Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Woolworths se oudbaas vertrek met goue handdruk

Die man wat die skuld kry vir Woolworths se groot mislukking in Australië, Ian Moir, gaan eersdaags finaal die maatskappy verlaat nadat ’n plaasvervanger vir hom in sy waarnemende pos gekry is.

Ian Moir, uitvoerende hoof.

Woolworths sê in ’n verklaring Moir word as uitvoerende hoof van David Jones met ingang 26 Oktober deur Scott Fyfe vervang.

Sy plaasvervanger is nog nie amptelik aangekondig nie, maar by navraag bevestig.

Woolworths sê Moir sal die maatskappy verlaat nadat hy die leisels oorgegee het aan Fyfe in die komende weke. ’n Datum kon nie verskaf word nie.

Moir het as waarnemende uitvoerende hoof van David Jones gedien en was vir agt maande sedert Februarie in die pos nadat hy as uitvoerende hoof van die Woolworths-groep bedank het.

Moir was aan die stuur van Woolworths toe die groep in 2014 meer as R21 miljard opgedok het vir David Jones in Australië, wat hom van toe af net probleme besorg het.

Moir het in Februarie 2019 teenoor beleggers erken “foute is gemaak” toe hy aangekondig het die tussentydse dividend word verminder.

LEES OOK: Woolies: ‘Ons het fout gemaak’, verlaag dividend

Woolworths se aandeelprys het in 2015 ’n hoogtepunt van R102,52 bereik, maar staan nou op R36,26.

Toe Woolworths in Januarie aangekondig het Moir gaan in Februarie sy pos verlaat en word deur Roy Bagattini vervang, het die groep se aandeelprys met 6% gestyg.

Moir was vir nege jaar in die pos en 20 jaar by die groep, want hy was voorheen by die Country Road-groep wat deur Woolworths besit word.

LEES OOK: Woolies: Gaan nuwe baas ‘koebaai, Australië’ sê?

Ontleders het geglo hy is in die pad gesteek.

Moir het in Februarie erken Woolworths het te veel betaal vir David Jones, en dit op die verkeerde tyd gekoop.

Vet goue handdruk

Moir het die afgelope twee weke vir nog omstredenheid gesorg toe dit bekend geword het hoeveel Woolworths hom gaan betaal voor sy vertrek.

Die vergoedingskomitee het middel 2019 die bepalings goedgekeur wat van toepassing sou wees as Moir bedank.

Dit sluit in dat hy geregtig is op die uitbetaling van sy uitstaande verlof en 12 kennisgewingmaande se betaling van R22,5 miljoen.

Moir, ’n Australiër, se verhuisingskoste na dié land word ook betaal.

Die komitee het in 2013 ’n handelsbeperking van 24 maande met hom ooreengekom wat net op Suid-Afrika van toepassing is.

Omdat David Jones sedertdien bekom is en Australië nou ’n groter deel van Woolworths se sake uitmaak, is ’n nuwe handelsbeperkingsooreenkoms met hom onderteken. Dit behels dat hy A$2,9 miljoen net vir die handelsbeperking in Australië betaal gaan word.

Dit sal waarskynlik in 2023 aan hom betaal word as hy nie die handelsbeperking verbreek het nie.

Dit beteken hy kry altesaam byna R60 miljoen van die maatskappy ná sy vertrek.

Daar is egter ooreengekom dat geen aandele van 2019 aan hom uitgereik word nie, ondanks die feit dat hy geregtig is op ’n jaarlikse aandele-toewysing van 150% van sy gewaarborgde betaling, ingevolge sy dienskontrak.

Hy het in die boekjaar tot einde Junie R13,9 miljoen verdien. Dit was sy vergoeding tot 16 Februarie as uitvoerende hoof van die groep.

Hy het daarna A$576 215 verdien as waarnemende uitvoerende hoof van David Jones.

Dit is altesaam baie ná aan die R23 miljoen wat hy die vorige jaar verdien het.

Opvolger verdien minder

Sy opvolger, Bagattini, wat ’n ervare internasionale sakehoof is, is op ’n vastetermynkontrak van vyf jaar aangestel met die opsie om die termyn vir nog drie jaar te verleng.

Sy totale gewaarborgde betaling is R15,5 miljoen per jaar.

Daarteenoor het Moir se totale gewaarborgde betaling verlede jaar R19 miljoen beloop.

Bagattini se korttermynaansporing behels ’n jaarlikse aansporingsbonus van 150% van sy gewaarborgde betaling gegrond op prestasiemaatstawwe.

Hy het ook met sy aanvang by die maatskappy ’n toewysing van aandele gekry wat 350% van sy gewaarborgde betaling beloop, wat ’n looptyd van vyf jaar gaan hê voordat hy dit mag opneem, en wat onderhewig is aan strategiese nie-finansiële prestasiemaatstawwe.

Hy sal ook geregtig wees op ’n aanvangsbonus, ook onderhewig aan sekere aanvanklike prestasiemaatstawwe.

Sekere van sy verhuisingskoste en ander uitgawes wat verband hou met sy skuif van die Verenigde State af na Suid-Afrika, is ook betaal. Dié koste saam met die aanvangsbonus beloop R9,5 miljoen.

’n Omvattende handelsbeperkingsooreenkoms van 24 maande vir Suid-Afrika en 12 maande vir Australië is met hom onderteken.

Ommekeer versnel

Fyfe, wat nou aan die stuur van David Jones gaan wees, was vir vier jaar uitvoerende hoof van die Country Road-groep. Hy het hom by Woolworths aangesluit met 20 jaar se ondervinding by Marks & Spencer in Brittanje.

Bagattini sê Fyfe het ’n bewese rekord met transformasie en om strategieë in werking te stel.

Volgens hom sal die ommekeer van David Jones nou versnel word.

Fyfe se aanstelling volg ná ’n interne en eksterne werwingsproses waarvan die duur beïnvloed is deur die behoefte om bedryfstabiliteit by David Jones en Country Road te tydens die pandemie te bewerkstellig.

’n Werwingsproses het nou begin vir ’n nuwe uitvoerende hoof van Country Road.

Elle Roseby, besturende direkteur van Country Road, en Simon Schofield, besturende direkteur van Witchery en Trenery, sal gesamentlik oor die sake van Country Road aan Bagattini verslag doen.

Die afdelings Mimco en Politix sal aan Roseby en Schofield verslag doen.

Meer oor:  David Jones  |  Woolworths  |  Roy Bagattini  |  Ian Moir  |  Bedank  |  Kleinhandel  |  Uitvoerende Hoof  |  Winkels
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.