Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Zondo: McKinsey betaal ook Transnet- en SAL-geld terug
McKinsey & Company gaan sowat R650 miljoen terugbetaal vir werk wat hy vir Transnet en die SAL gedoen het. Foto: Argief

Die konsultasiefirma McKinsey & Company gaan sowat R650 miljoen terugbetaal vir werk wat hy saam met die Gupta-verwante maatskappy Regiments Capital vir Transnet en die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) gedoen het.

Die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping het dit Woensdag in ’n verklaring op sy webtuiste aangekondig.

Die kommissie sê hy werk reeds geruime tyd saam met McKinsey, wat hom op ’n “deursigtige wyse” bygestaan het in sy ondersoeke.

McKinsey het reeds twee jaar gelede al die geld terugbetaal wat Eskom hom vir konsultasiewerk betaal het.

LEES OOK: McKinsey moet nog rente aan Eskom terugbetaal

Die kommissie sê hy het aan McKinsey bewysstukke voorgelê wat op ongerymdhede dui in kontrakte wat hy saam met Regiments by Transnet en die SAL gekry het.

Die kommissie stel dit duidelik dat daar nie bewyse is dat enige huidige werknemers by McKinsey van korrupsie of ongerymdhede beskuldig word ten opsigte van hierdie kontrakte nie.

Die kommissie sê in die lig van die inligting wat hy aan McKinsey verskaf het, en aangesien die firma voorheen ingestem het om geld aan Eskom terug te betaal, het hy voorgestel dat McKinsey ook hierdie geld terugbetaal.

McKinsey het die kommissie in ’n brief gedateer 21 November ingelig dat hy dit wel sal doen.

Die kommissie loof McKinsey se besluit en sê dit is belangrik dat alle maatskappye wat in Suid-Afrika bedrywig is, help om korrupsie te beveg.

Deur die Eskom-geld, en nou die geld vir projekte by Transnet en die SAL vrywillig terug te betaal, “gedra McKinsey hom soos ’n verantwoordelike korporatiewe burger”, lui die verklaring.

Die kommissie sê hy moedig ander maatskappye waar daar bewyse is van korrupsie met kontrakte waarby hulle betrokke was, aan om die geld terug te betaal, “selfs al was hulle nie deel van die korrupsie nie”.

Die ondersoekdirektoraat van die nasionale vervolgingsgesag het reeds by die hooggeregshof in Johannesburg aansoek gedoen dat beslag gelê mag word op bates van R1,6 miljard van Regiments.

Regter Maletsatsi Mahalelo het op 5 Desember in die hooggeregshof in Johannesburg bevind die NVG mag ’n aansoek bring om verlof tot appèl voor ’n volle regbank van dié hof. Dit volg ná ’n vorige uitspraak waarin die ondersoekdirektoraat van die NVG vir eers die knie moes buig voor Regiments Capital asook die direkteure van dié maatskappy oor die bevriesing van die geld.

Meer oor:  Transnet  |  Mckinsey  |  Sal  |  Regiments  |  Suid-Afrikaanse Lugdiens  |  Guptas  |  Zondo-Kommissie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.