Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Woolies se klere: Dís wat nuwe baas dink is fout

Duur, verwarrende handelsname wat nie stylvol genoeg is nie.

Woolworths se moderne klerereekse vir vroue het die afgelope jare nie die tipiese klant beïndruk nie.

Die teleurstellende vertoning van Woolworths se klerewinkels is een van die groot kopsere wat Roy Bagattini, die nuwe uitvoerende hoof van die Woolworths-groep, reeds sedert Februarie vanjaar moes aanpak.

Hy weet presies wat fout is en het ’n plan, maar sê dit gaan nie oornag gebeur nie.

Bagattini het verlede week vir die eerste keer as nuwe hoof die groep se resultate vir die boekjaar aan beleggers aangebied.

Die syfers toon watter impak die inperking op sy klerewinkels se verkope gehad het. Bagattini erken egter dat die klerewinkels se vertoning al vir verskeie jare teleurstel.

Woolworths se klerewinkels het vir die boekjaar tot einde Junie ’n daling van byna 11% in omset beleef nadat winkels vir vyf weke gesluit moes wees.

Die winsmarges op klere is ook negatief geraak deur die promosies en uitverkopings wat gehou moes word nadat die inperking verslap is, ten einde voorraad van sy rakke af te kry in aanloop tot die somer.

Die wins van die klerewinkels voor rente en belasting het met bykans 60% gedaal van R1,6 miljard tot R683 miljoen.

  

Wat is fout?

Bagattini sê daar is fout met die strategie van die klerewinkels, sowel as met die uitvoering daarvan.

  • Wie is teikenmark?

Een van die foute wat gemaak is, is dat Woolworths al jare lank “weifel” tussen sy tradisionele klante en nuwe opkomende klante.

“Ons het albei die geleenthede misgeloop.”

Hy sê dit het ’n sekere strategie tot gevolg gehad wat nie aanklank gevind het by sy klante nie.

“Om eerlik te wees, ons het die klant uit die oog verloor en verstaan gevolglik nie werklik ons klante en wat hulle wil hê en wat hulle daarvoor wil betaal nie.”

  • Probleme met bestellings

Die leweringstye van bestellings is langer as wat dit moet wees. Dit laat die winkelgroep onbuigsaam en nie flink genoeg om tydig te reageer op wat klante soek nie.

  • Te veel reekse

Daar is te veel reekse klere. Hy sê die reeks eie handelsname wat Woolworths self ontwikkel het, is nie uiteenlopend genoeg nie. “Dit is moeilik om hulle van mekaar te onderskei.”

Sy eie handelsname sluit in RE:, Edition, Studio. W en Woolworths Classic Collection.

Ons word aangeskryf vir die gehalte van noodsaaklike klere, maar word ook as te duur beskou en beslis nie as stylvol genoeg nie.
Roy Bagattini van Woolworths

Die handelsname is nie kenmerkend genoeg nie. “Ons verskillende handelsname is nie duidelik genoeg vir waarvoor dit staan, in watter kategorieë dit speel en watter produkte deel daarvan moet wees nie.”

“Vanuit die klant se oogpunt is ons posisionering van elke reeks onduidelik en verwarrend.

“Ons word aangeskryf vir die gehalte van noodsaaklike klere, maar word ook as te duur beskou en beslis nie as stylvol genoeg nie.”

  • Klein skaal

Boonop veroorsaak die wye verskeidenheid reekse dat die skaalekonomieë wat nodig is, nie naastenby is wat dit moet wees nie, sê Bagattini. Skaalekonomieë is die besparing in koste wat verkry word as meer produksie van dieselfde produk plaasvind.

  • Te duur

Hy sê sekere handelsname en die produkte wat aangebied word, is te duur.

  • Produktiwiteit laat

Produktiwiteit is nie na wense in die klerewinkels nie.

  

Wat moet gedoen word?

Die beginpunt is om die relevante vermoëns te hê om die foute reg te stel.

Roy Bagattini, uitvoerende hoof van Woolworths, was voorheen by Levi.

Woolworths-klerewinkels het van Junie ’n nuwe besturende direkteur, Manie Maritz, wat van TFG gekry is. Maritz sal die herposisionering van die klerewinkels lei.

Volgens Bagattini beplan hy ’n “holistiese hersiening van die strategie”.

’n Meer geteikende benadering sal gevolg word met die posisionering van die handelsname in die mark.

“Ons is duidelik daaroor dat ons meer doelbewus moet wees oor die rol wat ons handelsname speel en waarvoor dit staan, asook die kategorieë waarin hul moet speel en teen watter pryspunte.

“En ons moet baie meer vertroue hê oor wat ons moet doen om die handelsname te laat uitstaan, soos met handelsware-aanbieding en bemarking.

Bagattini sê wat betref die verskaffingsketting is daar geleenthede om dit te optimaliseer. Tans word 50% van die groep se produkte vanuit Suider-Afrika aangekoop. “Ons kan meer doen om groter buigsaamheid en flinkheid te verkry.”

’n Deel van die plan met die vertoning van die klerewinkels is om groter markaandeel in skoonheidsprodukte te wen.

Woolworths wil ook sy aanbod van huisware uitbou, veral aanlyn. “Ons is opgewonde oor wat ons tydens die inperking in dié kategorie gesien het, en gaan dit sterk najaag.”

Hy sê daar sal aan die waardeproposisie gewerk word op klere en ’n “belegging sal in pryse gemaak word” om meer mededingende pryse aan te bied.

Die laaste deel van die plan is om spasie drasties te verminder ten einde produktiwiteit te verbeter.

Volgens Bagattini gaan winkelruimte in die komende drie jaar met tussen 15% en 20% verminder word.

Dit kan moontlik beteken dat sommige winkels gesluit gaan word, maar dit behels meer om bestaande winkels se spasie te verminder, sê hy.

  

Vordering

“Die goeie nuus is dat die dinge nie onoorkombaar is nie en reggestel kan word,” sê hy.

Die span werk hard om die hele strategie te verfris en in die proses word “laaghangende vrugte” geïdentifiseer wat op kort termyn resultate kan lewer.

Bagattini sê hy is reeds tevrede met die vordering wat deur Maritz en sy span gemaak is. “Ons gaan van die voordele op kort termyn sien. Maar die groter goed gaan eers begin vrugte afwerp in die tweede helfte van die boekjaar.

“Weens die aard van die onderneming gaan dit nie onmiddellik wees nie, maar met verloop van tyd kan Woolworths geneem word tot waar hy verdien om te wees, en dit is ’n mode-bestemming.”

Meer oor:  Woolworths  |  Roy Bagattini  |  Kleinhandel  |  Klere  |  Klerekleinhandel  |  Klerewinkels
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.