Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Woolworths: 7 dinge om oor die nuwe baas te weet

Van bier na jeans na Woolworths en baie ondervinding in die omkeer van maatskappye. Hier is ’n paar feite oor Roy Bagattini (56), die nuwe uitvoerende hoof. Die Woolworths-groep het Dinsdag uit die bloute aangekondig dat hy Ian Moir (60), wat die pos nege jaar beklee het, gaan opvolg.

  

1. Suid-Afrikaner

Bagattini is ’n oud-Suid-Afrikaner, terwyl Moir ’n Australiër is.

  

2. Ikoniese jeans

Bagattini was voor sy aanstelling by Woolworths derde in bevel van Levi Strauss & Co, die eienaar van die ikoniese Levi’s-jeans.

Roy Bagattini. Foto: Levi Strauss

Hy was tot nou die uitvoerende visepresident van die groep en die hoof van die streek wat die VSA en Suid- en Sentraal-Amerika insluit. Voordat hy in Junie 2016 in dié pos aangestel is, was hy die uitvoerende visepresident en hoof van die maatskappy in Asië, die Midde-Ooste en Afrika. In ’n verklaring van drie jaar gelede is gesê onder sy leierskap het dié streke “voortdurend buitengewone goeie groei gelewer, hy het die maatskappy se klanteverhoudinge versterk en top-bestuurstalent gelok”.

Hy het in 2013 by die maatskappy begin werk.

Bagattini het Woolworths ook in die verklaring oor sy aanstelling Dinsdag as ’n “ikoniese maatskappy” beskryf.

  

3. Biergroep

Voordat hy hom by Levi Strauss aangesluit het, was hy van 2009 af die senior visepresident van die internasionale biergroep Carlsberg vir Asië en Afrika. Hy was verantwoordelik vir die groep se strategie in Asië en erkenning word aan hom gegee vir die maatskappy se wesenlike groei in dié streek. Voorheen het hy van 1991 tot 2009 in verskeie uitvoerende en leierskapsrolle in Rusland, China, Indië en die VSA vir SABMiller gewerk. Hy het ook vir SABMiller in Suid-Afrika gewerk.

  

4. Omkeerdeskundige

Die omkeer van verskeie internasionale maatskappye word aan hom toegeskryf, aldus Woolworths. “Roy het omvattende ondervinding op bedryfs- en bestuursvlak en die omkeer van maatskappye in verbruikers- en kleinhandelmarkte,” sê Hubert Brody, voorsitter van Woolworths-groep.

Ian Moir, uitvoerende hoof van Woolworths tot 16 Februarie vanjaar.

“Dit gaan van onskatbare waarde wees terwyl ons voortgaan om die strukturele veranderings wat plaasvind in die kleinhandelsektor te navigeer en die spesifieke probleme van ons groep aan te pak.”

“Roy is ’n bewese leier, ’n internasionale burger en ’n inspirerende bestuurder wat in die uitvoering van planne uitblink. In sy tyd by Levi Strauss & Co het hy voortdurend wesenlike groei bewerkstellig en onderpresterende dele van ons onderneming omgekeer,” het Chip Bergh, uitvoerende hoof van dié maatskappy, in 2016 in ’n verklaring gesê.

In Woolworths se verklaring word ook gesê dat Bagattini talle grootskaalse samesmeltings en verkrygings gelei het.

  

5. Vergoeding

’n Dokument van die genoteerde Levi Strauss-groep toon dat Bagattini in die boekjaar tot einde November 2018 ’n totale vergoeding van R57,4 miljoen verdien het. Dit sluit ’n groot prestasiebonus in. Die totale vergoeding is $3,9 miljoen omgeskakel in vandag se wisselkoers en sluit opsies en aandele in wat ook aan hom toegeken is. Sy basiese vergoeding het sowat R11,5 miljoen beloop.

Daarteenoor het Moir se vergoeding in die pasafgelope boekjaar tot einde Junie R23 miljoen beloop. Daarvan was sy basiese salaris R18,9 miljoen. Hy het ’n paar jaar lank geen prestasiebonus gekry nie omdat Woolworths so swak gevaar het. Moir se vergoeding is egter al in Business Day  as “vrygewig” beskryf omdat hy groot aandeletoekennings gekry het.

  

6. Goeie voet

Bagattini verlaat Levi Strauss op goeie voet. In die verklaring oor sy vertrek by Levi, wat Dinsdag uitgereik is, het Bergh gesê: “Roy was ’n belangrike lid van die span wat die ommekeer van Levi Strauss & Co gelei het. Hy is ’n gerespekteerde leier wie se insigte en perspektief daartoe bygedra het om ons wenstrategie te vorm.

“Ons is gereed vir voortgesette sukses. Ek is dankbaar vir Roy se bydrae tot die sterk fondament wat nou by Levi Strauss in plek is. Ek weet hy sal ’n uitvoerende hoof met ’n groot invloed in sy volgende rol wees.”

Daarteenoor kan dieselfde nie van Moir gesê word nie.

Talle beleggers is kwaad oor hoe Woolworths se reusebelegging in Australië verloop het toe die afdelingswinkel David Jones vier jaar gelede gekoop is. Dié belegging is al bykans heeltemal afgeskryf. Moir het ook nie gehelp om Woolworths se belangrike klerewinkels in Suid-Afrika reg te ruk nie.

LEES OOK: Só het Woolworths se gek troue Doer Onder verloop

Woolworths het in die boekjaar tot einde Junie 2018 sy eerste verlies in 16 jaar gely.

LEES OOK: Woolworths ly 1ste verlies in 16 jaar

Begin verlede jaar het dinge nie beter gelyk nie en moes die groep sy dividend verlaag.

Teen die einde van die 2019-boekjaar was dit duidelik sy nagmerrie in Australië duur voort.

LEES OOK: Woolworths se nagmerrie in Australië duur voort

  
7. Dringend gesoek

Bagattini se aanstelling is aangekondig net sowat ’n maand voordat hy op 17 Februarie begin. Selfs Levi Strauss het eers Dinsdag sy beleggers daaroor ingelig.

Daarteenoor was Moir se aanstelling en oorname by die vorige uitvoerende hoof, Simon Susman, langer as ’n jaar voor die tyd aangekondig.

Woolworths het wel in 2018 se jaarverslag verwys na opvolgbeplanning wat gedoen word omdat Moir in 2021 aftree.

Toe die jaarresultate in Augustus 2019 uitgereik is, is verwys na die werwingsproses wat reeds begin het.

Die direksie het Moir toe gevra om wesenlik meer tyd in Australië deur te bring sodat hy toesig kan hou oor David Jones se omkeer in die hoedanigheid as waarnemende uitvoerende hoof van dié afdelingswinkelgroep. Moir self het al begin verlede jaar aangekondig dat hy meer tyd in Australië gaan deurbring om David Jones reg te ruk.

Meer oor:  David Jones  |  Woolworths  |  Roy Bagattini  |  Ian Moir  |  Kleinhandel  |  Winkelgroepe  |  Kleinhandelaars
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.