Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
45% vir infrastruktuur: Só sien aftreebedryf dit

Die batebestuursbedryf is oor die algemeen heel positief daaroor dat tot 45% van pensioenfondsgeld moontlik in die toekoms in infrastruktuurprojekte in Suid-Afrika belê kan word.

Beleggings in infrastruktuur kan deur verskillende bateklasse gedoen word, insluitend aandele in genoteerde en ongenoteerde maatskappye.

Die nasionale tesourie het verlede week die konsepwysigings aan regulasie 28 van die Pensioenfondswet vir openbare kommentaar gepubliseer.

Dit volg op die aankondiging in Oktober tydens die mediumtermynbegrotingsraamwerk en vanjaar tydens die begroting dat die regering besig is om regulasie 28 te hersien om dit makliker te maak vir aftreefondse om in infrastruktuur te belê.

Die hoofdoel van regulasie 28 is om die lede se aftreevoorsiening te beskerm teen die uitwerking van beleggingsportefeuljes wat onvoldoende gediversifiseer is, volgens Sanlam.

Dit word gedoen deur ? beperking te plaas op die maksimum blootstelling aan meer aggressiewe

bateklasse.

Die belangrikste beperkings voorheen op die bateklasse was:

  • Aandele 75%;
  • Genoteerde eiendom 25%;
  • Buitelandse bates 30%; en
  • Verskansingsfondse 10%.

Malusi Ndlovu, direkteur van groot ondernemings van Old Mutual Corporate, sê die wysigings maak daarvoor voorsiening dat ’n belegging in infrastruktuur binne die verskillende bateklasse gedoen kan word.

“Die voorstel sal, indien dit uitgevoer word, ’n totale belegging van 45% van die pensioenfonds se geld in infrastruktuur deur middel van die verskillende batekategorieë moontlik maak.”

Nog ’n bykomende 10% sal in infrastruktuur in Afrika belê kan word.

Hy meen die voorgestelde wysigings is ’n stap in die regte rigting.

“Dit is bedoel om dit makliker vir aftreefondse te maak om aan lede beter beleggingsgroei en diversifikasie te bied wat met infrastruktuurbelegging kom, veral in die konteks van die lae ekonomiese groei en die krimpende plaaslike aandelemark in Suid-Afrika.”

Wat behels die grootste konsepwysigings?
  • Dit voorsien spesifieke verwysing na belegging in infrastruktuur deur middel van die verskillende bateklasse wat reeds bestaan en stel ’n totale limiet vir infrastruktuur voor.
  • Dit stel voor dat die algehele belegging in binnelandse infrastruktuur tot 45% kan beloop en nog 10% in die res van Afrika.
  • Dit beperk die totale blootstelling per uitreiker of entiteit waarin belê word tot 25% van die totale bates van die fonds.

Die nasionale tesourie het in ’n verklaring gesê die hersiening van die regulasie kom nadat hy ’n paar keer versoek is dat aftreefondse hul belegging in infrastruktuur moet kan verhoog om die gaping in infrastruktuurbelegging in die land te vul.

Die bestaande regulasies definieer nie infrastruktuur as ’n spesifieke kategorie soos die bateklasse aandele, effekte, lenings en private ekwiteit nie.

“Gevolglik is daar nie presiese inligting van aftreefondse beskikbaar om aan te dui hoeveel in infrastruktuur belê is nie. Die voorgestelde wysiging stel dus ’n meer presiese definisie van infrastruktuur bekend om dit moontlik te maak om dit beter te meet en baie beter data te kry,” sê tesourie.

Ndlovu is verlig dat die voorstel om die regulasie te wysig, nie ’n verpligte belegging in voorgeskrewe bates behels nie.

Voorheen is gevrees dit is wat met die staat se plan bedoel word om aftreefondse in staat te stel om meer in infrastruktuur te belê.

LEES OOK: Só kan ANC-plan jou aftreegeld raak

“Dit het niks te doen met die omstrede voorstel wat aftreefondse sal dwing om in spesifieke instrumente te belê wat deur die regering goedgekeur is nie. Dit is ’n verligting, want daar is voldoende bewyse dat die vorige voorgeskrewe bates-regime in Suid-Afrika wat tot in die 1980’s geduur het, tot beduidende geleentheidskoste vir beleggers gelei het.”

Hy sê die doel van regulasie 28 is eerder om beleggers te beskerm teen onvoldoende diversifikasie in hul beleggingsportefeuljes.

“Tesame met ander bateklasse soos effekte, aandele en eiendom, bied infrastruktuur lede in aftreefondse ordentlike diversifikasie, veral in die konteks van hoe betreklik klein die plaaslike aandelemark is.”

“Dit is omdat infrastruktuurbates minder wisselvallig is as aandele en ’n gebrek aan korrelasie toon met tradisionele bates soos eiendom. Boonop kan infrastruktuur op die lange duur, as die transaksies reg gestruktureer en bestuur word, opbrengste lewer wat inflasie kan klop.”

Boonop help die projekte ook om werk te skep en sodoende word die ekonomie gehelp.

“Die voorstel is tydig gegewe die noodsaaklikheid om ekonomiese groei te stimuleer ná die resessie wat in 2020 deur die inperking veroorsaak is.”

Private ekwiteit word groter

Nog ’n wysiging is dat die bateklas in “verskansingsfondse, private ekwiteit en enige ander bates wat nie reeds gelys is nie”, opgedeel word.

Die idee met die losstaande bateklasse is bedoel om verder die finansiering in infrastruktuur te verbeter.

Elkeen kry sy eie perk en private ekwiteit s’n is verhoog.

“Dit sal private ekwiteit ’n bateklas op sy eie maak met sy eie spesifieke limiet.”

’n Aantal studies dokumenteer die aanloklikheid van private ekwiteit en infrastruktuurprojekte, volgens tesourie. “Die studies het bevind dat private-ekwiteit-beleggings in infrastruktuurprojekte ’n positiewe impak het en sal help om die projek se risiko tussen die borge van die projek te deel.”

Tans is die hele bateklas se perk 15% en private ekwiteit en verskansingsfondse het elk ’n perk van 10%.

Nou dat dit van mekaar geskei is, gaan private ekwiteit verhoog word tot 15%. Verskansingsfondse bly onveranderd op 10%.

Kommentaar is gevra oor die definisie en verandering in die bateklasse asook die persentasie-perke wat vir elkeen voorgestel word.

Die definisie van verskansingsfonds kry ’n onverwante wysiging.

Meer oor:  Aftreegeld  |  Aftrede  |  Regulasie 28  |  Infrastruktuur  |  Pensioenfondse  |  Aftreebeplanning
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.