Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Word Primark dalk SA se nuwe Cotton On?

Klerewinkels soos Mr Price, Jet en Cotton On beter hul sokkies optrek, want Truworths gaan binnekort met mening die mark vir billiker klere vir jong mense betree.

klerekleinhandel
Kinderklere het in die tweede helfte van 2020 flink verkoop - die enigste kategorie waarvan verkope gestyg het. Foto: Truworths

Michael Mark, uitvoerende hoof, sê die groep gaan binne die volgende paar maande 15 Primark-winkels oopmaak. Dit sal ’n moderne meng-en-pas-reeks van basiese klere teen billike pryse vir veral jonger mense verkoop.

Dit beteken Truworths sal op drie pryspunte bedrywig wees – Truworths self met sy fokus op gehalte, maar effens duurder; Identity, waar klere gemiddeld sowat 30% goedkoper as in Truworths is; en dan Primark.

Sarah Proudfoot, pas aangewys as adjunk- besturende direkteur van Truworths Africa, sê hulle gaan Primark se reeks klein hou om te verseker dat hulle vinnig op veranderende modes kan reageer.

Gevra of hy nie bang is Primark gaan verkope van Truworths of Identity wegvat nie, het Mark gesê dis ’n goeie vraag, maar hy meen dat Primark eerder mense sal lok wat nog nie deur Truworths bedien word nie.

Die bekendstelling van Primark is egter nie al nuwe plan by Truworths nie.

Die groep gaan ook sy Identity-handelsnaam uitbrei. Tien nuwe Identity-megawinkels van tussen 550 m² en 600 m² gaan geopen word, en Identity sal uiteindelik ’n alleenstaande e-handelplatform kry. Nuwe reekse, waaronder bykomstighede, onderklere, skoene en handsakke, gaan by die Identity-handelsnaam gevoeg word.

Identity Kids, ’n handelsnaam wat in 2019 bekend gestel is, gaan ook teen die einde van 2021 van die huidige 84 winkels tot 170 winkels uitgebrei word. Dit gaan deel van drie van die nuwe Identity-megawinkels word.

Truworths gaan ook binnekort sy nuwe sport- en “straatklerereeks”, Fuel, bekend stel, met 20 nuwe winkels wat binne die volgende paar maande geopen sal word.

Asof dit nie genoeg is nie, stel Truworths ook eersdaags sy Loads for Kids-linnereeks bekend. Dit bou voort op die sukses van Loads of Living, maar sal uiteraard fokus op beddegoed, sagte speelgoed en handdoeke waarvan kinders sal hou. Dit gaan vanjaar in 50 winkels bekend gestel word en ook aanlyn te koop wees.

Hoewel tientalle nuwe winkels gaan open, sal dit nie die eiendomsmaatskappye veel help om die ruimte te vul wat met die sluiting van ander winkels, soos Musica, gelaat word nie. Truworths beoog om die meeste winkels te open in ruimtes wat hy tans huur wat hy hertoewys. Die groep sluit huurkontrakte slegs oor ’n maksimum van vyf jaar sodat hy vinniger kan optree wanneer winkels in spesifieke sentrums nie werk nie.

Al dié planne is bekend gestel toe die klerewinkelgroep Vrydagmiddag ’n voorlegging oor sy halfjaarresultate vir die tyd tot einde Desember gedoen het.

Die syfers self toon uiteraard die effek wat die Covid-19-pandemie en die gepaardgaande inperkings – in sowel Suid-Afrika as Brittanje – op Truworths se verkope gehad het.

In syfers
  • Kleinhandelverkope daal met 8,5% tot R9,7 miljard
  • Bedryfswins daal met 17,5% tot R1,9 miljard
  • Bedryfswinsgrens daal van 22,6% tot 20,5%
  • Wesensverdienste per aandeel daal met 7% tot 339,3c
  • ’n Tussentydse dividend van R2,32 is verklaar, 7% laer as verlede jaar se R2,49

Die groep se kleinhandelverkope het met 8,5% tot R9,7 miljard gedaal. In Truworths Africa, waarvan Suid-Afrika verreweg die meeste verkope verteenwoordig, het die verkope met 6,8% tot R7,3 miljard gedaal. (Truworths het net 36 winkels in ander Afrika-lande en 747 winkels in Suid-Afrika.)

Mark sê Truworths beskou klerekleinhandel nie as ’n naelloop nie, maar as ’n marathon. Hulle probeer verby die korttermynprobleme kyk.

Te midde van dalende verkope was daar egter steeds ’n styging van 6% in die verkoop van kinderklere.

Verkope van vroueklere het die skerpste gedaal, met 12%, hoewel dit teen R2,5 miljard steeds die grootste deel van verkope uitmaak. Verkope van mansklere het met 8% gedaal.

Verkope by YDE, wat grootliks deftige klere verkoop, het met 40% geval.

Mark is nie te bekommerd oor die daling in die verkope van kantoordrag en aandklere nie. Hy sê hy is oortuig daarvan dat mense weer kantoor toe wil gaan, weer wil uitgaan en weer wil onthaal.

In Brittanje het Office se verkope met 24,6% tot £114 miljoen gedaal.

Verkope op rekening, wat tans 68% van die verkope verteenwoordig, het met 10,3% en kontantverkope met 1,9% gestyg.

2021


2021 het nie goed begin nie en in die eerste ses weke van die jaar het verkope in Truworths Africa met 6,9% teenoor dieselfde tydperk van 2020 gedaal. Die groep moes in Januarie heelwat afslag aanbied om van voorraad ontslae te raak.

Die groep verwag dat sy syfers goed sal lyk vir die tweede helfte van sy boekjaar, bloot omdat dit vergelyk sal word met die strengste vlakke van die inperking in 2020 toe alle klerewinkels in Maart en April gesluit was, en net sekere produkte in Mei verkoop kon word.

Truworths sê ná ’n laagtepunt in Mei 2020 was daar ’n merkwaardige herstel in mense se afbetaling van hul skuld. Agterstallige rekeninge is min of meer op dieselfde vlak as voordat die Covid-19-pandemie toegeslaan het.

Voorsiening vir swak skuld is van 30,2% in Junie tot 24% in Desember verlaag.

Mark beklemtoon dat Truworths nie kredietverkope as ’n probleem beskou nie, solank dit verantwoordelik toegestaan word. Dis ’n baie belangrike manier waarop Truworths sy klante leer ken.

Truworths het 1,914 miljoen aansoeke vir klererekeninge in 2020 gekry, net-net minder as 2019 se 1,924 miljoen; albei jare is van die hoogste in jare.

Net sowat 23% van mense wat aansoek om klererekeninge gedoen het, word as kredietwaardig beskou, en nog ’n kleiner persentasie voer uiteindelik hul besluit deur om wel ’n rekening oop te maak.

Truworths het nou 12,8 miljoen lede op sy lojaliteitsprogram, teenoor 9,3 miljoen verlede jaar dié tyd. Daar is bewyse dat lede van die lojaliteitsprogram meer bestee, ongeag of hulle op rekening of kontant koop.


Meer oor:  Truworths  |  Office  |  Kruideniersware  |  Klerekleinhandel  |  Kleinhandelaars  |  Klerebedryf  |  Kos  |  Kleinhandel  |  Klere
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.