
In Suid-Afrika is R100 miljoen bestee aan ontsmetting en beskermende klere en hulp aan personeellede by Woolworths.
Daily Sun
Die Woolworths-groep gaan dividenduitbetalings vir ’n onbepaalde tydperk stop totdat sake verbeter.
Dit kom nadat sy wins voor belasting die afgelope boekjaar met amper 50% gedaal het.
Roy Bagattini, die nuwe uitvoerende hoof, het Donderdag op sy eerste aanbieding van resultate die moeilike toestande die afgelope maande aan beleggers geskets.
Hy het skaars die leisels in Februarie by Ian Moir oorgeneem toe die pandemie die wêreld tref.
LEES OOK: ‘Ruk Woolies reg’, smeek baas toe hy groet
Hy sê hy het ander planne vir sy eerste 100 dae op kantoor gehad, maar die fokus moes drasties verskuif na die onmiddellike probleme wat die pandemie meegebring het.
Behalwe sy klerewinkels wat tydens die inperkings in sowel Suid-Afrika as Australië gesluit was, is 200 individuele winkels vir ontsmetting gesluit nadat personeel of klante van dié winkels positief vir die koronavirus getoets is.
In Suid-Afrika is R100 miljoen bestee aan ontsmetting en beskermende klere en hulp aan personeellede.
Woolworths se koswinkels in Suid-Afrika het wel buitengewoon sterk gegroei en markaandeel gewen.
Die omset van Woolworths se koswinkels het in die boekjaar met amper 11% tot R35,8 miljard gestyg. Die bedryfswins van dié winkels het 19% tot R2,7 miljard gestyg.
Die klerewinkels, wat reeds swakker as verwag vertoon het in die eerste helfte van die boekjaar, se probleme is vererger deur die inperking. Die omset het met amper 11% tot R12,4 miljard gedaal. Die bedryfswins het ná promosies en afslagverkope om voorraad te verminder met amper 60% tot R683 miljoen gedaal.
Bagattini sê ’n plan is in werking gestel om klerewinkels se probleme op te los, maar dat daar nie ’n vinnige ommekeer sal wees nie.
Klerewinkels se ruimte sal oor die volgende drie jaar met tussen 15% en 20% verminder word, onder meer ’n vermindering in die getal winkels.
In Australië het David Jones ’n verlies gely en die Country Road-groep se verkope is ook negatief geraak deur winkels wat gesluit moes word.
Reeza Isaacs, finansiële direkteur, sê die groep se omset het met 0,1% tot R78,3 miljard gedaal.
Die bruto winsgrens het gedaal, hoofsaaklik weens die bykomende promosies en afslagpryse in klerewinkels om verkope aan te moedig sodat voorraadvlakke verminder en kontant geskep kan word.
Die groep se aangepaste wins voor belasting het met byna 50% tot R2,5 miljard gedaal. (Die winssyfer is aangepas vir die nuwe rekenkundige standaard en ’n ekstra week verlede jaar.)
Isaacs sê die groep moes weens die inperking sy fokus verskuif na die bewaring van kontant deur handel aan te dryf met promosies en uitverkopings en om bedryfskapitaal te bestuur deur minder voorraad in te neem en die betalingsooreenkomste met verskaffers te verleng. Koste is in toom gehou deur met verhuurders oor huur te onderhandel terwyl onbelangrike uitgawes en nienoodsaaklike kapitaalbesteding besnoei is. Kapitaalbesteding is in die tweede helfte van die jaar verminder. Dit gaan R1 miljard laer wees as wat voorheen aangedui is, hoofsaaklik oorsee, sê Isaacs.
Die groep, wat ook sukkel met ’n skuldlas, het met leners in Suid-Afrika en Australië onderhandel om uitstel te kry op die kontraktuele voorwaardes. Die groep het ook sy Australiese onderneming met A$75 miljoen ondersteun.
Die groep se rentedraende skuld het van R13,5 miljard verlede jaar tot R17 miljard toegeneem. Die Suid-Afrikaanse deel van die skuld beloop R8,6 miljard.
Bagattini sê geen verdere finansiering gaan aan die Australiese onderneming verskaf word nie en daar is ’n duidelike plan om waarde vir die groep te skep.
Woolworths is besig om van David Jones se eiendomme te verkoop in ’n poging om die skuldlas daar te verminder en ’n plan gaan versnel word om winkelspasie te verminder. Dit gaan oor twee jaar met 20% verminder word, vergeleke met die vorige plan om dit oor vyf jaar te verminder.
Bagattini het oor die vooruitsig van die groep gesê die volle impak van die pandemie en die inperking op mense se lewenswyse in die markte waarin hy bedrywig is, is nog nie beleef nie. Terselfdertyd kom staatshulp aan verbruikers en ondernemings tot ’n einde.
Hy sê die vooruitsig is uiters onvoorspelbaar en het geen mediumtermynteikens gegee nie.