Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Zara wil 1 200 winkels binne 2 jaar sluit
Die Zara-winkel in die V&A Waterfront in Kaapstad. Winkelsentrums wêreldwyd is erg deur die Covid-19-pandemie getref. Foto: Verskaf

Die moedermaatskappy van die klerewinkelgroep Zara beoog om vanjaar en volgende jaar tot 1 200 van sy winkels wêreldwyd te sluit nadat sy verkope met 44% in die eerste kwartaal getuimel het.

Daar is agt Zara-winkels in Suid-Afrika en een Zara Home.

Volgens sy jaarverslag het hy einde Januarie 633 werknemers in Suid-Afrika gehad vergeleke met 548 die vorige jaar.

Zara behoort aan die genoteerde Spaanse maatskappy Industria de Diseño Textil (Inditex), wat Woensdag in sy resultate vir die kwartaal tot einde April gesê hy beplan om tussen 1 000 en 1 200 winkels in 2020 en 2021 te sluit. Die plan behels om 500 tot 600 per jaar te sluit of te “absorbeer”, soos daarna verwys word.

Navrae is aan die groep gestuur oor of dit van sy winkels in Suid-Afrika ook sal raak.

Die winkels wat gesluit kan word is “dié wat aan die einde van hul lewensiklus is, en kleiner en hoofsaaklik jonger konsepte”.

Dit sluit 250 tot 300 Zara-winkels in.

Inditex het ook ander winkels as Zara, soos Pull & Bear, Massimo Dutti, Bershka, Stradivarius, Oysho en Uterqüe.

Die groep gaan steeds sowat 150 winkels per jaar tot 2022 open, en van sy goeie winkels gaan vergroot word.

Verlies in eerste kwartaal

Die groep sê sy verkope is wesenlik geraak in die eerste kwartaal weens die Covid-19-pandemie. Dit het met 44% gedaal van 5,9 miljard verlede jaar in dieselfde kwartaal, tot 3,3 miljard.

’n Nabelaste verlies van 409 miljoen is behaal, vergeleke met ’n wins van 736 miljoen verlede jaar in dieselfde kwartaal.

Wat die inperkings die wêreld oor weens Covid-19 betref, was 965 van sy 7 412 winkels in 27 lande teen einde April weer oop. Na verwagting sal die meeste ander winkels einde Junie oop wees.

Aanlyn verkope styg skerp

In 2019 was Suid-Afrika een van 18 lande waar Zara sy aanlyn winkels bekend gestel het. Die groep se aanlyn verkope gaan teen 2022 na verwagting 25% van sy totale verkope verteenwoordig.

Aanlyn verkope het met 50% in die eerste kwartaal gestyg. In April was dit 95% hoër.

Verkope steeds laer

Sedert Mei het die meeste markte wat ’n inperking vir Covid-19 gehad het, stelselmatig begin heropen. Verkope het begin verbeter in Mei, maar dit is nog nie op die normale vlakke nie.

In Mei was verkope steeds 51% laer as verlede jaar en in Junie tot dusver 34% laer.

In markte wat heeltemal oop is (waar 54% van sy winkels is) het verkope met 16% gedaal.

Meer oor:  Zara  |  Klerewinkels  |  Verlies  |  Covid-19  |  Resultate  |  Maatskappye  |  Kleregroep
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.