Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Woolies: Geen dividend ná nóg hulp Doer Onder

Die ernstige impak wat die koronavirus-pandemie en die gepaardgaande inperkings op sy kontantvloei het, het die Woolworths-groep oortuig om sy dividend vir die boekjaar tot einde Junie op te skort.

Die Woolworths in die V&A Waterfront in Kaapstad ’n dag voor die vlak 4-inperking begin Mei begin het. In die agt weke van begin Maart tot einde April het klereverkope van Woolworths met 61% geval. Nellie Brand-Jonker

Dit kom nadat beleggers reeds verlede jaar ’n laer dividend gekry het weens die foute wat die groep gemaak het toe hy die Australiese David Jones ’n paar jaar gelede met ’n groot hoop skuld gekoop het.

Die groep het nou verdere finansiële bystand aan die sukkelende Australiese maatskappy verskaf.

Woolworths het Woensdag sy tweede handelsverklaring sedert begin April uitgereik.

Die groep sê die besluit om nie ’n dividend vir die boekjaar te verklaar nie, is deel van ’n reeks inisiatiewe om kontant te skep en te bewaar.

LEES OOK: Woolies toon eerste impak van inperking op kos, klere

Verkope van David Jones en Country Road in Australië, asook in sy klerewinkels in Suid-Afrika, is erg benadeel deur die inperkings om die virus se verspreiding te beperk.

“Die direksie glo dit is in beste belang van die maatskappy om die uitkering aan aandeelhouers te stop totdat die situasie wat uit Covid-19 spruit, gestabiliseer het. Die direksie het gevolglik besluit om nie ’n dividend vir die boekjaar tot einde Junie te verklaar nie en dividende sal daarna oorweeg word afhangende van die toestande,” lui die handelsverklaring.

Impak op wins

Die groep sê die fokus is verskerp op die bestuur van likiditeit en bedryfskapitaal en om bedryfs- en kapitaalbesteding te verminder.

“Ten einde handel te stimuleer en voorraadvlakke te bestuur, het die bestuur met ’n reeks gefokusde promosies en uitverkopings begin wat daarop gemik is om kontant te skep en te bewaar.”

Dit gaan ’n negatiewe impak op sy bruto winsmarges hê in die boekjaar tot einde Junie.

Die groep waarsku die pandemie en inperkings gaan ’n nadelige impak op sy wins en kontantvloei in die tweede helfte van sy boekjaar hê.

Nog ’n handelsverklaring sal middel Julie uitgereik word wanneer die groep groter sekerheid sal hê oor die impak op sy wins.

In die jongste verklaring sê die groep sy kernwins per aandeel kan met meer as 20% daal.

Verkope

Die groep se verkope het in geheel in Suid-Afrika en Australië met 17% gedaal in die agt weke tot einde April. So het die verkope in Suid-Afrika verloop:

  • Koswinkels

Verkopegroei het van Maart tot einde April versnel. In die eerste nege weke van die halfjaar het verkope met 7,5% toegeneem teenoor die vergelykende nege weke in 2019. In die tweede agt weke van die halfjaar was die jaar-tot-jaar-styging 17%.

Klante besoek winkels minder, en wanneer inkopies gedoen word, word meer op een slag gekoop.

Die koswinkels het standvastig gebly danksy sterk verhoudings met verskaffers.

Verkopegroei het in Mei sterk gebly ten spyte van beperkte handelstoestande weens die inperking, die nodigheid om ’n veilige afstand te handhaaf en die verbod op die verkope van warm kos en wyn.

Daar was ’n wesenlike toename in aanlyn verkope.

  • Klerewinkels

Verkope was reeds swak in die eerste nege weke van die boekjaar met ’n jaar-tot-jaar-styging van 1,9%. In die agt weke van begin Maart tot einde April het klereverkope met 61% geval.

Dié winkels het begin Mei heropen om winterklere te verkoop. Nadat die aanlyn verkope van alle produkte van 14 Mei af toegelaat is, is die koers waarteen verkope gedaal het, gestuit.

Volgens Woolworths is sy span reg vir vlak 3 van die inperking wat op 1 Junie afskop wanneer alle beperkings op die verkoop van items opgehef word.

  • Kredietverlening

Die finansiëledienste-afdeling is benadeel deur die sluiting van winkels, laer besteding aan nienoodsaaklike goedere en die daling in die rentekoers.

Dit het druk geplaas op groei in die kredietverleningsboek en die inkomstegroei daaruit. ’n Agteruitgang in die betaling van winkelskuld gaan in die tweede helfte van die boekjaar tot ’n hoër afskrywing lei.

Skuldlas

Verskeie projekte is begin om die groep se balansstaat te midde van die krisis te versterk.

Dit sluit in gesprekke met Suid-Afrikaanse banke oor enige potensiële impak op die kontrakbepalings van sy lenings.

Die groep het ook ’n lening van A$75 miljoen aan sy Australiese onderneming verskaf. ’n Voorsiening vir ’n verdere lening van A$25 miljoen is gemaak.

Onderhandelinge is onderweg met skuldbriefhouers wat finansiering aan sy Australiese onderneming verskaf het om sekere kontrakbepalinge op te skort.

Die Australiese ondernemings se lenings gaan herstruktureer word en Australiese eiendom gaan verkoop word.

“Enige opbrengs uit hierdie proses sal gebruik word om skuld terug te betaal,” lui die handelsverklaring.

Gesprekke is ook aan die gang met die verhuurders in Australië om David Jones se getal winkels te verminder.

Meer oor:  David Jones  |  Woolworths  |  Kruideniersware  |  Klerekleinhandel  |  Kos  |  Kleinhandel  |  Klere
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.