Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Winkels verwag somber Kerstyd

Kleinhandelaars verwag nie ’n groot verbetering in die vierde kwartaal van die jaar vergeleke met wat nou beleef word nie, toon ’n peiling van die Buro vir Ekonomiese Ondersoek (BEO).

Dis al amper weer tyd vir Swart Vrydag, maar vanjaar verwag kleinhandelaars ’n gedempte inkopiefees.

Die laaste kwartaal van die jaar, wat in Oktober begin, is tradisioneel kleinhandelaars se belangrikste tyd en die drie maande word normaalweg as die feestyd beskryf.

Die BEO het in ’n verklaring oor sy kwartaallikse peiling onder kleinhandelaars gesê gegewe die jongste syfers vir Julie van Statistieke Suid-Afrika – wat toon kleinhandelverkope is 9% laer as ’n jaar gelede – is dié siening nie verrassend nie.

Die buro sê die vooruitsig vir die kleinhandel bly somber, want talle faktore gaan in die komende maande verbruikersbesteding afrem. Dit sluit in verbruikersvertroue wat swak is, onsekerheid oor die arbeidsmark en die verlore of dalende inkomste van huishoudings.

Kleinhandelaars is meer pessimisties as groothandelaars oor die feestyd wat voorlê.

Groothandelaars het in ’n soortgelyke peiling te kenne gegee dat hulle ’n merkbare verbetering in hul saketoestande in die vierde kwartaal verwag.

Tydens die vierde kwartaal is dit nie net Kerstyd wat voorlê nie, maar ook Swart Vrydag.

Die verbetering wat hulle verwag, is egter vergeleke met die afgelope kwartale en omdat die staat van inperking verslap is.

Die buro meen omdat kleinhandelaars meer pessimisties is oor die vooruitsig vir die feestyd, gaan dit hul bestellings van groothandelaars af negatief raak en dit kan meebring dat groothandelverkope gaan teleurstel.

Die peiling onder kleinhandelaars toon hul sakevertroue het in die derde kwartaal van die 29 jaar-laagtepunt in die tweede kwartaal herstel van ’n telling van 11 tot 36.

’n Telling van 36 beteken steeds minder as vier uit tien van die deelnemers aan die peiling is tevrede met saketoestande.

Die meeste kleinhandelaars van duursame en halfduursame goedere was vir ’n groot deel van die tweede kwartaal nie bedrywig nie en kon nie enige inkomste verdien nie.

“Van so ’n lae telling af toon die verbetering in sentiment eenvoudig hierdie spesifieke kleinhandelaars se optimisme oor hul vermoë om weer handel te kan dryf, eerder as wat dit ’n grondliggende verskuiwing is in die bedryfstoestande of ekonomiese omgewing.”

Hoe word die peiling gedoen?

Meer as 700 kleinhandelaars, groothandelaars en motorhandelaars het tussen 12 en 31 Augustus vraelyste ingevul.

Die peiling poog om inligting vroeër te verskaf oor neigings in dié sektore omdat amptelike data baie laat uitgereik word.

Die peiling word uitgevoer deur ’n vraelys aan senior bestuur in die kleinhandel, groothandel en motorhandel te stuur gedurende die middelste maand van die kwartaal.

Vrae word gevra soos: “Vergeleke met verlede jaar dieselfde kwartaal, is die volume van verkope op, af of dieselfde”. Geen syfers word versoek nie.

Die peiling toon die volumes goedere wat kleinhandelaars verkoop het, het herstel in die derde kwartaal, maar dit is nog ver onder wat dit in 2019 in die ooreenstemmende kwartaal was.

Dit is vanweë die verkoopsvolumes van duursame en half-duursame goedere wat in die derde kwartaal verbeter het namate handelsbeperkinge opgehef is.

Die kleinhandelaars wat kruideniersware verkoop, het nie beter gevaar vergeleke met die tweede kwartaal nie. Dit is toegeskryf aan die verbod op drank- en sigaretverkope omdat dié produkte wesenlik bydrae tot hul inkomste.

Restaurante en kitskosplekke het hul bedrywighede hervat en dit het ook tot gevolg gehad dat verbruikers se besteding effens verskuif het van kruidenierswarewinkels.

Nog ’n rede vir dié kleinhandelaars se swakker kwartaal is dat die aanvanklike opgehoopte vraag na medisyne tydens die inperking verminder het.

Die BEO het ook die resultate van die peilings vir groothandelaars en motorhandelaars uitgereik.

Groothandelaars

Die vertroue van groothandelaars het ook in die derde kwartaal verbeter van die rekordlaagtepunt van vier punte in die tweede kwartaal.

In die derde kwartaal het die indeks tot 33 punte gestyg.

Die herstel is ook toegeskryf aan die inperking wat verslap is.

Die verkoopsvolumes van die twee subkategorieë (verbruikersgoedere en nie-verbruikersgoedere) wat gemeet word, het swak gebly vergeleke met dieselfde kwartaal ’n jaar gelede, maar ’n merkbare verbetering is beleef vergeleke met die tweede kwartaal van 2020.

Motorhandelaars

Motorhandelaars het op 1 Junie verkope hervat nadat hul deure tydens die eerste deel van die inperking gesluit was.

Motorhandelaars se vertroue het ook verhoog tot 16 punte nadat dit in die tweede kwartaal geval het tot ’n vlak wat laas met die internasionale finansiële krisis van 2008 beleef is.

Die verkoopsvolumes van tweedehandse motors het beter vertoon as dié van nuwe passasiersmotors.

Die pryse van tweedehandse motors het 20% gedaal tussen Mei en Junie weens die voorraad motors wat toegeneem het nadat meer motors teruggeneem is.

“Motorhandel gaan onder wesenlike druk bly, veral as huishoudings en maatskappye se balansstate nie herstel nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.