Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Woolies se kos nie meer ‘te duur’

Tien jaar gelede het mense nog gedink Woolworths Food is “te duur”. Nou dink meer mense “dis die moeite werd”, sê Ian Moir, uitvoerende hoof van die Woolworths-groep.

South Africa Johannesburg Rosebank The Zone Mall W
Verbruikers se persepsie van Woolworths Food se pryse word toenemend as “waarde vir geld” beskou. Foto: Getty Images

Moir het verlede week op ’n aanbieding oor die groep se resultate vir die boekjaar tot einde Junie Woolworths Food se vertoning as ongelooflik beskryf.

Dis volgens hom danksy innoverende produkte, die fokus op gerief vir klante en ’n belegging in pryse.

Wenresep

Hy het Woolworths Food beskryf as ’n “eersteklas-onderneming wat die beste in sy soort in Suid-Afrika, maar ook wêreldwyd is”.

Die bestuurspan gebruik nie Suid-Afrika as ’n maatstaf nie, maar meet die onderneming teen die beste oorsee. “As ons nie probeer om die beste te bly nie, gaan ander ons inhaal.”

Hy sê die wenresep van Woolworths Food is die fokus op gerief en om mense se lewe te vergemaklik. Dit word bereik deur kleiner winkelformate in woonbuurte en in Engen-winkels, en ten opsigte van opsies vir voorbereide maaltye.

Terselfdertyd verbeter die persepsie oor sy pryse en word dit toenemend as “waarde vir geld” beskou.

“In die heersende ekonomiese toestande het ons baie beter hiermee gevaar as wat enigiemand verwag het.”

Netwerk24 het reeds in 2016 geskryf dat Woolworths verbruikers se persepsie oor sy pryse wil verbeter.

LEES OOK: Woolworths beloof beter pryse vir kos

Woolies sê die afgelope twee boekjare in sy jaarverslae danksy “beleggings in pryse deur middel van promosies” het verbruikers se persepsie van sy pryse verbeter. Sy pryse is meer mededingend danksy promosies in die middel van die maand én maandeinde, en ook deur goedkoper pryse op grootmaat-aankope te bied.

Moir sê nie almal was oortuig van dié strategie nie. “Hulle het gesê dit is nie wat Woolworths-klante soek nie, maar nou weet ons dit is inderdaad wat hulle soek. Almal wil goeie waarde hê. Hulle wil goeie kos en goeie gehalte, maar ook goeie waarde, hê.”

Hy het aan Netwerk24 gesê: “Woolies word in ’n ander lig as tien jaar gelede beskou. Tien jaar gelede het mense gedink Woolies is duur, nou beskou meer mense dit as die moeite werd.”

Grootste wins in groep

In die boekjaar tot einde Junie is verkope van R32,2 miljard in Woolies se 442 koswinkels gegenereer. Dit sluit in 340 winkels in Suid-Afrika, 22 in die res van Afrika en 80 in Engen.

Die omset was amper 8% meer as in die vorige boekjaar. Nuwe winkels uitgesluit, het die verkope met 5,4% gestyg.

Hoër pryse het ook gehelp om die omset te lig, maar pryse het gemiddeld net met 1,8% gestyg, teenoor onderskeidelik 3,2% en 8% in die voorafgaande twee boekjare.

Woolworths Food het nog altyd die grootste omset in die Woolworths-groep gehad, maar dit het in die 2018-boekjaar vir die eerste keer die grootste bydraer tot wins geword. Dit is deels omdat Woolworths se klerewinkels in dié boekjaar begin sukkel het.

In die afgelope boekjaar het Woolworths Food se bedryfswins met amper 5,5% gestyg. Dit het in die tweede helfte van die boekjaar tot 10% toegeneem.

Markaandeel

Volgens Moir het Woolworths Food se verkope die afgelope byna tien jaar beter as die mark gegroei, wat beteken die markaandeel word van elders af gevat.

Hy het aan Netwerk24 gesê hoewel dit moeilik is om te bepaal van wie markaandeel gewen word, is dit waarskynlik van al drie die groot rolspelers in sy mark – Checkers, Pick n Pay en Spar.

“Ons verwag dat Woolworths Food se volume-verkope en markaandeel in die komende boekjaar sal bly groei.”

Checkers het in 2017 aangekondig dat hy klante van Woolworths wil weglok. Checkers het in daardie jaar goeie groei onder hoërinkomstegroepe gekry deur sy voorafbereide geriefskos en vars produkte uit te brei.

LEES OOK: Checkers g’n Woolies, maar soek meer van sy klante.

Woolworths het daarop gesê Checkers steel nie van sy klante nie. Moir het destyds aan Netwerk24 gesê Woolies verloor nie enige markaandeel in voorafbereide kos nie.

LEES OOK: Checkers steel nie óns klante, sê Woolies

Na Australië

Woolworths probeer sy suksesresep met Woolworths Food in Australië herhaal. Die eerste alleenstaande koswinkel open in Oktober in dié land.

Dit word onder die David Jones-handelsnaam gedoen omdat daar reeds ’n ander Woolworths-handelsnaam in Australië is.

Moir ontken gerugte dat die strategie om Woolworths Food daar te repliseer, laat vaar is. “Ons is heeltemal daartoe verbind om ons fantastiese Woolies-kosonderneming in Australië te repliseer.”

Hulle toets wel nog wat in dié mark sal werk. Hulle verwag dat die onderneming binne 18 maande gelyk sal breek.

Moir sê ’n gesamentlike onderneming met BP is in Australië begin, soortgelyk aan die ooreenkoms tussen Woolies en Engen in Suid-Afrika.

Tien winkels word eers uitgetoets en die eerste een open in November.

Meer oor:  Woolworths  |  Kleinhandelaars  |  Kos  |  Kleinhandel  |  Kospryse  |  Winkelgroepe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.