Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
6 stappe om jou aftree-bestemming te bereik
Schalk Louw

Die reis na aftrede gaan gepaard met ’n klomp opofferings, maar as jy sorg dat jy die volgende ses punte behaal het, sal die bestemming die moeite werd wees.

Hoe weet jy egter jy is op koers?

Die aanname is altyd dat mense voorsiening moet maak vir 75% tot 80% van hul salaris in hul laaste werkjaar tydens aftrede. Hierdie inkomste-vervangingsverhouding moet gebruik word as ’n voldoende beginpunt om te bereken hoeveel jy nodig het om af te tree sodat jy jou bestaande lewenspeil kan handhaaf.

Dié syfer kan egter deur so baie veranderlikes geraak word dat dit uiters moeilik is om die werklike bedrag te bereken. Hoewel dié syfer miskien jou “bestemming” is, is dit selfs belangriker om te bepaal waar jy jou op die pad na aftrede bevind.

Ek reken dat jy na aan aftrede is as die volgende ses punte stewig gevestig is:

  

1. Jy is skuldvry

Wanneer jy gereed is vir aftrede, moet jy verkieslik ook skuldvry wees.

Dit is ’n onderwerp wat ek al talle kere bespreek het. Dit maak op lang termyn ’n groot verskil op lang termyn as jy ’n bietjie meer op jou uitstaande skuld afbetaal. Wanneer jy gereed is vir aftrede, moet jy verkieslik ook skuldvry wees.

  

2. Jy het ’n noodfonds

Só nou is jy skuldvry, maar wat doen jy as jy skielik ’n enorme finansiële terugslag ondervind? Ongelukkig sal talle individue dan weer soos voorheen nuwe skuld aangaan. Om dit te vermy, raai ek aan dat jy tien maande se netto inkomste as ’n veiligheidsnet in ’n spaarrekening stort vir moontlike onvoorsiene uitgawes of lewensgebeure.

  

Jy moet ideaal gesproke sonder skuld en met ’n noodfonds aftree. Foto: iStock

3. Jy spaar die maksimum vir aftrede

Die huidige maksimum kumulatiewe belastingaftrekking op aftreegelde (soos ’n pensioenfonds en uittree-annuïteit) is 27,5% van jou belasbare inkomste of ’n jaarlikse maksimum van R350 000.

Uit ’n belastingoogpunt is dit steeds een van die doeltreffendste maniere om vir jou aftrede te spaar. As jy in die bevoorregte finansiële posisie is dat jy reeds die maksimum bedrag tot jou aftrede bydra, doen jy beslis ’n groot stap in die regte rigting op pad na jou aftreebestemming.

  

4. Jy het ’n gediversifiseerde portefeulje

Hoewel dit altyd belangrik is om te verseker dat jou portefeulje behoorlik in die verskillende bateklasse gediversifiseer is, raak dit al hoe belangriker hoe ouer jy word omdat jou behoeftes en risikoprofiel kan verander. Sorg dat jy minstens een keer per jaar met jou finansiële adviseur gesels om te bepaal of jou beleggingsdoelwitte steeds ooreenstem met jou risikoprofiel en die samestelling van jou portefeulje.

  

5. Jy weet wat jou persoonlike netto batewaarde is

Ek gebruik die gesegde dikwels: “As jy dit kan meet, kan jy dit bestuur.”

Stel ’n lys op van al jou bates en laste om presies “te meet” hoeveel jy finansieel werd is. Uit ’n praktiese oogpunt word daar aanbeveel dat jy minstens 12 keer jou jaarlikse salaris in bates/beleggings belê moet hê, en sommige meen dat dit selfs 17 keer moet wees, weens die laegroei-omgewing.

Die belangrikste faktor is egter om dit op ’n gereelde grondslag te evalueer om te sien of dié syfer steeds voldoende is.

  

6. Jy speel al hoe meer

Dit sal van individu tot individu verskil, maar die feit bly staan dat as dié tydverdryf of sport (fisiek of intellektueel) al hoe meer van jou tyd in beslag neem, jy beslis so te sê gereed vir aftrede is.

Sorg net dat jy jou huiswerk behoorlik gedoen het met betrekking tot punte 1 tot 5 voordat jy begin “speel”.

Onthou dat die reis na aftrede nie altyd maklik gaan wees nie. Dit gaan gepaard met talle opofferings, maar die bestemming sal dit uiteindelik die moeite werd maak. Beloon jouself tydens die reis met tussentydse belonings soos ’n lekker vakansie wanneer jy sekere doelwitte bereik het. Ons het almal net een reis, sorg dus dat dit suksesvol is en dat jy dit geniet.

  • Schalk Louw is ’n portefeuljebestuurder by PSG Wealth.

Dié artikel is ’n uittreksel uit ’n artikel in die 24 Augustus-uitgawe van Finweek, wat nou op die rakke is. Ook in hierdie uitgawe:

  • Verbreek só Eskom se monopolie
  • Waarom Suid-Afrika agter is met die ontwikkeling van slimstede
Meer oor:  Finweek  |  Schalk Louw  |  Aftreebeplanning  |  Aftrede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.