Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
Aftrede midde-in ’n storm: Wat jy moet weet
business, savings, annuity insurance, age and peop
Dit klink soos die slegste tydsberekening ooit om nou te moet aftree. Foto: iStock

Dit klink soos die slegste tydsberekening ooit om nou te moet aftree.

Baie mense soos dié by Telkom, Massmart, die Edcon-groep, Standard Bank, MultiChoice, die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) en ’n hele paar ander Suid-Afrikaanse ondernemings het egter nie veel van ’n keuse nie en word bykans gedwing om vroeë aftreepakkette te aanvaar in ’n markomgewing waarin die aandelemarkte die skerpste in dekades getuimel het en rentekoerse boonop ook verlaag is – alles weens die impak van die Covid-19-pandemie.

Maar Andrew Davison, hoof van advies by Old Mutual korporatiewe konsultante, meen dis nie noodwendig ’n verlore saak nie. Hopelik het die meeste werkgewers se pensioenfonds ’n lewensfase-model waar mense se geld stelselmatig na meer konserwatiewe portefeuljes geskuif word namate hulle aftrede nader. Baie mense wat nou aftree, se beleggings is dus in ’n mate reeds beskerm teen ’n skerp afswaai, en hulle ervaar nie noodwendig dieselfde waardeverliese as wat jonger pensioenfondslede ervaar wie se portefeuljes in hoërrisikobates is nie.

Aftrede is nie die einde nie

Davison meen mense moet boonop nie aftrede as die einde van hul beleggingsreis beskou nie. Teen 65 het jy heel moontlik nog ’n goeie 20 jaar oor om te leef, so jou beleggingshorison is ook so lank, en dis veral belangrik vir mense wat ’n lewende annuïteit gekies het wat van ’n beleggingsopbrengs afhanklik is.

Al het jy dus nou nie meer argumentsonthalwe R1 miljoen om mee af te tree nie maar net R900 000, het jy nou ’n laer vertrekpunt en ’n goeie kans om dit oor die volgende vyf jaar op te maak.

Verander jou planne en sny uitgawes

Davison waarsku mense moet wel nou aanpassings maak en bereid wees om opofferings te maak. “Planne verander. As jy beplan het om jou toegelate belastingvrye R500 000 by aftrede te gebruik vir ’n groot uitgawe, sal jy maar nou jou plan moet hersien en eerder daardie geld in jou aftreeportefeulje los.”

Mense wat nou aftree sal moet kyk waar hulle hul besteding kan inkort en hoe hulle op minder per maand kan oorleef.

“ ’n Mens kan niks doen aan die markte wat ineenstort nie, maar jy kan ingryp by die dele van jou lewe waaroor jy wel beheer het, soos jou uitgawes. Dit geld ook mense wat reeds afgetree het en jaarliks ’n sekere persentasie geld uit hul aftreekapitaal onttrek om van te leef. As jy voorheen 6% of 7% onttrek het, moet jy kyk of jy vir ’n paar jaar eerder net 4% of 5% kan onttrek.”

Davison sê mense wat nou sou aftree en wel in staat is om hul aftrede uit te stel, moet dit probeer doen. “Stel jou aftrede vir drie tot vier jaar uit as jy kan. Maar as jou maatskappy jou uitskop, probeer dan ’n tweede loopbaan, ’n aanvullende inkomste, al is dit ’n kleiner inkomste as waaraan jy tot dusver gewoond was.”

Benut die lae mark vir winskopies

Davison meen mense moet sover as moontlik probeer om nie geld uit die markte te haal nie. Mense wat wel ekstra kontant het, moet aan die ander kant nie in die versoeking kom om groot risiko’s te neem en op groot skaal winskopies in die mark te probeer opraap nie, want niemand weet of die mark nie met nog 15% of meer kan ineenstort nie. Hy meen dis wel raadsaam om oor ’n tydperk bietjies-bietjies geld in die aandelemark te sit, juis weens die huidige geleenthede vir winskopies. Mense wat nog nie aftree nie, kan dit doen deur ’n groter vrywillige bydrae tot hul pensioenfonds, of om 15% tot 20% van ’n bonus by hul uittreeannuïteit te voeg.

LEES OOK: Covid-19: Moenie ophou begroot, spaar vir aftrede

Finansiële adviseurs

Christelle Louw, adviserende vennoot by Citadel, waarsku mense moenie nou die aandeleblootstelling van hul aftreegeld verminder nie, want dit beteken hulle realiseer die markverliese en kan nooit weer daardie geld terugkry nie. Haar advies is dat mense wat nou aftree eers behoorlik moet gaan sit en uitwerk wat al hul bates is, hoeveel skuld hulle nog het, watter uitgawes hulle kan sny.

Sy gee die volgende wenke wat finansiële adviseurs betref:

Kry ’n betroubare finansiële beplanner. Kry verwysings na goeie beplanners van oudkollegas wat reeds afgetree het of van vriende wat jy weet finansieel gesond is.

Bespreek met die beplanner al die opsies van aftreeprodukte of die kombinasies daarvan, van ’n lewende annuïteit, lewensannuïteit, tot ’n winsgekoppelde annuïteit.

Die adviseur moet weet hoe werk die oordragproses van jou pensioenfonds na ’n aftreeproduk, want as dit verkeerd gedoen word, kan dit ook kapitaal vernietig.

Die rol van kontant en effekte

Maarten Ackerman, hoofbeleggingstrateeg by Citadel, sê jy kan die kontant in jou aftreeportefeulje gebruik om van te leef oor die volgende drie jaar. Dan hoef jy nie jou groei-georiënteerde bates soos aandele te verkoop op die slegste tyd denkbaar nie.

Dit koop ook tyd vir jou groeibates om deur die laagtepunte en wisselvallighede van die mark te kom voordat jy aan daardie bates hoef te raak.

Hy stem ook saam met Davison dat mense met nuwe kontant dit kan oorweeg om dit drupsgewys in die mark te stoot om die winskopies te benut.

Ackerman is nie bekommerd oor die huidige laer rentekoerse nie, want inflasie is ook laag.

Boonop bied Suid-Afrikaanse vasterentebeleggings soos effekte juis nou uitstekende dubbelsyfer-opbrengste in reële terme. Dit is van die hoogste in die wêreld. Noudat Moody’s Suid-Afrika klaar afgegradeer het, is ’n groot mate van die risiko van kapitaalverliese verby vir nuwe beleggings in dié soort bates, sê Ackerman. Die opbrengskoerse en pryse van effekte is omgekeerd in verhouding tot mekaar. As pryse daal styg die opbrengskoerse en andersom. Weens die rommelstatus is effektekoerse hoër, maar beleggers kan die effekte opraap teen laer pryse.

Boonop is dit ’n bate waarop daar nie belasting betaalbaar is op die rente wat daaruit verdien word as dit gekoop word as deel van ’n aftreeproduk nie.

LEES OOK: Vermy lewende annuïteite tensy...

Watter annuïteit?

Mense soos Wynand Gouws, welvaartbestuurder van GM Investments, en Deane Moore, uitvoerende hoof van die aftreespesialisfirma Just, maak ’n sterk saak uit vir gewaarborgde lewensannuïteite vir mense wat nou aftree.

Baie Suid-Afrikaner sukkel met skuld.

Gouws wys daarop dat die opbrengste van gewaarborgde annuïteite 20% beter is as voor die huidige markineenstorting, juis danksy die feit dat Suid-Afrikaanse effekteopbrengskoerse van 9,5% tot bo 11% geklim het.

Moore meen mense moet aftreespaargeld beskou as twee potte of flesse. In die een fles moet daar genoeg geld wees vir jou maandelikse, noodsaaklike lewensbehoeftes soos kos, verblyf, mediese uitgawes, vervoer, versekering. Jou inkomste moet dié uitgawes kan dek ongeag hoe die beleggingsmarkte vaar of hoe lank jy leef. Hiermee moet jy nie risiko’s waag nie.

Die ander pot is vir bates waarmee jy risiko’s kan waag en moet gebruik word vir diskresionêre uitgawes. Jy moet dit kan bekostig om tydens ’n markineenstorting minder van dié pot te gebruik.

Moore meen ’n lewensannuïteit is ’n ideale manier om vir die eerste pot te sorg, terwyl lewende of winsgekoppelde annuïteite ideaal is vir die tweede pot.

Meer oor:  Pensioengeld  |  Aftreegeld  |  Aftrede  |  Finansies  |  Spaargeld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.