Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Woede oor Delta nie na Kaap mag vlieg

Die DA, wat die Wes-Kaap regeer, is die josie in nadat die nasionale departement van vervoer ’n bilaterale ooreenkoms met die VSA geminag het deur die lugdiens Delta se vlugte na Kaapstad te blokkeer.

Fikile Mbalula, minister van vervoer, het Delta verbied om op sy vlug van Atlanta na Johannesburg by Kaapstad aan te doen op pad terug na die VSA.

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens is in die kruisvuur nadat die departement van vervoer eensydig besluit het om ’n bilaterale ooreenkoms oor vlugroetes met die VSA te minag. Foto: Getty Images

So ’n stop is bekend as ’n mede-terminaal-ooreenkoms, wat behels dat lugdienste ’n driehoekige roete mag vlieg op pad terug na hul oorsprong om sodoende meer lughawens te bedien in een enkele vlug.

Passasiers van Atlanta kan dus in Johannesburg of in Kaapstad afklim.

Onder ’n bilaterale ooreenkoms tussen die VSA en Suid-Afrika mag Amerikaanse vlugte sulke vlugroetes aanpak in ruil daarvoor dat Suid-Afrikaanse vlugte dieselfde mag doen in die VSA.

Die bilaterale ooreenkoms geld sedert 1996.

Die departement van vervoer oorweeg Delta se aansoek om hernuwing van die magtiging nou al langer as ’n jaar, maar het in Mei finaal besluit om dit af te keur.

In weerwraak het die Amerikaanse regering nou die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se reg tot mede-terminale opgeskort.

Die SAL is egter nie van plan om voor 2023 weer internasionaal te vlieg nie.

David Maynier, DA-LUR van finansies en ekonomiese ontwikkeling in die Wes-Kaap, sê Donderdag dit is onaanvaarbaar dat die departement van vervoer nié Delta se aansoek goedkeur nie.

Maynier sê dit is ’n enorme terugslag vir Wes-Kaapse toerisme en sake wat afhanklik is van die paar internasionale vlugte wat nog vlieg om buitelanders na die provinsie te lok.

Volgens die DA blyk dit asof Mbalula se departement die besluit geneem het in ’n poging om mededinging met plaaslike lugdienste te verhoed.

Ingevolge die bilaterale ooreenkoms mag Delta tegnies plaaslike passasiers in Johannesburg optel, maar die DA bevestig dat Delta nie van plan was om dié fasiliteit te benut nie.

Delta wil net passasiers van Atlanta na sowel Johannesburg as Kaapstad neem en dan terug na Atlanta.

Die lugvaartbeleid-hersieningskomitee (APRC) het aangedui dat hy voortaan alle driehoekige vlugroetes van internasionale lugdienste wil stopsit.

Maynier wys uit dat dié beleid nie vir openbare kommentaar gepubliseer is nie, “wat daarop dui dat enkele uitgesoekte amptenare van die APRC nou die nasionale beleidsrigting bepaal het.”

Volgens Maynier is die Amerikaanse departement van vervoer omgekrap oor die besluit, wat as ’n eensydige wysiging aan die bilaterale ooreenkoms beskou word.

“Die Amerikaanse regering het sy bekommernisse op verskeie vlakke en agentskappe van die regering van Suid-Afrika geopper en hulle aangeraai dat die herinterpretasie moontlike gevolge kan hê vir die magtiging wat die SAL van die departement het.”

Meer oor:  Suid-Afrikaanse Lugdiens  |  Delta  |  Fikile Mbalula  |  Covid-19  |  Staat Van Inperking  |  Lugdienste  |  Koronavirus  |  Toerisme  |  Inperking  |  Vlugte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.