Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Woolies en kie styg flink ná nuus oor winterklere

Genoteerde klerewinkelgroepe soos Woolworths het Dinsdag stewig gestyg ná die aankondiging verlede week dat hulle voortaan vanaf vlak 5 van die nuwe fase van inperking winter- en kinderklere, asook beddegoed, mag verkoop.

TFG, wat Foschini besit, sal eersdaags winterklere mag verkoop.

Woolworths, Truworths, The Foschini Group (TFG) en Pepkor het almal meer as 5% hoër gesluit, vergeleke met die JSE se indeks van alle aandele wat die dag met 1,01% gestyg het.

Ontleders het verwag dat die aankondiging Dinsdag die kleinhandelaars se aandeelpryse gaan beïnvloed. Dit was die eerste verhandelingsdag ná dié aankondiging aangesien die JSE Maandag op die vakansiedag gesluit was.

Casparus Treurnicht, portefeuljebestuurder van Gryphon Batebestuur, meen op kort termyn sal daar ’n verbetering in die sentiment jeens dié aandeelpryse wees namate die inperkingsregulasies op kleinhandelaars verslap word.

Hy verwag egter winkelgroepe se aandeelpryse gaan op langer termyn onder druk bly en die styging gaan nie volgehou word nie weens die druk wat die inperking en die pandemie op die ekonomie gaan plaas.

“Daar is twee langtermynprobleme: Die staat se onvermoë om ekonomiese groei te verseker en die permanente skok van die pandemie op indiensneming, wat meer mense as voorheen werkloos gaan laat.

“Winkelgroepe gaan dus op langer termyn onder druk bly en ek voorsien geen volhoubare styging in hul aandeelpryse nie.”

So het hulle gestyg
  • Woolworths: 9,22% hoër op R30,33
  • Truworths: 5,09% hoër op R30,75
  • TFG: 7,82% hoër op R74,56
  • Pepkor: 10,68% hoër op R11,40
  • Mr Price-groep: 3,4% hoër op R135,14



Die regering het Saterdag ’n dokument uitgereik vir kommentaar oor die verskillende ondernemings wat in die verskillende fases van inperking sal kan handel dryf.

’n Groot aandelemakelaarsfirma wat nie geïdentifiseer mag word nie omdat sy navorsing nie openbaar gemaak mag word nie, sê die dokument verskaf ’n duidelike uiteensetting van die ekonomiese bedrywighede wat toegelaat sal word in die vyf verskillende fases wat deur die regering bepaal is.

“Die dokument is onderhewig aan hersiening (gegrond op openbare terugvoering), maar gegewe die kort tyd tussen die publikasie en inwerkingtreding (vlak 4 geld van Vrydag af), meen ons die finale uitslag sal waarskynlik baie na aan die dokument wees,” skryf sy aandele-ontleders.

Volgens die ontleders is klere- en tekstielkleinhandel in twee kategorieë opgedeel (sien onder meer besonderhede van hoe dit in die verskillende fases gaan werk). Die twee kategorieë is:

  • Kinder- en winterklere, en beddegoed; en
  • Alle klere, huisware en tekstiel.

“Die belangrikste is dat kinder- en winterklere in vlak 5 ingesluit word, wat na ons mening beteken dat die risiko heeltemal verwyder word dat hierdie kategorieë weer gesluit gaan word as die koronavirus-infeksiekoers eskaleer en die land terugbeweeg na dié vlak.”

Pepkor se Pep en Ackermans het verreweg die grootste blootstelling aan kinderklere.

“Die betreklike voordeel van Pepkor teen ander klerewinkelgroepe is dat ’n groot deel van dié winkels in taamlik besige klein winkelsentrums en opelug-winkelsentrums is teenoor die betreklik stil groot winkelsentrums.”

TFG het waarskynlik die minste blootstelling aan kinderklere. Die ontleders meen dit gee aan TFG ’n agterstand teenoor hul mededingers.

Klerewinkels wat kinderklere en winterklere verkoop, sal mag oop wees, sowel as huiswarewinkels vanweë die beddegoed wat hulle verkoop.

“Die vraag is of dit die moeite werd is om ’n klerewinkel oop te maak as jy net toegelaat word om winter- en kinderklere te verkoop of ’n huiswarewinkel as jy net beddegoed mag verkoop.

“Gegewe dat veral groot winkelsentrums se besoekers nog geruime tyd min gaan wees, gaan die verkope die personeelkoste regverdig?”

Die makelaarsfirma som klein- en groothandel (winkels, spazawinkels, aanlyn winkels en informele handel) wat in elke fase toegelaat word om handel te dryf, so op:

Vlak 5

  • Alle voedselprodukte (uitgesluit vooraf-gekookte warm kos en drank)
  • Persoonlike versorging (grimering en parfuum word nie spesifiek genoem nie), babaprodukte
  • Huishoudelike skoonmaakmiddels
  • Mobiele lugtyd
  • Kinderklere, winterklere, beddegoed en verwarmers
  • Aanlyn aflewering van inligtingkommunikasietegnologie (IKT)-toerusting, insluitend rekenaars, selfone en toerusting vir huiskantore.

Vlak 4

  • Gekookte kos (slegs vir huisaflewerings)
  • Skryfbehoeftes en opvoedkundige boeke
  • Tabakprodukte
  • IKT-toerusting en -produkte (deur winkels en aanlyn winkels)

Vlak 3

  • Ysterware vir die publiek
  • Skryfbehoeftes en alle boeke
  • Alle huishoudelike toerusting
  • Alle klere, tekstielware vir huise en skoene
  • Motorvoertuie
  • Drankverkope vir verbruik buite die perseel, op beperkte ure

Vlak 2

  • Kleinhandelaars wat nie voorheen gelys is nie, word toegelaat om sake te doen, insluitend winkels wat meubels, plastiekware, juweliersware, sporttoerusting en kombuisgereedskap verkoop

Vlak 1

  • Alle kleinhandel word toegelaat
Meer oor:  Truworths  |  Edcon  |  Tfg  |  Pepkor  |  Woolworths  |  Edgars  |  Mr Price  |  Foschini  |  Kleinhandelaars  |  Staat Van Inperking  |  Covid-19  |  Inperking  |  Klere  |  Klerekleinhandel  |  Klerewinkels  |  Koronavirus  |  Kleinhandel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.