Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Winkels in KZN, Gauteng heropen ‘elke uur’

Al vier die land se groot kruideniersgroepe het begin om hul winkels in KwaZulu-Natal (KZN) en dele van Gauteng ná verlede week se strooptogte te heropen.

Pick n Pay en Shoprite het die naweek verseker dat vragmotors op pad is om die winkelrakke vol te maak en verligting te bring nadat ’n kosnood in veral die armer gemeenskappe ontstaan het.

zumaplunder
Winkels word verlede week geplunder. Foto: Reuters

Benewens die gelyknamige winkels besit Pick n Pay ook Boxer-winkels, terwyl Shoprite ook Checkers, Usave en OK insluit. Nie een van dié twee winkelgroepe het bekend gemaak hoeveel van hul winkels en verspreidingsentrums geplunder is nie.

Woolworths en Spar het ook nou aangedui dat hulle begin om hul winkels te heropen nadat dit verlede week gesluit was.

Woolworths het bevestig dat nege winkels in KZN en twee in Gauteng geplunder en ernstig beskadig is. Woolworths se Maxmead-verspreidingsentrum in KZN is betree, maar die infrastruktuur is nie ernstig beskadig nie. Dit is sedertdien beveilig.

Altesame 184 winkels in die Spar-groep is beskadig, naamlik 91 Spar-, 62 Tops- en 31 Build it-winkels. Dit verteenwoordig nagenoeg 7% van Spar se hele netwerk winkels in Suider-Afrika.

Die bedrywighede word stelstelmatig hervat en die lewering van kos aan KZN is geprioritiseer, sê Woolworths in ’n verklaring.

Spar het ook bevestig die verspreiding van voorraad aan winkels in KwaZulu-Natal is hervat. Die geplunderde winkels word tans skoongemaak en herstel.

Winkels word heropen wanneer dit veilig is. Die eerste vragmotors met produkte vir Spar-winkels in dié gebiede het Vrydag onder veiligheidsbegeleiding gery.

Brett Botten, Spar se uitvoerende hoof, sê dit is ’n hartseer tyd vir die land. “Die lewe van so baie mense is ernstig geraak. Ons is met verskeie belanghebbendes in gesprek om die krisis te help bestuur en doen alles wat ons kan om die toenemende kommer oor kostekorte te verlig.

“Ons sal ons franchise-houers ondersteun om die ondernemings wat hulle verloor het, te help herbou, en ook die gemeenskappe wat hulle dien.”

Hy bedank winkels en hul klante vir hul “begrip, samewerking en geduld tydens dié stresvolle tyd vir almal”.

Die Shoprite-groep het oor die naweek gesê sy vragmotors staan letterlik tou om voorraad af te lewer. Winkels word byna uurliks heropen soos die skoonmaakproses vorder.

Woolworths het verseker dat hy wel deur die South African Special Risk Insurance Assurance (Sasria) dekking het vir die skade wat in die onluste veroorsaak is, asook dekking teen die onderbreking van sy sake wat daaruit voortvloei.

“Ons kwantifiseer die skade aan ons winkels en verspreidingsentrum en sal die relevante eise betyds indien.

“Ons werk nou met ons verskaffers en vennote saam om te verseker dat voorraad beskikbaar is. Dit hang grootliks daarvan af dat die veiligheid op belangrike vervoerroetes gehandhaaf word, plaaslike verskaffers kan aanhou produseer, ons werknemers winkels toe kan kom en ons logistiek- en verspreidingsbedrywighede beveilig is.

“Ons is ook met die regering en bedryfsliggame in gesprek om pogings te ondersteun om ’n veilige omgewing vir die hervatting van normale sakebedrywighede te skep.”

Die bestuur en direksie sê hulle is diep dankbaar vir werknemers van die winkels, verskaffingskettings en vespreidingsentrums, sowel as die veiligheidspersoneel en ander wat ononderbroke gewerk het om Woolworths se werksaamhede te beveilig.

Die groep bedank ook klante vir hul begrip en voortgesette steun, asook buurtwagte en gemeenskapsgroepe wat die groep bygestaan het.

Die groep verwag verlede week se onrus, wat in die eerste weke van sy nuwe boekjaar val, gaan verbruikersvertroue knou en mense dus hul beursies laat toehou.

’n Ry vragmotors van Shoprite vertrek Vrydag in Gauteng met tonne noodsaaklikhede vir KwaZulu-Natal. Foto: Verskaf
Handelsverklaring

Saam met die inligting oor die impak van die onluste het Woolworths sy eerste handelsverklaring vir die 52 weke tot 28 Junie bekend gemaak.

Verkope het vergeleke met die vorige boekjaar met 9,7% gestyg.

Die groep het in sy twee belangrikste markte, Suid-Afrika en Australië, gebuk gegaan onder die impak van die Covid-19-pandemie, vertragings in die inentings en die tweede en derde vlaag infeksies.

Die groep kon heelwat skuld afbetaal danksy die verkoop van geboue in Australië wat die David Jones-winkels huisves (die groep huur nou die geboue).

Woolworths Food het markaandeel gewen en verkope het met 6,9% gestyg. In vergelykbare winkels (winkels wat in sowel die afgelope as vorige boekjaar sake gedoen het) het die verkope met 5,7% gestyg.

Woolworths het sy pryse met gemiddeld 4,9% verhoog, maar mense het meer duurder produkte gekoop en ook meer produkte gekoop.

Die groep se ruimte het met slegs 0,6% uitgebrei.

Woolworths is, soos ander kleinhandelaars, negatief geraak omdat drankverkope groot dele van die jaar beperk is.

Aanlyn verkope het met 117,9% opgeskiet en beloop nou 2,3% van verkope in die land. Dit is deur die uitbreiding van die klik-en-optel-diens en die afleweringsdiens Woolies Dash ondersteun.

Wat mode, skoonheid en huisware betref, het Woolworths vir die eerste keer in jare positiewe groei beleef. Die feit dat mense minder kantoorklere koop, raak hom wel, maar sy inkomste uit dié produkte het met 3,5% gegroei en met 4,2% in vergelykbare winkels. Veral in die tweede helfte van die boekjaar (Januarie tot Junie 2021) het verkope met 24,1% opgeskiet, maar dit is grootliks omdat verkope van nie-noodsaaklike produkte van Maart tot Mei 2020 beperk is.

Aanlyn klereverkope het met 114,4% opgeskiet en dra nou 4,1% van die verkope by.

Die groep se klere-afdeling se ruimte is met 6,4% verklein.

Woolworths se kredietboek het met net 0,7% gegroei. Afskrywings het tot 5,3% gedaal (7,9% in die vorige boekjaar).

Australië en Nieu-Seeland

Sekere stede en state was van tyd tot tyd aan inperkings onderwerp en Woolworths sê die aantal voete in sakedistrikte en lughawens is nog baie minder as voor die Covid-19-pandemie.

David Jones se verkope het met 2,3% gestyg (0,9% in vergelykbare winkels). Aanlyn verkope het met 24,4% gestyg en beloop nou 17,3% van totale verkope.

Country Road se verkope het met 13,4% gestyg (15,3% in vergelykbare winkels). Aanlyn verkope het met 30,7% gestyg en beloop 29,7% van totale verkope.

Meer oor:  Spar  |  Woolworths  |  Winkels  |  Plundery En Geweld  |  Kleinhandel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.