Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Woolies plaas nou sy hoop op ‘athleisure’

Beleggers was Donderdag dikbek dat Woolworths vir die tweede keer in ses maande nie ’n dividend verklaar het nie, selfs ondanks ’n styging in die groep se verkope en wins.

Woolworths se winkel in die V&A Waterfront-winkelsentrum in Kaapstad. Foto: Argief

Die groep se aandeelprys het teen 10:30 met 1,4% tot R46,11 gedaal.

Woolworths sê in sy resultate vir die ses maande tot 27 Desember hy keer vanjaar geen tussentydse dividend uit nie in die lig van die onsekerheid en wisselvalligheid wat weens die Covid-19-pandemie voortduur.

Dit kom nadat die groep verlede jaar met sy voljaarresultate ook nie ’n dividend uitgekeer het nie.

Die probleme kom egter al van voor die pandemie af – die tussentydse dividend het in die vorige drie jaar gedaal voordat dit vanjaar heeltemal gekelder is. Vantevore is die Australiese skuldnagmerrie die skuld gegee omdat die groep hopeloos te veel vir die afdelingswinkel David Jones betaal het.

Roy Bagattini, wat verlede jaar as uitvoerende hoof aangestel is in die plek van Ian Moir, sê hulle sal na gelang van wat in die res van die jaar gebeur, later besluit of ’n voljaardividend uitgekeer gaan word. Die groep is ook besig om sy dividendbeleid in die breë te hersien.

Intussen lyk dit asof Woolies die Covid-19- en ekonomiese storms heel goed getrotseer het. Die groep se verkope vir die ses maande is 5,3% hoër op R43 miljard, maar dis grootliks danksy kosverkope, wat met 10,9% gestyg het.

In syfers
  • Verkope (konsessieverkope ingesluit) styg met 5,3% tot R43 miljard.
  • Voorbelaste wins styg met 24,6% tot R2,7 miljard.
  • Aangepaste verwaterde wesensverdienste per aandeel styg met 19,4% tot 197,7c.
  • Geen tussentydse dividend word verklaar nie. Verlede jaar was dit 89c per aandeel.

Woolworths se klere-afdeling, wat nou al jare lank sukkel om die regte modes op die regte tyd in winkels te kry, het uiteraard nou nóg ’n speek in die wiel gekry: Woolworths verkoop gewoonlik meer formele kantoordrag en met meer mense wat van die huis af werk, vlieg dit nou nie juis van die rakke af nie. Die afdeling, wat ook skoonheid en huisware insluit, se verkope het met 11,2% geval.

Ná die einde van die halfjaar, in Februarie, het Woolworths sy reeks sportiewe gemaksdrag, oftewel athleisure, bekend gestel. Athleisure is nou al geruime tyd ’n tendens as die vermenging van straat-, oefen-, uitgaan- en werkklere, veral in beroepe wat nie formele kantoordrag voorskryf nie.

Manie Maritz, besturende direkteur van Woolworths Fashion Beauty Home (FBH), sê hulle is opgewonde oor die ontvangs van die reeks sedert dit bekend gestel is en glo dit gaan oor die volgende paar maande en jare nog sterk groei.

Woolworths gaan ook in die algemeen gemakliker klere as formele klere begin aanhou, en wil ook sy basiese klerereeks verbeter, sê Maritz.

Bagattini het aan Netwerk24 gesê dis ’n mededingende mark, maar die kleremark as geheel is baie mededingend. Met druk op verbruikers se besteebare inkomste dryf hulle af na goedkoper produkte.

Woolies hou egter vol hy gaan nooit probeer om goedkoop klere te verkoop nie.

Gehalte bly sentraal tot die Woolies-handelsmerk, en baie mense wil steeds daardie gehalte koop, veral vir goed soos onderklere. “Ons wil die bestemming wees vir basiese klere van goeie gehalte.”

Hy voel wel daar is te veel verskillende reekse in Woolworths te koop en hulle gaan die aantal reekse verminder.

Altesame 50% van die klere op Woolworths se rakke word nou in Suid-Afrika of sy buurlande vervaardig, en 30% net in Suid-Afrika. Die groep bly verbind tot die meesterplan vir die klerebedryf en wil die persentasie verhoog. Dit maak ook sin omdat dit beteken nuwe produkte kan baie gouer op winkelrakke kom.

Woolworths Food

Woolworths Food het vir die tiende opeenvolgende jaar markaandeel gewen.

Verkope het met 10,9% tot R18,9 miljard gestyg. In vergelykbare winkels was verkope 9,4% hoër. Winkelruimte het met net 0,4% toegeneem.

Dit blyk mense kom Woolies toe, selfs al het kospryse in Woolworths Food met gemiddeld 4,8% gestyg, dus met meer as die inflasiekoers. Mense koop ook duurder items, blyk uit die syfers.

Bagattini sê hul navorsing toon 60% van hul verbruikers eet nou meer groente as vantevore. Al hoe meer mense word vegetariërs of veganiste en verkope van plantgegronde produkte styg steeds baie skerp.

Die groep se eie voedselwetenskaplikes en hul verskaffers werk heeltyd aan innoverende produkte – op enige gegewe tydstip is 10% tot 15% van Woolies se kosprodukte nuut op die rak.

Hy sê dis in pas met ’n groter fokus op welstand en gesondheid.

Desember was veral ’n goeie maand en Woolies sê sy Kersreekse het aanklank gevind by verbruikers.

Aanlyn kosverkope het met 158,5% opgeskiet en verteenwoordig nou 2,2% van verkope. Dis danksy nuwe aflewerings- en klik-en-kom-haal-opsies wat die groep op al hoe meer plekke bekend stel.

Die afdeling se winsgrens is hoër danksy minder verliese en doeltreffender verspreiding.

Woolworths Fashion Beauty Home

Verkope het met 11,2% tot R6,4 miljard gedaal en vergelykbare verkope met 11%. Winkelruimte is met 1,9% verminder.

Daar was ’n kleiner winteruitverkoping weens laer voorraadvlakke aan die einde van die boekjaar in Junie en ook ’n kleiner Swart Vrydag.

Verkope van sowel vroue- as mansklere het gedaal. Die groep sê wel sy kinderklere het markaandeel gewen.

Huisware en skoonheidsprodukte het die beste gevaar.

Aanlyn verkope het met 118,8% gestyg en verteenwoordig nou 4% van Suid-Afrikaanse verkope. Dis nagenoeg dubbeld die gemiddelde aanlyn verkope in die land as persentasie van alle kleinhandelverkope.

David Jones

Woolworths se totale bedrywighede in Australië, waar hy David Jones en Country Road besit, is geknou deur 12 weke van inperking in die staat Victoria, wat onder meer Melbourne insluit. Dis egter winsgewender as voorheen danksy die heronderhandeling van huurooreenkomste en staatsteun aan ondernemings.

Verkope by die afdelingswinkel David Jones het met 8,8% tot A$1,1 miljard gedaal en met 10,5% in vergelykbare winkels.

Aanlyn verkope het met 55,5% gestyg en dra nou 17,7% tot verkope by.

Die verkoop van die manswinkel in Bourkestraat, waaroor voorheen berig is, het wins van A$23,5 miljoen opgelewer. Dit groep het ook heelwat aan huur bespaar.

Bagattini sê daar is steeds te veel David Jones-winkels en dit sal mettertyd verminder word.

LEES OOK: Woolworths verkoop David Jones se grootste winkel

Country Road

Verkope daal met 5,2% tot A$512 miljoen en in vergelykbare winkels met 2,4%.

Verkope was wel in die laaste ses weke van die jaar 6,7% hoër, ondanks die feit dat mense steeds minder winkels toe gegaan het en verkope in stadskerns en by lughawewinkels nog swak is.

Aanlyn verkope het met 52,5% gestyg en is nou 31,6% van Country Road se verkope.

Woolworths Financial Services

Die afdeling se inkomste uit rente het met 25,5% tot R842 miljoen gedaal, deels weens die verlaging van drie persentasiepunte in die rentekoers verlede jaar en deels omdat verbruikers minder geld uitgegee het. Die kredietboek het met 2,2% gekrimp. Woolworths maak voorsiening vir 4,1% se swak skuld, teenoor 3,3% verlede jaar.

Vooruitsig

Woolworths verwag dat omstandighede minstens die res van sy boekjaar “uitdagend en onseker” gaan bly.

Vertragings in inentings en die moontlikheid van nog vlae infeksies sal verbruikers onder druk hou.

In Australië herstel die ekonomie beter, maar staatsteun wat tydens die inperkings gegeld het, begin ook nou opdroog, wat verbruikersbesteding tam kan maak.

Die verkoop van die Elizabethstraat-gebou word nou voltrek en sal die groep se syfers beter laat lyk. Die geld sal gebruik word om skuld te verminder.

    Meer oor:  David Jones  |  Woolworths  |  Roy Bagattini  |  Kleinhandelaars  |  Klerebedryf  |  Kruideniersware  |  Klerekleinhandel  |  Kos  |  Kleinhandel  |  Klere
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.