Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Woolies: Gaan nuwe baas ‘koebaai, Australië’ sê?

Die groot vraag is of Woolworths se nuwe baas koebaai gaan sê vir die rampspoedige reusebelegging wat die groep in Australië gemaak het en op Suid-Afrika gaan herfokus.

Die nuwe uitvoerende hoof wat Woolworths Dinsdag aangekondig het, Roy Bagattini (56) is ’n oud-Suid-Afrikaner. Hy begin 17 Februarie in die pos en is tot dan nog derde in bevel by die Amerikaanse maatskappy Levi Strauss & Co.

Dis waarskynlik heel gepas dat die nuwe uitvoerende hoof wat Woolworths Dinsdag aangekondig het, Roy Bagattini (56), ’n oud-Suid-Afrikaner is.

Daarmee is die vertrek van Ian Moir, ’n Australiër, ná nege jaar aangekondig.

Die groot kruisie agter Moir se naam is Woolworths se reusebelegging in Australië toe die afdelingswinkel David Jones teen R21,6 miljard gekoop is. Teen Augustus verlede jaar het Woolworths meer as die helfte van die belegging afgeskryf.

“Moir is uiteindelik in die pad gesteek,” sê Casparus Treurnicht, portefeuljebestuurder van Gryphon Batebestuurder.

Hy voel aandeelhouers moet verlig wees. “Ek is verbaas dat hy so lank uitgehou het.”

LEES OOK: Só het Woolworths se gek troue Doer Onder verloop

Die aandeelprys het Dinsdag met tot 8% tot R52,48 gespring.

Woolworths se aandeelprys dobber naby die vlak waarheen dit gegly het in 2018 toe die groep die eerste keer in 16 jaar ’n verlies gely het.

Renier de Bruyn, beleggingsontleder van Sanlam Private Wealth, sê dis onduidelik of die mark opgewonde is oor Bagattini of bly oor Moir se vertrek.

Beleggers moes destyds skepties gewees het met David Jones se aankoop. Hoeveel plaaslike kleinhandelaars het reeds op daardie tydstip hul vingers oorsee verbrand?
Casparus Treurnicht van Gryphon

Volgens hom het Woolworths die mark voorberei daarop dat hy kyk na ’n opvolger vir Moir. Moir sou in 2021 aftree en in 2018 se jaarverslag is gesê daar word met opvolgbeplanning begin.

Toe Moir einde 2010 die jare lange voormalige uitvoerende hoof, Simon Susman, opgevolg het, is sy aanstelling al ’n jaar voor dit aangekondig.

Bagattini begin oor sowat ’n maand en sy werkgewer Levi Strauss & Co het ook eers Dinsdag aan beleggers aangekondig hy vertrek.

Die suksesvolle omkeer van talle maatskappye internasionaal word aan Bagattini toegedig. Hy was vanaf 2013 by Levi Strauss & Co en is drie jaar gelede as derde in bevel van die maatskappy aangestel. Voorheen was hy by die internasionale biergroepe Carlsberg en SABMiller.

LEES OOK: Woolworths se aandeelprys die laagste in ses jaar

Treurnicht glo Moir is uitgestoot.

“Hulle het eers die geskikte plaasvervanger gevind voordat Moir sy bedanking kon indien,” sê hy.

David Jones, die afdelingswinkel in Australië waarmee Woolworths sukkel. Foto: Carla Gottgens, Bloomberg

Treurnicht is verbaas oor die sprong in die aandeelprys, want hy glo dit gaan baie lank neem om dinge reg te ruk by die groep.

“Die mark lyk asof hulle verwag dit gaan ’n vinnige herstel wees, maar dis nie die werklikheid nie.”

Volgens hom is die groot vraag nou wat Bagattini met Australië gaan doen.

“Hy beskik oor geen emosionele verbintenis met David Jones nie.”

Volgens Treurnicht is David Jones ’n swart kruisie agter Moir se naam.

“Beleggers moes destyds skepties gewees het met David Jones se aankoop. Hoeveel plaaslike kleinhandelaars het reeds op daardie tydstip hul vingers oorsee verbrand?” vra hy.

“Dit is ook nie net die feit dat David Jones vir te veel gekoop is nie, maar alles wat gedoen is daar en die honderde miljoene wat bestee is wat geen waarde aan aandeelhouers gegee het nie.”

Hy glo dis ’n teken dat Moir aanbly in sy rol as waarnemende uitvoerende hoof van David Jones in Australië waarin hy in Augustus verlede jaar aangestel is. Moir moes verlede jaar die meeste van sy tyd in Australië bestee om dié sukkelende onderneming reg te ruk.

Treurnicht glo dis ’n aanduiding dat die onderneming afgesny en verkoop kan word.

“Dit is twee ondernemings wat apart bestuur word.”

De Bruyn is bewus van spekulasie in die mark dat Australië verkoop kan word. Hy dink egter dié onderneming sal eers omgekeer moet word, want anders gaan dit teen ’n swak prys verkoop word.

“Ek sal baie verbaas wees as Woolworths nou net vir David Jones verkoop.”

Volgens hom is die maatskappy daar besig met ’n spesifieke transformasieproses, soos die opknapping van die Elizabeth Street-vlagskipwinkel in Sydney, nuwe stelsels om voorraad beter te bestuur en die produk te verbeter en om oor tyd winkels te verklein.

Gegewe hoe baie hulle ingesit het en wanneer hulle verwag om die voordeel te pluk, gaan dit dalk ’n bietjie voortydig wees, te vroeg om tou op te gooi.
Renier de Bruyn van Sanlam

“Die vrugte van die transformasie is nog nie gesien nie. Gegewe hoe baie hulle ingesit het en wanneer hulle verwag om die voordeel te pluk, gaan dit dalk ’n bietjie voortydig wees, te vroeg om tou op te gooi.”

De Bruyn glo ook die kontinuïteit by David Jones is goed omdat die grootste hulp daar nodig is.

Moir het voordat hy by Woolworths begin het ’n suksesvolle geskiedenis by Country Road in Australië gehad.

Ruk klere reg

Aan die ander kant dink De Bruyn ook ’n nuwe uitvoerende hoof gaan met nuwe oë na Australië kyk.

Ian Moir, Woolworths se uitvoerende hoof tot 16 Februarie.

“ ’n Mens kan verwag dat Moir dalk partykeer te geheg gevoel het aan David Jones. Bagattini gaan minder sentimenteel na die onderneming kyk.”

Treurnicht glo Bagattini sal begin deur Woolworths te herfokus.

“Ek sal nie verbaas wees as hy op Suid-Afrika herfokus nie.”

Terwyl Woolworths se koswinkels briljant gedoen het, was sy klerewinkels ’n ramp, sê hy.

“Die feit dat klere ’n gemors is, spreek boekdele.”

De Bruyn glo daar hoef nie gepeuter te word aan die kosonderneming nie.

“Dit is ’n masjien wat goed werk. Dit is klere en Country Road en David Jones in Australië wat op die oomblik swak vaar.”

Hy glo nie die probleme met die klerewinkels kan alleenlik voor die bestuur se deur gelê word nie.

“Ek dink nie die swak prestasie van Woolworths is net aan Moir toe te skryf nie. Jy kan nie iemand aanstel en dink môre gaan dinge beter vaar nie. Die omgewing daarbuite is swak, ”sê De Bruyn.

In Suid-Afrika maak die ekonomie dinge moeilik terwyl Australië dieselfde strukturele veranderinge ervaar wat wêreldwyd gesien word.

“Klerekleinhandelaars wêreldwyd sukkel weens die ontwrigting in verbruikerspatrone en hoe aanlyn verkope die kleinhandelomgewing verander het,” sê De Bruyn.

Veral afdelingswinkelgroepe soos David Jones is wêreldwyd onder druk, terwyl spesialiswinkels nie so sukkel nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.