Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Woolworths waarsku wéér oor wins

Woolworths het Donderdag ná die sluiting van die JSE vir die derde keer vanjaar gewaarsku sy wins gaan skerp daal.

Woolworths se aandeelprys het vanjaar al met 5,47% gedaal.

Die maatskappy gaan 712,5 miljoen Australiese dollar (meer as R6,7 miljard) van sy belegging in die klerewinkel David Jones afskryf.

Dié nuus is ook op 15 en 24 Januarie op Sens bekend gemaak en het daartoe bygedra dat Woolies se aandeelprys vanjaar al met 5,47% tot R60,43 gedaal het.

Woolworths se verdienste per aandeel vir die jaar tot 24 Junie 2018 gaan meer as 20% laer wees as vir die vorige boekjaar. JSE-regulasies bepaal maatskappye moet aandui sodra hulle weet hul wins gaan met minstens 20% styg of daal.

In Januarie het Woolworths aangedui sy verdienste per aandeel kan tot 250% laer wees en die maatskappy gaan ’n verlies ly.

Die maatskappy sê hy sal in Julie, ná die sluiting van die boekjaar, meer akkurate riglyne kan verskaf. Die resultate word teen 23 Augustus vanjaar verwag.

Die enorme afskrywing verteenwoordig byna ’n derde van die R21 miljard wat Woolworths net vier jaar gelede, in 2014, betaal het om David Jones in Australië te koop.

Dit is in daardie stadium beskryf as die grootste transaksie tot nog toe deur ’n Suid-Afrikaanse kleinhandelaar oorsee. Dit was gedurende ’n tyd toe ál meer Suid-Afrikaanse maatskappye in die buiteland begin uitbrei het.

Intussen het talle maatskappye in ’n verskeidenheid oorsese markte om verskillende redes hul rieme styfgeloop. Truworths en Tiger Brands het hulle ’n paar jaar gelede aan Nigerië onttrek en Sun International is besig om dit te doen; Famous Brands se Britse restaurante, Gourmet Burger Kitchens, brand vas en sy mededinger, Spur, het hom in 2016 aan dié eiland onttrek; MTN het probleme met reguleerders in Nigerië, Uganda en elders; en New Look, die modewinkel wat Brait in Brittanje bedryf, sluit winkels. Brait is een van die beleggingsbeheerfirmas waarin Christo Wiese ’n groot aandeelhouer en direkteur is.

Die landboufirma Afgri is een van min wat in Australië sukses behaal; hy is die grootste verspreider van John Deere-trekkers in dié land.

Meer oor:  David Jones  |  Woolworths  |  Kleinhandelaars  |  Kleinhandel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.