Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Wins vir (nuwe) SAL eers in 4de jaar verwag
Passasiers gaan aan boord van ’n SAL-vliegtuig op die Port Elizabeth-lughawe. Foto: Reuters

Selfs as die Suid-Afrikaanse Lugdiens sy koste met 25% sny en sy inkomste met 10% daal, sal al sy binnelandse roetes, vier van sy streekroetes en drie van sy internasionale roetes, verliese ly.

Hy verwag om eers in die vierde boekjaar ná sy herstrukturering weer winsgewend te wees.

Dit blyk uit die konsepplan van die sakereddingspraktisyns wat oor die naweek uitgelek het.

Volgens die sakeredders se ontleding was net agt van die SAL se roetes verlede jaar winsgewend. Sy internasionale roetes, wat in die 2019-boekjaar 57% van sy inkomste was, het verliese van R3,05 miljard gely.

Die streekroetes, wat 29% van sy inkomste uitmaak, het R315 miljoen se verliese gely, en al sy binnelandse vlugte, wat 14% van sy inkomste was, het R868 miljoen se verliese gely, wys die konsepplan.

Hoewel ’n lys gemaak is van bestemmings waarheen ’n nuwe SAL sal kan vlieg, lui die konsepplan dat die roeteplan hersien kan word gegewe kostebesnoeiings, besparings uit die verminder van personeel, en danksy vliegtuighuurmaatskappye wat na vore gekom het om hul huurkoste te verlaag.

Die SAL het tussen 15 Desember en 15 Januarie ’n beter as verwagte vakansieseisoen beleef ondanks die negatiewe sentiment ná die nuus oor sy sakeredding, die staking in November en reisagente wat nie meer SAL-kaartjies wou verkoop toe reisversekeraars hul dekking onttrek het nie, lui die konsepplan.

Maar ná 15 Januarie het die besprekings drasties gedaal, en die aankondiging in Februarie van nog vlugte wat gesny is om koste te bespaar, het tot nog minder besprekings gelei.

En toe kom Covid-19.

Volgens die konsepplan is dit onmoontlik om te voorspel wat die vraag na lugvervoer op kort, medium- en lang termyn ná die Covid-19-pandemie gaan wees.

Dit is ook onmoontlik om te voorspel hoeveel lugdienste sal oorleef, watter lande hul grense vir internasionale vlugte sal oopmaak en wanneer, en hoe die pryse van kaartjies en reisversekering geraak sal word.

Die sakeredders waarsku dat likwidasie van die lugdiens sal beteken dat alle werknemers hul werk sal verloor en dat werknemers net ’n maksimum bedrag van R32 000 as skeidingspakkette sal ontvang – as daar geld beskikbaar is. Boonop sal die likwidasie tot 24 maande duur en sal werknemers eers aan die einde daarvan hul geld kry.

’n Sakereddingsproses sal goedkoper as likwidasie wees. Die gelde betaalbaar as likwidateursgelde sal boonop sowat R369 miljoen bedra, volgens berekeninge van die ouditgroep PwC.

Die hulppakket van R21 miljard van die staat wat die sakeredders nou voorstel, behels:

  • R2 miljard se bedryfskapitaal om die lugdiens ná Covid-19 aan die gang te kry.
  • R2 miljard as koste vir skeidingspakkette vir die sowat 2 200 werknemers wat afgelê sal moet word. Namate die lugdiens sy bedrywighede hervat en weer groei, en ’n vraag vir meer personeel ontstaan, sal die afgelegde personeel voorkeur kry om heraangestel te word.
  • R600 miljoen as betaling aan lopende krediteure.
  • Die R16,4 miljard wat in Februarie se begroting aan die SAL belowe is, is om die R3,5 miljard plus rente terug te betaal wat die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika geleen het, en dan R12,719 miljard wat aan kommersiële banke geskuld word. Die geld sal oor drie boekjare terugbetaal word, en sluit ook die R2 miljard in wat banke vir die SAL se sakereddingsproses geleen het.
  • Die banke wat die SAL met die R2 miljard gehelp het, is Nedbank, Investec, Absa, FirstRand en Standard Bank. Hulle is saam met Sanlam, Momentum, Ashburton en Investec Asset Management (nou Ninety One) ook die leners van die SAL se historiese skuld van R9,22 miljard.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.