Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Woolies toon eerste impak van inperking op kos, klere
Woolworths
Een van Woolworths se winkels. Foto: Argief

Die verkope in Woolworths se koswinkels het in die vier weke tot einde Maart, ingesluit die tydperk waarin paniekaankope voorgekom het voordat die inperking weens die koronavirus-pandemie begin het, met 27% jaar tot jaar gespring.

Die groep het in ’n handelsoorsig aan beleggers gesê in vergelyking daarmee het die verkope jaar tot jaar 7,5% in die voorafgaande nege weke gestyg.

Daarteenoor het die verkope van sy klere in Suid-Afrika, wat onderhewig is aan regulasies wat bepaal dat klerewinkels ’n nie-noodsaaklike diens is en nie handel mag dryf nie, met amper 28% jaar tot jaar gedaal. Verkope in die voorafgaande nege weke het reeds treurig met 1,9% gegroei omdat Suid-Afrika se ekonomie reeds swaar getrek het.

Die personeel van sy klerewinkels sal steeds betaal word.

Baas, topbestuur sny eie salarisse

Die direksie van die Woolworths-groep, die uitvoerende hoof en topbestuurspan het besluit om 30% minder van hul direkteursgelde en salarisse in die komende drie maande te ontvang.

“Die besparings hieruit sal gebruik word om bykomende finansiële bystand te gee aan personeel wat deur uiterse ontbering in die krisis gaan.”

Sukkel om te betaal

Die impak van die inperking gaan ’n wesenlike impak op die klerewinkelsegment se resultate vir die laaste helfte van die huidige boekjaar tot einde Junie hê.

Aanlyn verkope is bemoedigend nieteenstaande dat dié aflewering van produkte eers na die inperking sal plaasvind.

Boonop gaan Woolworths se finansiëledienste-afdeling benadeel word deur die klerewinkels wat gesluit is, die daling in besteebare inkomste en laer rentekoerse.

Die kombinasie van faktore sal die inkomste uit kredietverlening verminder en meer slegte skuld sal afgeskryf moet word.

Skuldverligtingsmaatreëls word oorweeg, en die finansiële dienste heroorweeg ook aan watter klante krediet toegestaan word.

Vraag weer normaal

Die groep sê ná die ongekende vraag in sekere produkte in sy koswinkels voor die inperking, het die vraag matiger geword en inkopiepatrone word weer hervat namate vertroue in die voedselverskaffingsketting groei.

“Danksy sterk vennootskappe met verskaffers kan voorraad deurlopend in hierdie kritieke tyd verseker word.”

Wesenlike fokus word geplaas op sy webtuiste om die baie hoër vraag van verbruikers tydens die inperking te hanteer.

Die meerderheid van die koswinkels bly oop.

Personeel wat deel is van die noodsaaklike dienste wat deur die groep gelewer word, sal bykomende betaling gedurende die inperking kry om die groep se dankbaarheid teenoor hulle te betoon.

Winkels ook toe in Australië

Die maatstawwe in Australië en Nieu-Seeland om die virus te bekamp eis ook sy tol.

Sy winkels is gesluit in Nieu-Seeland weens die inperking wat daar deur die regering afgedwing word.

In Australië is daar nog nie ’n volskaalse inperking nie, maar mense se beweging word egter reeds etlike weke wesenlik ingeperk.

David Jones gaan in die afsienbare toekoms nog sy groter winkels oophou. Kleiner winkels is reeds gesluit.

Verkope in die vier weke tot einde Maart het 19% gedaal.

Aanlyn verkope het met 108% gestyg (en dit verteenwoordig sowat ’n vyfde van verkope). Die voorafgaande nege weke se verkope het met 0,5% gestyg.

Country Road se kleiner winkels maak dit moeilik om ’n afstand tussen klante – soos vereis met Covid-19 – aan te moedig. Al sy winkels is van 28 Maart af vir vier weke gesluit en net aanlyn verkope word gedoen.

Daar kry personeel bystand van ’n loonsubsidieprogram van die regering.

Die verkope van Country Road het met 32% gedaal in die vier weke tot einde Maart. Die voorafgaande nege weke het verkope 1,7% gestyg.

Wins gaan daal

Beleggers is gewaarsku dat sy wesensverdienste per aandeel vir die boekjaar meer as 20% laer gaan wees as in die ooreenstemmende tydperk.

’n Verdere handelsoorsig sal uitgereik word wanneer meer sekerheid verskaf kan word oor die omvang van die impak op die wins.

Kontantvloei

Stappe word gedoen om die impak op sy wins te verminder, bedryfskapitaal beter aan te wend en kontantvloei en likiditeit te bewaar.

Die klerewinkels wat gesluit moes word ingevolge regulasies gaan ook ’n wesenlike impak op die kontantvloei van die groep in die tweede helfte hê.

Talle stappe word geneem om die impak daarvan te versag.

Dit sluit in om te fokus op aanlyn verkope.

Die ander maatreëls is om koste “aggressief te verminder”.

Die groep het glad nie uitgewei daaroor of hy afleggings oorweeg nie.

Huurkontrakte heronderhandel

Kapitaalbesteding is verminder met net die belangrikste projekte wat voortgesit gaan word.

“Ons het met ons klereverskaffers geskakel om minder produkte in die stadium in te neem en om betalingsterme te verleng.”

Ook die groep is in gesprek met verhuurders om alternatiewe reëlings te tref ten opsigte van huurkontrakte.

Meer oor:  Woolworths  |  Covid-19  |  Klere
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.