Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Wimpy se verkope daal in halfjaar
Saam met Mugg & Bean het Steers, Milky Lane, Fishaways en Fego Caffé positiewe resultate getoon, maar Wimpy het ’n daling in verkope aangeteken.

Brittanje se besluit om die Europese Unie te verlaat, begin nou die sous afskep van die borde van die Suid-Afrikaanse restaurantgroep Famous Brands se aandeelhouers.

Die maatskappy, met bekende Suid-Afrikaanse handelsname soos Wimpy, Steers, Debonairs Pizza en Mugg & Bean in sy stal, betaal vir die tweede agtereenvolgende jaar nie ’n tussentydse dividend nie.

Sy wesensverdienste per aandeel het in die ses maande tot einde Augstus met 59% tot 170c per aandeel getuimel teenoor 411c ’n jaar gelede. Sy nabelaste wins het van R411 miljoen in die vorige ooreenstemmende tydperk tot R192 miljoen gedaal.

Dit is Famous Brands se Britse bedrywighede – en die skerp toename in finansieringskoste – wat die winsporsies op sy bord verklein het. Sy Suid-Afrikaanse bedrywighede het wel beter gevaar as dié in oorsese markte, maar dit word steeds deur swak groei aan bande gelê.

Verkope in sy restaurant-afdeling in Suid-Afrika het met 8% tot R415 miljoen gegroei, maar bedryfswins het met 1,3% gedaal tot R202 miljoen.

Die groep het in dié tydperk 77 nuwe restaurante geopen en 107 opgeknap.

Sy Britse verkryging, Gourmet Burger Kitchen (GBK), wat hy in September verlede jaar vir £120 miljoen gekoop het, het die afgelope ses maande onderpresteer.

Makro-ekonomiese faktore en ’n mark waar daar intensief meegeding word, het ’n rol gespeel, sê Darren Hele, uitvoerende hoof van Famous Brands.

“Ons het die eerste sewe tot ag maande ’n wins gemaak, maar die werklikhede van die Brexit-besluit het veral van Maart vanjaar af begin inskop en ons kon die uitwerking op ons Britse bedrywighede se wins sien.

“Ons bedrywighede het vanaf Maart, toe die onderhandelinge oor onttrekking en al die politieke woelinge daarmee saam begin het, verander in negatiewe groei.”

Dis veral die hoër inkomstegroep in Brittanje wat hul besteding aan restaurante begin inkort, sê Hele.

“Dis ’n hoogs mededingende mark met geen ruimte vir laer vraag nie omdat daar oortollige kapasiteit in die mark is.”

Famous Brands se markkapitalisasie het sedert die verkryging van GBK met sowat 40% geval en die aandeelprys het Maandagoggend op ’n vlak van R101,70 per aandeel verhandel, teenoor R172,80 in Oktober 2016 net ná die verkrying van GBK.

Hele sê daar was aanvanklik heelwat steun onder aandeelhouers vir sy GBK-verkryging, maar soos hulle besef het hoe die struktuur van die skuld lyk, het die aandeelprys begin deurloop.

“Skuldbestuur bly ’n prioriteit en sedert die oorsigtydperk het die groep reeds sy eerste verpligting nagekom om die skuld te verminder,” sê Hele.

Daar word by Famous Brands baie aandagtig gekyk na die veranderende voorkeure van die Suid-Afrikaanse verbruiker, sê Hele.

Een hiervan is dat daar minder voete deur winkelsentrums beweeg en dus kry die restaurante in sentrums swaar.

“Mense het ’n voorkeur vir kitskosrestaurante naby hul woonplekke en hulle bestel nie ekstra items nie, daar word versigtig begroot vir uitgawes,” sê Hele.

Dit sal aanpassings in die spyskaart vereis, en daar word gekonsentreer daarop om waarde vir geld te bied, veral by restaurante soos Mugg & Bean, wat nou onbeperkte Wi-Fi aanbied om klante te lok.

Saam met Mugg & Bean het Steers, Milky Lane, Fishaways en Fego Caffé positiewe resultate getoon, maar Wimpy het ’n daling in verkope aangeteken.

“Debonairs Pizza het sterk vertoon en hou aan om markaandeel te wen in ’n uiters mededingende mark onder middel- en hoër inkomstegroepe – ’n aanduiding dat dié handelsmerk steeds uiters veerkragtig is,” sê Hele.

Soos in Brittanje het die hoër inkomstegroepe in Suid-Afrika ook minder geld om aan uiteet te bestee.

“Faktore soos hoër belasting het die besteebare inkomste verlaag,” meen Hele.

Hoewel groei in die restaurantsektor nou nie meer, soos in die laaste paar dekades, deur groot winkelsentrums gedryf word nie, is daar nie rede tot kommer nie, sê Hele.

“Hierdie tydperk is ’n waterskeiding vir ons sektor en ons almal besef die geleenthede is steeds daar, hulle lê net elders en ons sal hulle moet gaan soek.”

Meer oor:  Wimpy  |  Famous Brands  |  Steers  |  Restaurante  |  Halfjaar  |  Verkope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.