Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Zeder trek swaar weens swak ekonomie

Die swak ekonomie het Zeder, ’n beleggingsbeheerfirma in landbou en kosvervaardiging, diep seergemaak in die ses maande tot einde Augustus.

Die maatskappy se herhalende wesensverdienste per aandeel gaan tussen 3,3c en 3,9c beloop, oftewel tussen 60,2% en 66,3% laer as in dieselfde ses maande van 2018.

Norman Celliers, uitvoerende hoof van Zeder.

Zeder se gekonsolideerde wesensverdienste is die som van sy effektiewe belang in die herhalende wesensverdienste van sy onderliggende beleggings.

Zeder besit onder meer ’n belang van 28,23% in Pioneer Foods, 97,4% van die vrugte-uitvoergroep Capespan, 41,1% van die landboudienstefirma Kaap Agri, 29,3% van die hoender- en eierprodusent Quantum Foods, en 95,3% van die saadprodusent Zaad.

Die maatskappy se wesensverdienste per aandeel gaan tussen 2c en 2,8c beloop, oftewel tussen 90,8% en 93,4% laer as in 2018.

Die maatskappy se toeskryfbare verdienste per aandeel sal tussen 25,3c en 26,3c beloop, oftewel tussen 3,7% en 7,3% laer as ’n jaar gelede.

Die nuus het Zeder se aandeelprys met tot 3% laat daal deur die loop van Donderdag.

Zeder sê in ’n Sens-verklaring die meeste van die maatskappye waarin hy belê, gaan almal gebuk onder uitdagende handelstoestande.

Die som-van-sy-dele-waarde, wat die aandeelprys van al sy JSE-genoteerde beleggings en die interne waardasies van ongenoteerde beleggings insluit, beloop nou R6,22 per aandeel.

Dis straks die laaste stel resultate wat Pioneer insluit. Die Amerikaanse koeldrank-en-kosreus PepsiCo het in Julie R110 per Pioneer-aandeel vir die hele Pioneer aangebied in ’n transaksie wat sowat R23 miljard werd is. Dit sal tot die denotering van Pioneer lei.

Pioneer besit onder meer Bokomo, Sasko, Marmite, Ceres en tientalle ander eg Suid-Afrikaanse kosprodukte.

Zeder gaan nagenoeg R6,4 miljard in die sak steek.

Pioneer se aandeelhouers stem op 15 Oktober oor die transaksie.

Meer oor:  Zeder  |  Pioneer Foods  |  Kosvervaardigers  |  Landbou  |  Beleggingsbeheerfirma
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.