Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
Aftrede: Kop in die sand gaan nie help nie

’n Mens kan dit al uit jou kop uit opsê: Suid-Afrikaners spaar te min vir hul aftrede; net 5% tot 7% kan gerieflik aftree; begin van jongs af spaar om die krag van saamgestelde rente te benut; werk so lank as moontlik; moenie jou pensioengeld onttrek as jy van werk verander nie.

business, savings, annuity insurance, age and peop
Moenie wag tot die dag dat jy moet aftree om besluite oor jou geld te neem nie. Foto: iStock

Daar is talle ander bewegende dele in die hele aftrede-masjien: tradisionele fondsbestuurders se koste versus nuwe finansiële tegnologie wat laer koste belowe; die debat oor aktiewe of passiewe fondse; belasting; lewende annuïteite waarvan die geld te gou kan opraak as jy aan die begin te veel onttrek, versus gewaarborgde lewensannuïteite wat jou tot jou dood toe versorg maar niks vir jou kinders laat erf nie.

Dan nog die knaende pleidooi om ’n finansiële adviseur te vind (wat jou nog ’n paar rand gaan kos) en nie aftreebeplanning op jou eie aan te durf nie.

Vir die meeste mense is dit wel raadsaam om ’n betroubare finansiële adviseur te kry wat jou kan help kies uit die duisende opsies van voor-aftrede-beleggingsplanne en ná-aftrede-pensioenplanne.

Vir baie mense is die blote vind van daardie ontwykende adviseur opsigself ’n uitdaging, en daar is dalk ’n sakegeleentheid hier – ’n diens om die koring van die kaf te skei.

Daarby kom demografiese en breë ekonomiese faktore wat jou aftreeplan kan ontwrig. Stygende lewenskoste – van brandstofpryse tot eiendomsbelasting, watertariewe, kragtariewe en skoolfonds – beteken vuisvoos verbruikers het bloot nie ekstra geld oor om vir hul aftrede te spaar nie.

Wenke as jy vir aftrede spaar

Old Mutual gee die volgende wenke oor spaar vir aftrede:

1. Begin vandag. Kyk waar jy uitgawes kan sny en belê daardie geld.

2. Verhoog jou bydrae tot ’n aftreefonds sodra jy ’n verhoging kry.

3. Verhoog jou bydrae weer sodra jy bevorder word of ’n nuwe werk met ’n hoër salaris kry.

4. Sit ’n enkelbedrag by jou aftreegeld sodra jy jou bonus kry.

5. Met die nuwe belastingjaar wat op 1 Maart aanbreek, maak seker jy het die volle belastingvoordeel vir aftreespaargeld benut.

Werk langer?

Die koortjie oor mense wat langer sal moet werk om hul aftrede te kan bekostig, raak van sy wysie af te midde van maatskappye wat weens ekonomiese druk gereeld herstruktureer en vroeë aftreepakkette aanbied. Jy wil langer werk om jou aftrede te kan bekostig, maar jou werkgewer wil so gou as moontlik van jou ontslae raak.

Hier is Suid-Afrikaners in ’n penarie, want anders as lande soos Amerika of Japan is daar nie juis ’n kultuur om die kundigheid van ouer mense in die werkplek te koester nie.

Die fokus is eerder op die reuse-werkloosheid onder jong mense, so hulle kry voorkeur.

Fran Troskie, beleggingsontleder by RisCura, sê dit lyk of die huidige arbeidsmark die waarde van ouer werkers onderskat. In ’n land met stygende jeugwerkloosheid weet ouer mense dis hoogs onwaarskynlik dat hulle elders sal werk kry as hul werkgewers hulle uitskop.

Fran Troskie, beleggingsontleder by RisCura.

Troskie wys op die werkloosheidskoers van 39% onder jong Suid-Afrikaners, aldus Statistieke Suid-Afrika se kwartaallikse arbeidsmagpeiling van Oktober verlede jaar. Byna vier uit elke tien jong mense is sonder werk, maar ook nie besig met onderwys of opleiding nie. Dit maak die vooruitsig vir nuwe werk vir mense na aan aftrede skraal.

Suid-Afrikaners is egter nie alleen in hul aftrede-krisis nie. Bloomberg wys in ’n onlangse meningstuk dat selfs in Amerika kan al hoe meer mense dit nie meer bekostig om af te tree nie. Danksy Amerika se vryer arbeidsmark bly ouer Amerikaners toenemend langer in die werkplek. Die druk op ouer Amerikaners om langer aan te hou werk sal net toeneem, meen Bloomberg.

Baie het hul aftreegeld verloor in die behuisingskrisis van 2008 en 2009, of hulle het nie genoeg gespaar nie, of hul kinders verdien nie genoeg om hulle te ondersteun nie.

Amerikaanse vroue kry minder kinders. Sowat ’n dekade gelede was die geboortekoers 2,1 kinders per vrou – die koers wat vir langtermynbevolkingstabiliteit nodig is. Dit het teen 2016 tot 1,8 gedaal, wat dui op ’n krimpende bevolking op lang termyn.

Ondanks die noodkrete uit omgewingskringe vir kleiner bevolkings om die druk op die aarde se beperkte hulpbronne te verlig, beteken dit ’n kleiner poel van werkende jong mense wat afgetredenes kan ondersteun.

Dis minder geld wat na aftree- en mediese fondse gaan, wat sal lei tot laer voordele of al hoe groter tekorte.

Die ekonoom Lyman Stone verwag dat Amerika se geboortekoers tot so laag as 1,5 of 1,4 kan daal – dieselfde vlak tans in Japan en sekere Europese lande – want dit raak al hoe duurder om kinders groot te maak. Mense moet langer studeer om in die werkplek te kan meeding. Hulle stel dit dus langer uit om kinders te kry.

Amerika kan dus dieselfde paadjie as Japan volg waar ’n ouerwordende en krimpende bevolking die regering dwing om gereeld die verpligte aftree-ouderdom te verhoog, aftreevoordele te verlaag en belasting op die werkende bevolking te verhoog.

Maar nie almal wil werk totdat hulle dood neerslaan nie.

Troskie wys op die grootskaalse ontevredenheid onder Brasiliane en Italianers toe hul regerings die aftree-ouderdom verhoog het.

Die oplossings is nie eenvoudig nie. Troskie meen die aftreebedryf en die regering moet ’n beleid skep wat pensioenfondstrustees en beleggingskonsultante aanmoedig om seker te maak dat:

  • pensioenfondslede hul hele loopbaan lank goeie finansiële opvoeding kry;
  • pensioenfondslede teen die tyd van hul aftrede toepaslike opsies gebied word rakende annuïteite; en
  • die modelle vir aftreefinansiering toepaslik is.

Die regering behoort te herbesin oor hoe hy gryskrag benut. Groter klem op vaardigheidsoordrag van oueres na jongeres sal welkom wees, sê Troskie. Ervare ouer werkers kan op ’n tydelike grondslag by opleidingskolleges aangestel word en hulle kan by mentorskapprogramme betrek word.

Te min

Maar terug by die ander wrede werklikheid van te veel Suid-Afrikaners wat te min vir hul aftrede spaar.

Marwan Abrahams, hoofbestuurder van Old Mutual Personal Finance, sê die gemiddelde netto pensioenvervangingskoers van Suid-Afrikaners is tans net 17%, terwyl dit eintlik rondom 75% behoort te wees. Dit beteken Suid-Afrikaners gaan net 17% van hul laaste salaris kry wanneer hulle aftree as almal se aftreegeld gelykop tussen almal verdeel word - dis nou as volhoubare onttrekkings gedoen word.

Hoeveel is genoeg?

Probeer om 10 tot 14 keer jou jaarlikse salaris gespaar te hê teen die tyd dat jy op 65 wil aftree. Dit sal sorg vir ’n pensioen van minstens 75% van jou salaris, sê Abrahams.

Die Mercer-pensioenindeks van 2018 wys Suid-Afrikaners kry gemiddeld die laagste pensioen onder lande met ’n werkende pensioenstelsel.

Hoewel huidige hervormings mense wil dwing om hul aftreegeld langer te spaar voordat dit gebruik word, is mense se spaarvlakke reeds laag.

Old Mutual se Corporate Retirement Monitor van 2017 wys die aantal werknemers wat beoog om hul aftreegeld te bewaar wanneer hulle bedank, het drasties gekrimp. Tot 35% van hulle sê hulle sal waarskynlik hul aftreegeld in kontant omsit wanneer hulle bedank, teenoor 19% in 2012.

“Dis veral kommerwekkend as jy sien 40% van stedelike werkende Suid-Afrikaners het geen formele aftreeplan nie, volgens die 2018 Old Mutual Savings and Investment Monitor.”

Die regte opsie

Baie mense se aftreegeld raak op voordat hulle sterf want hulle het ’n lewende annuïteit gekies en aan die begin van hul aftrede te veel daaruit onttrek.

As jy verwag om ouer as 80 te word, is dit dalk beter om ’n gewaarborgde lewensannuïteit te koop wat met inflasie tred hou. Aftreeprodukte raak al hoe meer gesofistikeerd, so ’n finansiële adviseur kan help kies aan ’n kombinasie van ’n lewende annuïteit en ’n gewaarborgde een.

Neem verantwoordelikheid en stel vandag ’n plan op sodat jy môre in vrede kan slaap oor jou geldsake, sê Abrahams.

Meer oor:  Aftrede  |  Aftreebeplanning
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.