Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aftrede
Aftrede: SA’ners diep in die knyp

Byna die helfte van Suid-Afrikaners wat meer as R8 000 per maand verdien, spaar nie ’n sent vir hul aftrede nie.

Suiid-Afrikaners spaar hopeloos te min vir hul aftrede. Foto: Pixabay

Die jongste 10X Retirement Reality-verslag toon 49% van sowat 15 miljoen ekonomies aktiewe Suid-Afrikaners in dié inkomstegroep het geen aftreeplan nie. In 2019 was dit 46%.

Net 6% van die respondente het ’n weldeurdagte aftreeplan, blyk uit die 2020-verslag. Die tesourie het ook bevind net 6% van Suid-Afrikaners is op koers om met genoeg geld te kan aftree.

“Ons weet lankal dat droewige aftreevooruitsigte die meerderheid Suid-Afrikaners in die gesig staar,” sê Chris Eddy, hoof van beleggings by 10X Investments.

Maar die situasie is vanjaar erger weens die uitwerking van Covid-19. 56% van deelnemers aan die peiling sê daar is aan die einde van die maand eenvoudig niks oor om vir aftrede te spaar nie.

Vir vroue is die situasie selfs erger. Na raming is tot die helfte van vroue in die land enkelouers wat geen finansiële ondersteuning van hul kinders se pa’s kry nie. Boonop verdien vroue ongeveer 30% minder as hul manlike eweknieë, sê Statistieke Suid-Afrika. Verlede jaar was dit 23% minder.

Die aftreepeiling toon 53% van vroue (teenoor 45% van mans) het nie ’n aftreeplan nie, vergeleke met 51% verlede jaar. Dis veral kommerwekkend omdat vroue meestal langer as mans leef en hul aftreebeplanning dikwels onderbreek word as hulle swanger raak.

Die peiling toon vroue wat wel geld opsy sit, spaar dit in kontant en nie in beleggingsportefeuljes wat hoër opbrengste lewer nie. Slegs 13% van vroulike deelnemers, teenoor 22% van die mans, het gesê hul geld is in groeiportefeuljes belê.

Dit blyk voorts meer mense as verlede jaar het hul aftreegeld laat uitbetaal. In 2019 het net meer as die helfte van deelnemers aan die peiling wat aan hul maatskappye se aftreefondse behoort het, hul geld laat uitbetaal. Dit het geklim tot 62%.

“Die pandemie het baie mense finansieel gesproke oor die rand van die afgrond gestoot. Met werksverliese en inkomste wat besnoei is, was pensioengeld vir diegene met aftreeplanne die enigste bron van inkomste,” lui die verslag.

Mense besef nie aftrede is onafwendbaar nie. Dis nie ’n keuse in ’n land waar werkloosheid om en by 30% is nie.
Chris Eddy

Die gebrek aan aftreebeplanning in Suid-Afrika is nie beperk tot lae-inkomstegroepe nie. Daar is ’n algemene gebrek aan spaardissipline en onkunde wat oor alle inkomstegroepe heen strek, sê Eddy.

Altesame 29% van deelnemers aan die peiling wat aangedui het hulle het wel geld om aan die einde van die maand vir aftrede te spaar, sê dit is nie nou ’n prioriteit nie.

Dit toon baie Suid-Afrikaners gee voorkeur aan hul huidige leefstyl ten koste van hul aftrede.

Mense besef ook nie dis nodig dat hulle oor ’n lang termyn vir aftrede moet spaar om die voordele van saamgestelde rente te geniet nie. 40% van deelnemers sê byvoorbeeld hulle meen hulle kan hul aftrede binne 25 jaar finansier. “Dis onrealisties. ’n Mens sal twee keer soveel moet spaar en reusebesnoeiings moet maak aan jou huidige leefstyl om die tekort (in jare van spaar) aan te vul,” sê Eddy.

Nog ’n wanindruk waaronder baie Suid-Afrikaners verkeer, is dat hulle hul huidige leefstyl ná aftrede sal kan voortsit. 67% van deelnemers aan die peiling dink so. Tog sê 77% van deelnemers hulle sal die een of ander vorm van ekstra inkomste nodig hê wanneer hulle aftree.

“Mense besef nie aftrede is onafwendbaar nie. Dis nie ’n keuse in ’n land waar werkloosheid om en by 30% is nie,” sê Eddy.

Selfs nog voor die pandemie was daar druk op ouer werkers om vroeër af te tree om plek te maak vir nuwe werksoekers.

Meer oor:  Pensioen  |  Aftrede  |  Spaargeld  |  Geldsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.