljard eers via ’n toedelingswetsontwerp verkry sou word, wat eers deur die parlement gedebatteer en goedgekeur moet word.

Lees sê hy gaan aan Tito Mboweni, minister van finansies, skryf om te bevestig of die R5 miljard dan reeds aan die SAL betaal is. As dit die geval is en as dit duidelik is dat Mboweni of die nasionale tesourie buite die wet opgetree het, sal daar gevolge moet wees vir die betrokkenes.

Mboweni het verlede week gesê hy sou verkies dat die SAL eerder gesluit word, as wat dit voortgaan om die staatskas leeg te suig, terwyl Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, gewaarsku het radikale dinge moet gedoen word om die SAL te laat oorleef.

Ander dringender planne om die lugdiens te red, is om met potensiële kommersiële vennote soos Air Mauritius saam te werk, het een van die bronne gesê.

Dit kan tot kostebesparings op roetes na Asië en die Stille Oseaan-gebied lei, omdat die lugdienste die bedryfskoste kan deel.

Die SAL gaan dit ook oorweeg om vlugte na Abuja in Nigerië te hervat wat verlede jaar gestaak is.

Jarana (48), ’n vorige topbestuurder by die selfoongroep Vodacom, is verlede jaar aangestel om die SAL te lei, deels oor sy ervaring in die private sektor. Hy het ook geen verbintenis met die vorige bestuur van die lugdiens nie.

Die vorige uitvoerende hoof en finansiële hoof is afgedank en die vorige voorsitter, Dudu Myeni, is ook weg. Onder hul leierskap het die SAL nie sy onreëlmatige of vermorste uitgawes korrek aangeteken nie en bates is nie korrek gewaardeer nie, volgens ’n verslag van die ouditeur-generaal wat vroeër vanjaar uitgereik is.

Die SAL het vroeër al ’n aandelevennoot gehad toe die regering ’n 20%-belang in 1999 aan Swissair verkoop het. Die belang is in 2002 teruggekoop toe Swissair bankrot geraak het.

Die SAL het in die afgelope boekjaar ’n verlies van meer as R5 miljard gely en in die lopende boekjaar word ’n ewe groot verlies verwag. Die lugdiens het volgens sy bestuur R21,7 miljard nodig om sy sake reg te ruk. Volgens Lees behoort die SAL in sakeredding geplaas te word. Die vakbond Solidariteit het ook al vroeër amptelik aansoek gedoen dat die SAL in sakeredding geplaas word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.