
Die Wimpy-restaurant in Sandton City, Johannesburg.
Famous Brands se Suid-Afrikaanse restaurante, wat Wimpy, Steers, Mugg & Bean en Debonairs insluit, maak ’n bedryfswins, maar sy Britse burgerrestaurant trek hom diep in die rooi vir die boekjaar tot einde Februarie.
Gourmet Burger Kitchen (GBK) se bedryfsverlies gaan £4,6 miljoen beloop, selfs meer as 2018 se £3,7 miljoen, sê Famous Brands Maandag in ’n Sens-verklaring.
In 2017 het GBK nog ’n wins gemaak.
GBK gaan meebring dat Famous Brands vanjaar ’n basiese verlies per aandeel ly. Dit gaan tussen 432c en 528c beloop. In 2018 het die groep ’n wins van 22c per aandeel gemaak.
Die grootste rede vir die daling is die afskrywing van R873,9 miljoen van die waarde van GBK in die eerste helfte van die boekjaar, tot einde Augustus. Daar is ook ’n eenmalige koste van R17,2 miljoen wat met afleggings by GBK te doen het en ’n afskrywing van R25,5 miljoen vir ’n verwante maatskappy waarin Famous Brands ’n minderheidsbelang het.
Famous Brands het GBK in 2016 vir R2,1 miljard gekoop.
Verskeie redes is al gegee vir GBK se probleme: die trae Britse ekonomie, duur huurkontrakte wat verhuurders nie wou heronderhandel nie, en ook dat Britte al hoe meer kos aanlyn bestel eerder as om in restaurante te gaan aansit. GBK se burgers, wat langer neem om te maak, leen hom ook nie tot kitsaflewering nie.
GBK is in sakeredding en minstens 14 takke is gesluit.
Die maatskappy se basiese verdienste per aandeel daal met tussen 16% en 33% tot tussen 265c en 329c.
Die groep reik sy resultate op 29 Mei uit. Dit sal na verwagting meer inligting verskaf oor GBK se herstrukturering.