Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
Aftrede: Is daar hoop vir volgende generasies?
geldsake
As jy ná 1 Maart 2019 aftree en nie kies wat van jou aftreegeld word nie, sal dit in jou pensioenfonds se verstekopsie belê word. Foto: Pixabay

Mense wat advies kry oor hul aftreegeld wanneer hulle van werk verander, is minder geneig om die geld in kontant te onttrek as wanneer dit net outomaties uitbetaal word.

Daar is baie tentatiewe aanduidings dat die nuwe regulasies wat sedert 1 Maart ingefaseer word, die bedoelde uitwerking het, sê David Gluckman, hoof van spesiale projekte by Sanlam Werknemervoordele.

Gluckman sê in die algemeen onttrek méér mense as voorheen hul aftreegeld wanneer hulle bedank. Hy skryf dit aan die swak ekonomie toe.

Dit kan wees dat mense nie weer ’n werk met ’n pensioenfonds kry nie, of dalk glad nie weer werk kry nie, of dat baie skuld het wat hulle eers wil delg.

Mense wie se pensioenfondse egter reeds die verpligte adviesdienste ingestel het, is merkbaar meer geneig om hul aftreegeld óf binne die fonds te los óf na ’n bewaringsfonds of nuwe pensioenfonds oor te dra wanneer hulle bedank. Wetlik mag mense voor aftrede nog die volle bedrag onttrek, hoewel hulle ’n groot hap daarvan aan Jan Taks moet betaal.

Die nuwe regulasies, wat pensioenfondse tussen nou en 1 September in werking moet stel, vereis dat fondse ten minste op kritieke punte raad aan hul lede oor hul aftreegeld verskaf. Dit geld wanneer hulle bedank of aftree.

Fondse moet ook verstekopsies – opsies wat outomaties gekies word indien lede nie self ’n ander opsie kies nie – daarstel. Dit sluit in ’n bewaringsfonds waarheen jou geld sal skuif – sonder enige koste – wanneer jy bedank indien jy nie kies om dit te onttrek nie.

Dié fonds moet dieselfde basiese kostestruktuur en beleggings bied as jou pensioenfonds; jy word basies net ’n opbetaalde lid van jou pensioenfonds.

Redes waarom mense nie genoeg geld het wanneer hulle aftree nie:
  • Hulle onttrek hul pensioenfondsgeld, of ’n deel daarvan wanneer hulle van werk verander.
  • Hulle dra nie genoeg by nie.
  • Hulle behoort nie lank genoeg aan ’n pensioenfonds nie (onder meer weens ’n onderbreking van hul werkloopbaan, om welke rede ook al).
  • Hulle tree te vroeg af.

Viresh Maharaj, hoof van korporatiewe verkope en bemarking van Sanlam Werknemervoordele, sê die versuim om aftreegeld te bewaar bly die enkele grootste rede waarom mense te min geld het om finansieel sorgvry te kan aftree.

En dis jong mense wat dié boodskap moet kry. Selfs al is daar op die oog af min geld in hul pensioenfonds wanneer hulle in hul 20’s of 30’s van werk verander, is dit juis daardie bietjie geld wat oor ’n tydperk van 30, 40 jaar verseker dat mense met finansiële sekerheid kan aftree.

“Samestelling (van opbrengs) werk net as jy jouself tyd gee om saam te stel,” sê Maharaj.

Sanlam Werknemervoordele se inligting oor die voordele van advies op die bewaring van aftreegeld strek verder as die nuwe regulasies omdat dié maatskappy reeds verlede jaar begin het om gratis adviesdienste beskikbaar te stel vir die sambreelfondse en onafhanklike pensioenfondse wat hy bestuur. Nagenoeg 80% van die onafhanklike fondse het besluit om die dienste te gebruik.

Maharaj sê dit is uiters kommerwekkend dat nagenoeg 400 pensioenfondse uitstel vir die inwerkingstelling van die nuwe regulasies gevra het.

Lees ook: Nuwe reëls oor aftreegeld is goeie nuus vir jou

Die onderhandelinge tussen die bedryf en die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FCSA, voorheen die Raad op Finansiële Dienste) oor die nuwe regulasies kom al derjare aan – die eerste konsepregulasies is in Julie 2015 uitgereik – wat beteken die trustees en administrateurs van dié fondse het proaktief niks gedoen om daarop voor te brei nie.

Die kommer oor fondse wat effektiewelik gesit en slaap het, beteken die behaling van die hoofdoelwit van die regulasies – om te verseker dat mense met pensioenfondse ’n beter aftrede kan geniet – word uitgestel.

Die fout lê egter nie net by pensioenfondse nie, maar ook by die lede.

Maharaj sê hul dieptegesprekke die afgelope ruk met werknemervoordele-konsultante wys daarop dat mense steeds nie self verantwoordelikheid vir hul finansiële reis na aftrede neem nie. Hulle bly onbetrokke by hul pensioenfondse en maak keuses sonder om die gevolge daarvan in ag te neem.

Mense begin eers op 50 of later die vraag vra of hulle genoeg geld het om af te tree. Sanlam se Benchmark-navorsing dui daarop dat die meerderheid lede van pensioenfondse net twee jaar voor aftrede ’n finansiële adviseur gaan sien. Dan is dit kwalik betyds om meer vir hul aftrede te begin spaar indien die somme nie wil klop nie.

Jocelyn Hathaway, waarnemende uitvoerende hoof van Sanlam Werknemervoordele, sê hulle doen ’n ernstige beroep op die FSCA om op lang termyn te monitor of die regulasies die bedoelde uitwerking het.

Die regulasies plaas ’n enorme finansiële en administratiewe las op pensioenfondse, werkgewers en versekeraars, maar die bedryf ondersteun dit in die algemeen indien die doelwit behaal kan word om vir meer mense finansiële sekerheid te bewerkstellig.

  • Sanlam Werknemervoordele het die opmerkings in ’n voorlegging in aanloop tot die uitreiking van Sanlam se Benchmark-verslag vir 2019 gemaak. Die verslag, wat gegrond is op onderhoude en peilings onder pensioenfondslede en konsultante in die pensioenfondsbedryf, word amptelik in Junie uitgereik.
Meer oor:  Sanlam  |  Aftrede  |  Beleggings  |  Geldsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 1375,9 (-3901)
  • Top 40 48427,67 (13755)
  • All Share 54423,55 (15232)
  • Resource 10 42754,47 (37147)
  • Financial and Industrial 30 72753,67 (6357)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.