Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
1 uit 3 mét werk het geen aftree-spaargeld

Byna 27% van werkende Suid-Afrikaners wat minstens R8 000 per maand verdien, het géén aftreeproduk nie – nie ’n pensioen- of voorsorgfonds of uittree-annuïteit nie.

Dié syfers was in 2020 hoër op 33%, maar op langer termyn bly die syfer taamlik konstant op net minder as een uit drie mense.

Dit kom uit Old Mutual se Spaar-en-Beleggingsmonitor vir 2021, wat ook kommerwekkende syfers bevat oor hoeveel dié mense agterstallig is met krediet- en winkelkaartbetalings, rekeninge en selfs hul huur of huispaaiement.

Die groot vraag is hoe mense sonder aftreespaargeld hulself gaan onderhou wanneer hulle aftree. Foto: iStock

Die hoogste persentasie mense sonder aftreebeskerming, 40%, is onder mense wat R8 000 tot R14 999 per maand verdien. Dit oorvleuel grootliks met die 36% van jong mense (18-29 jaar) wat geen aftreedekking het nie.

Weens die effek van die Covid-19-pandemie, moes 16% van Suid-Afrikaners die afgelope jaar van of ál hul aftreespaargeld gebruik het.

Nog 16% moes hul bydraes daartoe verlaag het óf kon dit nie verhoog nie.

10% sê hulle sal nou later moet aftree as wat hulle gedink het moontlik sou wees.

Daar is egter 9% van mense wat juis nou vroeg wil aftree om ’n ander beroep of onderneming te begin.

Watter spaar- en beleggingsprodukte het mense?

Bankrekeninge (95%), spaarrekeninge by die bank (72%) en begrafnispolisse (76%) is die finansiële produkte wat die meeste mense het.

Aan die lae kant belê net 23% van werkende Suid-Afrikaners in effektetrustfondse of beursverhandelde fondse, ook 23% belê in kriptogeld, 7% in goudmunte, en 9% belê regstreeks oorsee.

Selfs ná die Covid-19-krisis het die minderheid mense inkomstebeskerming (29%), dekking teen ernstige siektes (35%) en ongeskiktheidsdekking (39%).

Die peiling wys vroue is minder geneig om in sogenaamde riskante beleggings soos aandele en kriptogeldeenhede te belê as mans.

Soos verwag kan word, het jong mense minder korttermynversekering – hulle het ook minder bates – sowel as minder langtermynversekering soos begrafnis-, lewens- en ongeskiktheidspolisse.

Jong mense is meer gretig om in kriptogeld te belê.

Gemiddeld lyk mense se beleggingsprodukte as volg (neem in ag dat die peiling gedoen is onder mense wat R8 000 of meer per maand verdien):

Bankdienste

  • Bankrekening: 95%
  • Spaargeld in die bank: 72%

Formele polisse en beleggings

  • Uitkeer-, spaar- of beleggingspolisse: 54%
  • Uittree-annuïteite: 52%
  • Pensioen- of voorsorgfonds: 61%
  • Opvoedingspolisse: 23%
  • Effektetrust- of beursverhandelde fondse: 23%
  • Regstreekse belegging in aandele: 25%

Risikoprodukte

  • Begrafnispolisse: 76%
  • Lewensversekering: 66%
  • Ongeskiktheidsdekking: 39%
  • Dekking vir ernstige siektes: 35%
  • Inkomstebeskerming: 29%
  • Korttermynversekering: 59%
  • Mediese versekering (soos gapingsdekking): 29%
  • Mediese fonds: 63%

Alternatiewe beleggings

  • Regstreekse oorsese beleggings: 9%
  • Goudmunte: 7%
  • Kriptogeld: 23%
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.