SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Maatskappye
Woolworths: David Jones se klere gewild, naam nié

Woolworths, wat die afgelope paar jaar maar net nie modegiere reg kan lees nie, het besluit die handelsnaam David Jones werk nie in Suid-Afrika nie.

Die klere werk, die naam nié, sê Woolworths oor sy David Jones-handelsnaam. Dit gaan voortaan Woolworths Classic Collection genoem word. Foto: Woolworths-webwerf

David Jones is die afdelingswinkel wat Woolworths in 2014 in Australië gekoop het en dié winkel se klere – insluitende vroueklere – word die afgelope paar jaar in plaaslike Woolworths-winkels verkoop.

Die klere gaan steeds hier verkoop word, het Woolworths bevestig, maar met die Classic Collection-etiket. Dis Woolworths se eie handelsnaam.

Country Road-klere, nóg ’n Australiese handelsnaam wat aan Woolworths behoort, gaan steeds onder dié naam verkoop word.

“Sedert die bekendstelling van die David Jones-handelsnaam in Suid-Afrika het ons verbruikersentiment nougeset waargeneem om te sien of die naam by ons teikenmark weerklank vind.

“Hoewel die produk goed gevaar het, het ons baie lojale, ‘klassieke’ klante die begeerte uitgespreek dat ons meer klem lê op die Woolworths-handelsnaam en die gehalte en styl waarvoor dit staan,” het ’n woordvoerder van Woolworths gesê.

Sy sê die “herontluiking” van Classic Collection is ’n “mosie van vertroue” in die mag van Woolworths as handelsnaam.

Woolworths het hom die afgelope paar jaar liederlik misgis met klerestyle en dít terwyl oorsese mededingers soos H&M en Zara hulle hier kom vestig het.

Daarby het klereverkope in die algemeen vasgeval, ook by ander winkelgroepe, weens die enorme druk op verbruikers en die feit dat mense minder ruimte het om klere op skuld te koop.

Verlede jaar het veral vroue minder nuwe klere gekoop weens kwaai stygings in kospryse en vanjaar weens die skerp styging in brandstofpryse, die instelling van belasting op toegevoegde waarde en die stygende werkloosheidskoers. Daar was wel die afgelope ruk ’n opflikkering in klereverkope – in Augustus het die verkope van klere en skoene met ’n stewige 6% gestyg, volgens Statistieke Suid-Afrika. Dis teenoor Augustus 2017.

Die besluit om die klere Classic Collection te maak, is glad nie ligtelik geneem nie. Dié klerereeks het verlede jaar gesukkel om te verkoop en toe het Ian Moir, uitvoerende hoof, gesê vroue van 35 tot 55 jaar wou dit nie dra nie: “Die klere was te jeugdig vir hulle – hemde en rompe was te kort . . . Ek dink die ouens het net ’n bietjie vergeet wie hul klante is.”

Vanjaar was die reeks wéér te “modern” vir Woolworths se “tipiese klant”, het Moir in Augustus gesê.

Die groep het sedert 2017 34 mode-ontwerpers aangestel om sy mode-aanbod reg te ruk.

Vir die boekjaar tot einde Junie het die maatskappy ’n verlies van R3,5 miljard gely, die eerste in 16 jaar, omdat hy ’n derde van die waarde van sy bates in Australië moes afskryf.

Die omset van Woolworths-klere in Suid-Afrika het in die jaar met 1,5% gedaal. Verkope in die winkels wat in die vorige jaar oop was, dus nuwe winkels uitgesluit, het met 4% gedaal. Dit is ten spyte van pryse wat gemiddeld met net 0,8% gestyg het.

Die bruto winsgrens is negatief geraak deur meer afslag en promosies. Dit het veroorsaak dat die wins voor belasting van dié afdeling met 21% tot R1,7 miljard gedaal het.

Meer oor:  David Jones  |  Woolworths  |  Country Road  |  Ian Moir  |  Kleinhandel  |  Klere  |  Klerekleinhandel  |  Mode  |  Kleinhandelaars  |  Klerebedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.