Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Zeder nog tjoepstil oor sy toekoms

Zeder het planne, maar hy kan nog niks uit die mou laat nie.

Johann le Roux is op 13 April aangewys as uitvoerende hoof van Zeder. Hy was eers waarnemend in die rol.

Die genoteerde beleggingsbeheerfirma het Woensdag sy resultate vir die boekjaar tot einde Februarie uitgereik.

Die meerderheid van die maatskappye in sy beleggingsportefeulje het “aanvaarbare” winsgroei getoon.

Daar is egter nie meer tasbare inligting gegee oor wat beplan word om ’n nuwe strategie te skep, waaroor beleggers in September ingelig is, nie.

Zeder het gister ook ’n omsigtigheidsverklaring uitgereik waarin onder meer genoem word dat gesprekke met derde partye wel gebeur en moontlike transaksies op die horison is.

Johann le Roux, uitvoerende hoof van Zeder, kon nie tydens die resultatevoorlegging verder hieroor uitbrei nie. Hy het wel bevestig gesprekke met partye waarna verwys word, is nie deur Zeder begin nie.

“My rol is om waarde vir aandeelhouers te skep en daar is planne, maar ons kan nie nou meer hieroor uitbrei nie.”

Hy het in Oktober as uitvoerende hoof begin waarneem nadat Norman Celliers kort ná die aankondiging van die strategieverandering bedank het. Hy is nou vas aangestel, maar sal vir tyd en wyl ook waarneem as finansiële direkteur.

Die strategie het volgens hom nie ’n spesifieke tydlyn nie en sal op ’n “gepaste en verantwoordelike manier” uitgevoer word om die maksimum waarde vir aandeelhouers te skep.

Zeder het verlede jaar ’n paar veranderinge aan sy beleggingsportefeulje gemaak. Al sy aandele in Pioneer Foods is aan PepsiCo verkoop, asook sy aandele in Quantum Foods in Junie verlede jaar aan County Fair.

Die transaksie met PepsiCo is afgehandel net voordat die nasionale inperking verlede jaar vir die eerste keer ingestel is. Dit het Zeder R6,4 miljard in die sak gebring. Skuld is terugbetaal en ’n spesiale dividend van R2,30 is toe verklaar ter waarde van R3,9 miljard.

Die groep het ook dié week ’n verdere spesiale dividend van 20c per aandeel verklaar, wat R308 miljoen uit sy kontant aan aandeelhouers sal uitbetaal.

Zeder het ook gedurende sy boekjaar 172 miljoen aandele teruggekoop ter waarde van R426 miljoen teen ’n gemiddelde prys van R2,48 per aandeel.

Die spesiale dividend en verkope van Pioneer Foods en Quantum Foods het volgens Le Roux bygedra tot ’n wesenlike verandering in die groep se grootte en samestelling.

Zeder het beleggings in die breë landbousektor, verwante bedrywe en ’n historiese fokus op die voedsel- en drankbedryf. Sy onderliggende beleggingsportefeulje is op 28 Februarie op R5,72 miljard gewaardeer.

Zeder se aandeelprys het Woensdag teen etenstyd höer verhandel op R3,10, teenoor die vorige dag se verhandeling van R2,83 per aandeel.

Covid-19 se invloed

Wat die invloed van die Covid-19-pandemie betref, sê Le Roux, het die groep beter vertoon as verwag.

“Ons strategiese fokus tydens die Covid-19-pandemie was doelbewus versigtig en konserwatief. Gevolglik het ons die grootste deel van ons aandag aan bestaande beleggings gegee en, waar moontlik, bedryfsmodelle en balansstate versterk.”

Zeder se grootste belegging is steeds in Zaad, met ’n beleggingswaarde van ongeveer R2 miljard en ’n belang van 97%. Le Roux is tevrede met die internasionale maatskappy se vertoning die afgelope jaar, al het hulle ’n netto skuldlas van sowat R1 miljard.

In The Logistics Group het Zeder ’n belang van 98,5% ter waarde van R1,3 miljard. Hoewel die maatskappy werksaamhede in Mosambiek het, is dit vanaf Beira en verder suid, dus nie in die noorde, waar konflik en probleme tans weens Islamitiese insypeling heers nie.

Sy belang in Capespan is 96% en die waarde hiervan is R1,11 miljard. Zeder sê die groep het baie goed gevaar met lae vlakke van langtermynskuld. Positiewe verandering by Capespan word toegeskryf aan herstrukturing wat in die groep plaasgevind het, onder meer op van sy plase.

Een van die probleme is egter bottelnekke met uitvoer en verspreiding, grootliks as gevolg van die Covid-19-pandemie. Dit kan in die komende jaar steeds ’n uitdaging vir landboumaatskappye soos Capespan bly.

Die enigste belegging op sy portefeulje wat Zeder as uitdagend beskou, is sy 56%-aandeel in Agrivision, wat onder meer in meulens in Zambië belê.

Die pad vorentoe

As gevolg van ’n verandering in Zeder se status as ’n beleggingsentiteit wat op 1 Maart 2020 in werking getree het, kan Zeder se resultate nie met die vorige boekjaar vergelyk word nie.

Die prestasie van sy beleggings word nou gemeet aan die hand van die billike waarde volgens inkomstestate van elke belegging. Dit word die som-van-die-dele of SOTP-waarde genoem.

Voorheen het Zeder prestasie gemeet volgens herhalende wesensverdienste toe die waarde van beleggings gekonsolideer is. Zeder se balansstaat gaan vorentoe die SOTP-waardes weerspieël.

Zeder se SOTP-waarde per aandeel, bereken volgens die genoteerde markpryse vir alle JSE-genoteerde beleggings en waardasies wat vir ongenoteerde beleggings gedoen is, het gedurende die oorsigtydperk tot R4,33 gedaal. Die afname was hoofsaaklik te wyte aan die uitbetaling van die spesiale dividend van R2,30 per aandeel uit kontantreserwes in April 2020.

Meer oor:  Zeder  |  Covid-19  |  Resultate  |  Beleggings  |  Beleggingsbeheerfirma
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.