Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Wynplase: Jy mag wyn oor naweke proe én koop

Hoewel drankwinkels steeds beperk is wat betref die dae en tye wat hulle drank mag verkoop, mag wynplase oor naweke wyn verkoop.

Wynplase mag voortaan weer gaste toelaat om oor naweke wyn te proe en ook daarvan te koop. Foto: Unsplash

Die regulasies wat oornag in die Staatskoerant gepubliseer is, is onduidelik hieroor, maar Christo Conradie, Vinpro se bestuurder vir wynkelders, het aan Netwerk24 bevestig wynplase mag oor naweke met al hul bedrywighede, soos wynproe én wynverkope, voortgaan. Dieselfde geld mikrobrouerye en -distilleerderye.

“Ons interpretasie van die regulasies wat Maandagoggend in die Staatskoerant verskyn het, is dat wynplase oor naweke nou weer kan voortgaan om gaste vir ’n wynproe te verwelkom en dat wynplase ook oor naweke mag wyn verkoop,” sê Conradie.

Hy sê soos Vinpro die regulasies verstaan, mag jy ook nou weer met drank in jou voertuig rondry, al is dit oor naweke.

Ná Sondagaand se aankondiging oor die verslapping van die drankverbod mag ondernemings wat drank op hul persele verkoop aan klante wat dit daar drink, soos kroeë, tavernes en restaurante, elke dag van die week drank bedien, maar hulle moet teen 20:00 ophou.

Volgens Danie Cronjé van Danie Cronjé Prokureurs in Stellenbosch geld dié regulasie ook wynkelders, wynplase en boetiekbrouers en -distilleerders. Hulle mag ook volgens hom voortgaan om drank te vervaardig.

Cronjé sê aanlyn handelaars word toegelaat om die administrasie van verkope sonder beperkings te hanteer, maar aflewerings aan kliënte mag slegs tussen Maandae en Donderdae en tussen 10:00 en 18:00 geskied. Aflewerings mag ook nie op openbare vakansiedae gedoen word nie.

Cronjé het ook bevestig die publiek mag drank in hul motor hê, maar moet onthou om by die aandklokreël te hou. Dit beteken hulle moet tussen 22:00 en 04:00 tuis wees.

Oproep van toerismebedryf: #jab4tourism

Intussen het Fedhasa, die bedryfsliggaam vir hotelle, restaurante en toerismeondernemings, ’n groot sug van verligting geslaak ná Sondagaand se aankondiging dat restaurante drank mag verkoop en die beperking op reis na en van Gauteng opgehef is.

“Die afgelope 15 maande se regulasies het die toerismebedryf op sy knieë gedwing met bitter min tot geen hulpverlening of vooruitsigte van herstel nie,” sê Rosemary Anderson, voorsitter van Fedhasa.

“Vir die bedryf om enige hoop van opstaan te koester, is daar nou konsekwentheid en ’n inentingsprogram wat baie vinniger geïmplementeer word nodig.”

Sy sê dit bly baie moeilik om binne die raamwerk van die regulasies ’n finansieel volhoubare bedryf aan die gang te hou.

“Ondernemings is vermink, terwyl baie probeer het om staande te bly en binne die perke van onvolhoubare regulasies vir oorlewing te baklei.”

Anderson doen ’n beroep op volwasse Suid-Afrikaners om vir hul inenting te gaan.

“Ons land is agter wat inentings betref in vergelyking met ons belangrikste internasionale toerismemarkte. Totdat ons die punt bereik waar groot getalle volwassenes ingeënt is, sal die bedryf steeds onder lae getalle van internasionale toeriste gebuk gaan.”

Sy vra daarom dat mense hul “moue oprol en vir inentings aanmeld”.

Meer oor:  Drank  |  Staat Van Inperking  |  Sjebiens  |  Bier  |  Koronavirus  |  Bierbrouerye  |  Restaurante  |  Inperking  |  Drankverbod  |  Drankbedryf  |  Covid-19  |  Kroeë  |  Drankverkope  |  Bierbedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.