Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Woolworths se wins tuimel ná klere weer teleurstel

Die Woolworths-groep se voorbelaste wins het skerp – met 21% – gedaal in die afgelope halfjaar tot einde Desember omdat sy groot bydraer tot wins – sy klerewinkels in Suid-Afrika – vir die soveelste keer teleurgestel het.

Woolworths se klerewinkels sukkel steeds.

Die treurige vertoning het veroorsaak dat die wins voor rente en belasting net uit Suid-Afrika met slegs 0,3% tot R2,1 miljard gestyg het.

Nadat die wins van sy Australiese groep David Jones ook skerp laer is, het die hele groep se wins skerp gedaal.

Dit is ten spyte daarvan dat die groep se grootste bydraer tot omset, Woolworths Food, verkope met 8% tot R16,6 miljard verhoog het. Dié afdeling se bedryfswins het met 8% tot R1,1 miljard gestyg.

“Die onderneming het groei ondervind in die volume produkte wat verkoop is en groei steeds sy markaandeel,” sê Hubert Brody, voorsitter, en die nuwe uitvoerende hoof, Roy Bagattini, in die resultate-aankondiging.

Dis die eerste stel resultate wat Bagattini aankondig.

Woolworths-klere se verkope het met 2,2% gegroei, maar sy bedryfswins het met amper 9% tot R834 miljoen gedaal.

“In Suid-Afrika is die stram ekonomiese toestande vererger deur handel wat ontwrig is deur kragonderbrekings, ongewone weer in dele van die land en die klereverkope wat swakker as verwag gevaar het.

Roy Bagattini, nuwe uitvoerende hoof van Woolworths. Hy was voorheen by Levi Strauss.

“Dié faktore het tot ’n stadiger tweede kwartaal in die halfjaar gelei,” het die groep gesê.

Volgens die groep was die vertoning op Swart Vrydag (einde November) met klere teleurstellend omdat te min mense kom klere koop het.

Vroueklere was die groot oorsaak vir die swak vertoning in die halfjaar weens te hoë pryse en nie genoeg nuwe modes vir die somer nie.

Sy Australiese David Jones- en Country Road-groep se bedryfswins het albei gedaal.

Die groep het sy dividend met 3% tot 89c verlaag.

Brody en Bagattini sê verbruikers gaan onder druk bly, die swak ekonomiese toestande duur voort en beurtkrag ook.

Sy klerewinkels in Suid-Afrika gaan fokus daarop om hul vertoning te verbeter met beter pryse en reekse.

In Australië is verbruikersbesteding gedemp weens salarisse wat nie groei nie en die impak van die verwoestende veldbrande. Boonop het die nuwe koronavirus, Covid-19, ’n “wesenlik impak op toerisme en verkope in Australië”.

Die groep verwag ook dat sy aankope gaan ly weens die virus. “Die groep is tans aktief op soek na wyses om die risiko’s wat met die virus verband hou, te versag.”

Woolworths is die tweede Suid-Afrikaanse maatskappy in twee dae wat waarsku oor die impak van die koronavirus op sy syfers. Bidcorp, wat die meeste van sy wins in Australië verdien, het Woensdag gesê dit het Chinese toerisme na Australië nie net laat daal nie, maar heeltemal gestaak en verkope in China self geraak.

Meer oor:  David Jones  |  Woolworths  |  Roy Bagattini  |  Kleinhandelaars  |  Klerekleinhandel  |  Kos  |  Kleinhandel  |  Klere
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.