Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
iTrade met 'n Miljoen
Week 1: Dapper Muis speel iTrader

Hanlie Stadler is Netwerk24 se sakeredakteur. Sy neem vir die pret deel aan die iTrade met ’n Miljoen-uitdaging en skryf weekliks oor die drie maande van die virtuele verhandelingskompetsie ’n blog. Stuur gerus vir haar aandelewenke na hanlie.stadler@24.com...

  

Hanlie Stadler

Kyk, ek mág nie die iTrade met ’n Miljoen-uitdaging se prysgeld wen nie. Selfs al sou ek die duisende ander deelnemers oor die drie maande van die kompetisie klop, kan ek maar net kwyl oor die R25 000 wat op die spel is.

Die reëls is die reëls – werknemers van Netwerk24 mag nie wen nie. (Terloops, lees asseblief al die reëls hier as jy saamspeel.)

Maar laat ons eerlik wees: Ek kán dit ook nie wen nie. Ek dink dalk soms reg oor my aandelekeuses, maar dis baie probeer-en-tref, en ek tref nie altyd nie.

Ná ’n week van aandele koop en verkoop (en grootliks kortverkoop), het ek darem ’n positiewe balans gehad, maar hoe lank nog, weet ek nie...

Die iTrade met ’n Miljoen-uitdaging het verlede Maandag begin. Enigeen mag nog registreer en staan steeds ’n kans – dit gaan net een groot fout van die voorlopers verg en dan kan die agteros dalk in die kraal kom.

As jy niks van aandele weet nie, des te beter – die uitdaging is juis bedoel as ’n manier om speel-speel meer te leer oor hoe om aanlyn in aandele te verhandel. Die R1 miljoen waarmee jy verhandel, is immers net speelgeld, nie jou swaarverdiende fortuin nie.

Klik hier om te registreer. As jy al geregistreer het en jou aanmeldplek verloor het, klik hier om aan te meld.

Die kompetisie duur tot einde November.

So, wat het ek in die eerste week as iTrader geleer? Hier is ’n paar punte.

1. Hou jou lys aandele byderhand

Hoewel ’n mens op die Sanlam iTrade-platform haas enige aandeel of verskilkontrak (CFD) kan verhandel, speel ons in dié kompetisie net met ’n beperkte lys. Tensy jy ’n fotografiese geheue het, gaan jy nie die hele lys van 70 aandele onthou nie. Dit is die JSE se top-40-indeks en die Dow Jones 30-indeks, albei soos dit einde Augustus gelyk het. Klik hier vir die lys.

2. Lees die nuus

Hou veral die sakenuus dop. Van die voorlopers het omtrent almal kortverkope in MTN gedoen nadat dié selfoonmaatskappy hom weer in Nigerië in die regulatoriese warmwater bevind het. Die aandeel het verlede week met 14% geval, wat beteken as jy ’n bietjie die nuus gevolg het en kortverkope op die aandeel gedoen het deur middel van ’n CFD, kon jy ’n vet wins in jou sak gesteek het.

3. Leer wat kortverkope, CFD’s en keerlimiete is

Dit bring my daarby: Omdat hierdie ’n kompetisie van net drie maande lank is, en plaasvind in een ekonomie wat goed vaar (die VSA), maar ’n ander wat in ’n resessie is (SA), gaan jy met kortverkope móét speel.

Die kans is skraal dat die Suid-Afrikaanse ekonomie só gaan herstel dat aandeelpryse die ligte gaan uitskiet tot einde November, maar jy kan steeds geld maak, al daal aandeelpryse of al styg hulle net met ’n paar persentasiepunte.

Ek het goeie resultate behaal deur kortverkope op van die land se groot kleinhandelaars te doen – die ouens is onder kwaai druk in die lig van die nuus dat die land in ’n resessie is.

Kortverkope beteken effektiewelik jy “koop” aandele nou, maar jy betaal eers later – wat beteken as die aandeel daal, betaal jy minder.

CFD’s is afgeleide instrumente wat jou in staat stel om die hefboom-uitwerking vir jou te laat werk – jy koop of kortverkoop die CFD van ’n aandeel eerder as die aandeel self en hoef net 10% van die prys neer te sit. Eers as jy die transaksie sluit, word jou wins op grond van die verskil bereken.

As ek nie mooi verduidelik nie, jammer. Leer eerder hier: Wat op aarde is CFD’s?

Keerlimiete is as jy jou risiko wil beperk – dan sê jy jy verkoop of koop ’n aandeel of CFD as dit ’n sekere vlak (stygend of dalend) bereik.

4. Besluit hoe aktief jy gaan wees

Ek het ’n vae vermoede dat ek nie aktief genoeg verhandel om van dié oefening ’n sukses te maak nie. Aan die ander kant het Gerhard Lampen, uitvoerende hoof van Sanlam iTrade, hier ’n lekker ontleding gedoen van vorige virtuele kompetisies en die nuus is eintlik bemoedigend – soms wen iemand met ’n weddenskap op ’n enkele aandeel wat hy/sy koop en hou; en soms wen iemand deur 20, 30 verhandelings per dag te doen!

  • Hanlie Stadler is Netwerk24 se sakeredakteur.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.