Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
iTrade met 'n Miljoen
Wat is my kans met iTrade-uitdaging?

3 September was die amptelike wegspringdag vir die iTrade met ’n Miljoen-uitdaging, wat Netwerk24 saam met Sanlam iTrade aanbied. Gerhard Lampen, uitvoerende hoof van Sanlam iTrade, deel ’n paar dinge wat hy uit vorige kompetisies geleer het.

  

Gerhard Lampen, hoof van aanlyn verhandeling by Sanlam Private Wealth.

Sanlam iTrade het oor die jare al ’n hele paar virtuele verhandelingskompetisies in verskeie formate aangebied.

Vir die meeste mense was die belangrikste ding dat hulle die kans gekry het om te leer en werklike marktoestande sonder enige risiko of koste te ervaar. Dis ook ons doelwit met die kompetisies – om ’n veilige leerervaring te skep en ’n bietjie pret te hê.

Families en vriende het onder mekaar meegeding en daar was nogal ’n paar verrassende wenners.

Daardie eerste prys van R25 000 is nie te versmaai nie, so as jy vir dié prys speel, is daar ’n paar interessante lesse wat jy kan leer van die vorige wenners.

Dis mos nou belaglik . . .

Professionele verhandelaars mag nie aan die uitdaging deelneem nie, en alle wenners was dus private beleggers of selfs beginners.

Die eerste kompetisie, in 2007, is gewen deur ’n jong outjie wat nogal heelwat van korttermynverhandeling geweet het. Omdat daar geen volumebeheer op virtuele verhandeling was nie, het hy wins gemaak wat heeltemal onrealisties was deur 20 tot 30 keer per dag te verhandel. Ons moes die reëls verander!

  

Hoe werk iTrade met ’n Miljoen?

In dié kompetisie kry jy ’n virtuele miljoen en oor drie maande kyk ons wie se geld met die meeste gegroei het.

Registrasie is baie maklik en vinnig – jy moet 18 wees, ’n ID-nommer en ’n e-posadres hê.

Klik hier om te registreer.

Die kompetisie duur tot 30 November. Jy kan nog tot 25 November registreer, maar hoe gouer jy dit doen, hoe groter is jou kans om te wen!

Gaan na www.netwerk24.com/sake/miljoen vir al die reëls en meer inligting oor die kompetisie.




Virtueel, maar realisties

Vir die volgende kompetisie het ons die reëls verander. Pleks dat jy teen die laaste verhandelde prys op die JSE kon verhandel, moes jy nou koop teen die aanbodprys (die prys waar verkopers bereid was om te verkoop) en koop teen die bod (die prys waarteen kopers bie). Dit het die kompetisie baie realisties gemaak.

Op een internet-geselskamer het een ou die stelling gemaak dat hy sou wou sien hoe die voorlopers vaar as hulle regte geld verhandel het. Een van die leiers in die virtuele kompetisie het toe geantwoord dat hy presies dieselfde verhandelings op sy regte verhandelingsrekening doen – en beter vaar as die kompetisie-wins wat hy gemaak het. Dis omdat jy in werklike verhandeling op die JSE dikwels tussen die bod en die aanbod kan verhandel.

  

Amateurs vs. professionele verhandelaars

In 2008 het ons agt mense wat in die beleggingsbedryf werk, gevra om teen ’n veld amateurs deel te neem. Dit het van die land se voorste batebestuurders ingesluit wie se mening gereeld in die media gevra word oor spesifieke aandele.

Die amateurs het die professionele verhandelaars geklop omdat laasgenoemde meer op lang termyn gefokus het terwyl die amateurs meer aktief verhandel het. Dit was egter ’n goeie leerervaring vir almal omdat die professionele verhandelaars hul insigte gedeel het. (Onthou dat ons uitdaging drie maande duur – jy is dus eintlik meer van ’n spekulant as ’n medium- tot langtermynbelegger.)

  

Het rekenmeesters ’n voordeel?

Dit lyk asof geoktrooieerde rekenmeesters (GR’s) ’n klein voordeel het, aangesien 30% van ons wenners GR’s of GR-studente was.

Maar ons wenners was ook baie divers. Vroue staan nie ’n tree terug van mans nie en is gereeld onder die toptien. Wenners wissel van studente tot rekenaarprogrammeerders tot pensioentrekkers.

  

Die oudste wenner

Ons oudste wenner was 63 jaar oud; iemand van 67 was in dieselfde kompetisie – van Junie tot Augustus 2011 – tweede. In daardie tyd het byna alle aandeelpryse gedaal – met die uitsondering van goudmaatskappye en die goudprys self.

Die top-iTraders vir daardie jaar het amper almal in goudaandele belê. Die wenner het in ’n stadium wins geneem, maar toe gou besef hy is so ver voor dat niemand hom sou kon klop nie. Toe koop hy weer aandele wat hy tot die laaste dag gehou het.

  

Die een-treffer-wonder

Sanlam iTrade het vantevore die CNBC Africa Top Trader werklikheidstelevisieprogram geborg. Om agt mededingers te kies, het ons ’n virtuele verhandelingskompetisie oor net een maand aangebied. Die wenner het al sy eiers in net een mandjie gesit – Lonmin-aandele. Teen die laaste week was hy nie eens onder die toptien nie, maar oor die laaste drie dae van die kompetisie het Lonmin kwaai gestyg en hom ’n wins van byna 20% gegee.

  

Verhandel die wêreld

In 2016 het ons mededingers toegelaat om enige aandeel of beursverhandelde fonds (ETF) ter wêreld op ons iTradeGlobal-platform te verhandel. Geen afgeleide instrumente is toegelaat nie, maar moet jongelinge nooit onderskat nie. Ons het gehoop almal sou ’n gelyke kans hê, maar toe kom ons gou agter daar is ETF’s met hefboomwerking. Dit gee jou drie keer die wins of verlies op ’n instrument soos goud, olie of goudaandele.

Die verhandeling hierin het sommer gou weggehardloop met die kompetisie.

Dis ’n bietjie ingewikkeld vir die gemiddelde belegger en daarom het ons verhandeling vir dié kompetisie beperk tot aandele en verskilkontrakte (contracts for difference, CFD’s) van die JSE se top-40-indeks en die Dow Jones 30-indeks.

  • Gerhard Lampen is die uitvoerende hoof van Sanlam iTrade, die aanlyn verhandelingsplatform van Sanlam Private Wealth.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.