Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Zuma, Myeni besoek Capitec – en Twitter gons

Foto’s van oudpres. Jacob Zuma wat banksake in Capitec doen, het Twitter behoorlik op hol.

Minstens drie foto’s word tans wyd op dié sosiale netwerk versprei van ’n glimlaggende beampte saam met Zuma en ’n ander vrou wat vermoedelik Dudu Myeni, die voormalige uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Lugdiens, is.

Dit is nie duidelik wat Zuma in die bank gemaak het nie. Volgens een twiet is die betrokke tak glo in Rosebank, Johannesburg, hoewel Business Insider berig dat die tak in Richardsbaai is.

Richardsbaai is sowat 140 km van Zuma se tuiste in Nkandla.

Hy het die bank glo op Oujaarsdag besoek.

Twitterati het egter ingeklim en die voormalige president as ’n skynbare huigelaar en ondersteuner van “witmonopoliekapitaal” uitgekryt. Hulle het hom daarvan beskuldig dat hy die “Stellenbosse mafia” ondersteun omdat Capitec se hoofkantoor in dié Bolandse dorp is.

Zuma was voorheen ’n vurige ondersteuner van die opvatting dat wit mense die Suid-Afrikaanse ekonomie oorheers.

Charl Nel, kommunikasiehoof van Capitec, het by navraag gesê: “Capitec behandel kliënte van enige agtergrond met respek en waardigheid. Daarby lewer ons nie kommentaar op kliënte se persoonlike en private sake nie.”

Die feit dat Zuma en Myeni saam op die foto’s verskyn, het eweneens vir groot konsternasie op Twitter gesorg.

Myeni is tans in ’n hofstryd gewikkel om haar as misdadige direkteur te laat verklaar.

Die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) en die SAL-vlieëniersvereniging het die saak teen haar gebring.

In haar ampstermyn as uitvoerende hoof van die SAL het die maatskappy ’n verlies van R16,844 miljard gely. Sy is in Oktober 2017 afgedank, ’n paar maande nadat Zuma self uit die kussings gelig is.

LEES OOK: Só kom die SAL tot 'n val

Twitterati het Donderdag hul vrese uitgespreek dat Capitec nou dieselfde pad gaan volg as die onderlinge bank VBS, met wie Zuma ook voorheen sake gedoen het.

VBS het in 2016 ’n huisverband van R7,8 miljoen aan die toe 74-jarige Zuma toegestaan om te betaal vir opknappingswerk aan Nkandla, sy persoonlike woning in KwaZulu-Natal.

Zuma sukkel egter om sy verbandbetaling by te bring en is reeds met meer as R550 000 agterstallig, het Rapport in November berig.

VBS is intussen gelikwideer, maar kragtens ’n hofuitspraak moet Zuma steeds sy agterstallige skuld aan die bank vereffen.

Anoosh Rooplal, die bank se likwidateur, het Zuma onlangs gedagvaar vir die terugbetaling van die balans van R7,3 miljoen wat nog uitstaande is.

Die plan is om beslag te lê op Nkandla as Zuma nie die skuld kan betaal nie.

Zuma se betrokkenheid by VBS en die bank se uiteindelike ondergang – tesame met Myeni wat die SAL die grond in bestuur het – wek nou kommer by Twitterati dat Capitec dalk eersdaags dieselfde roete kan volg.

Dit is nie bekend of Zuma net ’n rekening by Capitec oopgemaak en of hy dalk om ’n lening aansoek gedoen het nie.

’n Werknemer by die bank het op voorwaarde van anonimiteit aan Business Insider gesê Zuma se besoek het ’n geskarrel in die betrokke tak ontketen.

Sowel beamptes van die bank as lede van die publiek het glo bontgestaan om foto’s saam met die voormalige president te neem.

Meer oor:  Capitec  |  Vbs Bank  |  Zuma  |  Jacob  |  Dudu Myeni  |  Witmonopoliekapitaal  |  Bankbedryf  |  Nkandla
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.