Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
‘Wolwe bekyk toe oudit-skape’

Hierdie berig het vroeër gelui dat Molefi Nkhabu die meeste van die klagtes teen Siya Vilakazi, die SAL se oudithoof, "dadelik van die tafel gevee het". Nkhabu was deel van ’n taakspan wat die klagtes ondersoek het en wil dit duidelik stel dat hy geen besluite op sy eie geneem het nie en dat die taakspan elke klag eers noukeurig ondersoek het voordat dit geskrap is.


 

Vliegtuie van die Suid-Afrikaanse Lugdiens staan op ’n aanloopbaan. Foto: Bloomberg

Die geskorste oudithoof van Eskom was deel van ’n ondersoek wat die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se omstrede oudithoof van alle blaam in ’n tenderproses onthef het.

Boonop het nóg ’n prominente ouditeur wat bevind het Siya Vilakazi is blaamloos ’n jaar later ’n pos by die einste SAL as hoof van wetsnakoming en risiko aanvaar.

En dit is dié tragikomedie van foute, onprofessionele gedrag en “persepsie van vooroordeel” wat die Instituut vir Interne Ouditeurs van Suid-Afrika (IIA SA) nou laat besef het hulle moet dalk maar net van voor af begin met ’n ondersoek teen Vilakazi.

Die IIA SA het die afgelope week dié bevinding – dat die ondersoek teen Vilakazi van voor af moet begin – ná maande se gesloer en verskonings aan die klaer verskaf met ’n waarskuwing dat hy dit met niemand anders mag deel nie.

Die klaer, Simon Mantell, sê egter daar is niks in die uitspraak wat nie reeds in die openbare domein is nie en hy sal hom nie laat muilband deur die beroep van interne ouditeurs wat so skaamteloos vir mekaar probeer skerm het nie.

Die sage het al in Februarie 2014 begin toe die SAL ’n tender toegestaan het aan Mantelli’s Biscuits om teen R5 miljoen soutkoekies vir Mango-vlugte te verskaf – net om dit kort daarna terug te trek en die kontrak vir iemand anders te gee.

Vilakazi moes die tenderproses ondersoek en het bevind daar was niks fout met die koekie-tender nie.

Die tesourie het egter alarm gemaak en gesê die SAL behoort met Mantelli’s te skik.

’n Eksterne oudit het óók die foute in die koekie-tender bevestig wat Vilakazi nie kon raaksien nie.

Vilakazi, wat steeds die SAL se oudithoof is, se gedrag het toe self tot ’n klagte by die IIA SA, die waghondorganisasie vir interne ouditeurs, gelei.

Hier het twee ouditeurs ’n leidende rol gespeel om Vilakazi vry te spreek. Hulle was:

  • Molefe Nkhabu, Eskom se forensiese en oudithoof, wat die taakspan gelei het in die aanvanklike ondersoek. Die meeste van die klagtes is geskrap nadat dit ondersoek is en net ’n mindere klag is na ’n dissiplinêre paneel verwys.

Hoewel dit oënskynlik nie verband hou met sy ondersoek na Vilakazi nie, het Eskom Vrydag aan Rapport bevestig Nkhabu is al sedert Oktober verlede jaar geskors met volle salaris.

Eskom wou nie die redes vir Nkhabu se skorsing openbaar maak nie.

  • Rob Newsome, wat ’n direkteur van IIA SA was, het die dissiplinêre paneel gelei.

Mantell het gekla dat Newsome nooit verklaar het dat sy werkgewer in daardie stadium, Out-sourced Risk and Compliance Assessment (Orca), baie werk vir die SAL en Mango gedoen het nie.

Mantell het Newsome hieroor by die Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters (Saica) gaan verkla omdat Newsome ook ’n rekenmeester is.

’n Jaar nadat Newsome vir Vilakazi van blaam onthef het, het die SAL hom aangestel as waarnemende hoof van risikobestuur en wetsnakoming. Hy is intussen weg by die SAL.

Saica het vir Newsome skuldig bevind aan onprofessionele gedrag deurdat hy “sonder integriteit” en objektiwiteit opgetree het in sy ondersoek na Vilakazi.

Newsome se straf was ’n teregwysing en ’n boete van R50 000, maar die boete is vir twee jaar opgeskort op voorwaarde dat hy nie weer oortree nie en opleiding ondergaan oor belangebotsings.

Hy moes wel die helfte van Saica se regskoste betaal.

Newsome se komitee het beslis daar was geen bewyse dat Vilakazi iets verkeerds gedoen het nie.

Dit is ondanks ’n beëdigde verklaring waarin Vilakazi bevestig het hy het sy werksdokumente vernietig en jare later weer uit die niet versin en net weer die ou datums aangebring.

Newsome het in sy dissiplinêre verhoor voor Saica erken hy het nie eens Vilakazi se verklaring gelees nie.

Dit het die IIA SA ’n jaar en drie maande geneem om Mantell se appèl te oorweeg.

In Maart vanjaar het die IIA SA aangedui dat die bevinding gemaak is en die verslag voorberei word, maar die uitreiking daarvan is vertraag toe die komitee twee maande later agterkom Mantell se oorspronklike appèl was nie in die formaat van ’n beëdigde verklaring soos hulle proses vereis nie.

Mantell het onverwyld die vereiste eedsverklaring gelewer en gedoen wat hy kon om die uitreiking van die beslissing te versnel.

Eers ná Rapport se navraag die afgelope week het die IIA SA die beslissing aan Mantell oorhandig.

Die IIA SA se appèlkomitee het bevind die besware teen New-some is gegrond omdat daar ’n persepsie van vooroordeel is.

Die komitee het glad nie oor die meriete van Vilakazi se saak uitspraak gelewer nie.

Daarvoor moet die IIA SA ’n nuwe paneel saamstel om van voor af te begin en dié keer baie versigtig wees oor wie hulle aanstel, het die komitee gewaarsku.

Meer oor:  Sal  |  Suid-Afrikaanse Lugdiens  |  Eskom  |  Tenders  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.